Ricotta-vorm met grondboontjie-dukkah
Dié verruklike voorgereg maak jy in ’n japtrap, maar dit lyk o, so indrukwekkend. Hou die ekstra dukkah in ’n lugdigte houer in die spens. Jy kan so baie daarmee doen: Doop vars brood in olyfolie en dan in dukkah vir ’n voorgereg; strooi dit oor oondgeroo
Genoeg vir 1 broodpannetjie Bereidingstyd: 25 minute
• 10–15 sagte Turkse appelkose • goeie heuning • 300ml ricotta • suurlemoensap • ciabatta of soutbeskuitjies vir voorsit GRONDBOONTJIE-DUKKAH • 80ml sesamsaad • 15ml koljandersaad • 5ml komynsaad • 5ml vinkelsaad • 250ml grondboontjies, gerooster en gesout • ’n ruim knypie elk droë tiemie, marjolein en ment • growwe seesoutvlokkies en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 Maak die dukkah Verhit ’n dikboompan en rooster die sesam-, koljander-, komyn- en vinkelsaad saam tot geurig. Hou dop – dit moenie brand nie, net liggies rooster. Sodra jy dit ruik, verwyder die pan van die hitte en voeg die res van die dukkah-bestanddele by. Verwerk alles saam tot ’n speserymengsel met ’n growwe tekstuur en bêre dit in ’n lugdigte houer.
2 Voer ’n klein broodpannetjie uit met kleefplastiek. Pak die helfte van die appelkose in ’n lagie op die bodem van die pannetjie en voeg ’n lepel of twee heuning by. Geur die ricotta met sout, peper en ’n skeutjie suurlemoensap en skep ’n laag bo-op die appelkose. Strooi ’n ruim laag dukkah oor. Pak dan nog ’n appelkoos- en kaaslaag en eindig weer met dukkah. Herhaal met ’n derde laag van elk.
3 Keer die kaasvorm uit op ’n mooi kapplank, bedruip met ekstra heuning, ’n strooisel eetbare blommetjies of vars sagte kruie soos basilie, en sit voor met geroosterde skywe ciabatta of soutbeskuitjies. >>