Die perfekte wegbreekplek in ’n weeelderig ingerigte vraghouer
Dié stylvolle – en ekovriendelike – kothuis is ’n rustige wegbreekplek buite die dorpie Botrivier.
Toe hy afkom op ’n foto van ’n gebruikte vraghouer wat iemand oorsee in ’n leefruimte omskep het, het die idee hom geprikkel – en sy hande het begin jeuk!
“Ek het geheel en al ’n obsessie ontwikkel oor omgeboude vraghouers en die eindelose moontlikhede wat dit bied,” sê Lucas.
Dit was drie jaar gelede. Sedertdien het vraghouer-huise al hoe gewilder geword, veral danksy die bekostigbaarheid en volhoubaarheid van sulke omskakelings. Vraghouers word deesdae nie net vir terreinkantore op boupersele gebruik nie, dit kan ook stylvolle, moderne wonings wees.
Ná heelwat navorsing en beplanning, het Lucas in 2015 die hulp van die volhoubare behuising firma Berman-Kalil ingeroep om die eenheid op sy familieplaas naby Botrivier op te rig. Hy het terstond die nagklub wat hy besit het, verkoop en verhuur nou dié afgesonderde wegbreekplek met sy prentjiemooi uitsig op die dorpie, vallei en rivier.
[KOMBUIS]
In die kombuis het Lucas koste bespaar met bekostigbare melamienkaste en -werkblaaie. Die kaste is geverf met oorskietverf van die dek en buitemure. Vraghouers se vloere is dikwels ongelyk; Lucas het syne met hardebord bedek en toe gelamineerde vinielteëls bo-oor gelê. >> Broodblik van Home etc.; skinkbord van MRP Home; glasvaas, blomme, loof en deken van Woolworths; beker van @home; tafel en stoele van Chair Crazy