Koolslaai met grondboontjieslaaisous
’n Goeie koolslaai is ’n lekker vullerbestanddeel in tortillas en broodjies of by braaivleis. Dié een met grondboontjiesous is ’n lekker bykos met rafelvark of viskoekies.
Genoeg vir 6 as bygereg Bereidingstyd: 30 minute Gaarmaaktyd: 10 minute
• 2 klein kopkooltjies, gesnipper • ’n hand vol bros slaaiblare • 2 mediumgroot wortels, in juliennerepies gesny • 8 radyse, dungesny • 200g vars aspersies, met ’n groenteskiller in linte gesny • vars kruie soos koljander, basilie en grasuie
GRONDBOONTJIESLAAISOUS • 30ml sesam- of grondboontjie-olie • 1 klein ui, fyngekap • 1 klein knoffelhuisie, fyngerasper • 2cm vars gemmer, geskil en gerasper • ’n knippie brandrissiepoeier • 5ml garnaalpasta • 125ml onversoete gladde of korrelrige grondboontjiebotter • 30ml ligte sojasous • 15ml vars lemmetjiesap • 5ml heuning (of na smaak) • 200ml klappermelk • sowat 125ml kookwater
1 Maak die slaaisous Verhit die olie oor matige hitte en roerbraai die ui, knoffel, gemmer en brandrissie saam totdat die ui glansend is, maar moenie dat dit verkleur nie. Roer die garnaalpasta by en braai tot geurig. Voeg nou die grondboontjiebotter, sojasous, lemmetjiesap en heuning by en roer tot glad. Hou die hitte laag. Roer dan die klappermelk by en verhit tot deurwarm. Gebruik die water om die dikte na jou smaak aan te pas. Verwyder van die hitte en laat heeltemal afkoel. Proe en pas die geurmiddels aan na smaak (hou in gedagte die geure gaan nie so sterk wees wanneer dit koud is nie). Hou die sous so korrelrig of verwerk dit tot ’n gladde sous met jou staafmenger. Bêre in die yskas tot nodig.
2 Nou vir die slaai Meng die gesnipperde kool en slaaibare met ’n ruim skoot slaaisous en rangskik op ’n mooi dienbord met die res van die slaaibestanddele. Sit ekstra slaaisous apart voor. Hou enige oorblywende sous in die yskas en gebruik binne ’n week.