Maak eers seker
Doretha Kotze van Moorreesburg skryf
In die September 2017-uitgawe was daar ’n inspirerende artikel, “Blyplek in ’n blikhuis”. (Dis verstommend wat vindingryke en kreatiewe mense alles doen!) In die artikel word genoem dat geen munisipale goedkeuring nodig was nie, omdat die struktuur op ’n plaas opgerig is. Dit wek die indruk dat hierdie praktyk vir alle plase geld. Die Nasionale Bouregulasies, soos vervat in Wet 103 van 1977, is egter op alle strukture en grondeenhede van toepassing. Aangesien plaaslike munisipaliteite verantwoordelik is vir die toepassing van die wet, stel ek voor dat lesers die boubeheerafdeling van hul plaaslike munisipaliteit raadpleeg voordat hulle met enige konstruksie begin. Munisipaliteite kan stewige boetes oplê vir ongemagtigde bouwerk en strukture. Probleme kan ook ontstaan by die verkoop van ’n eiendom wanneer die munisipaliteit moet bevestig dat alle strukture daarop voldoen aan alle toepaslike vereistes voordat oordrag kan plaasvind. Boonop is banke en versekeraars lugtig om verbandlenings toe te staan en ’n eiendom te verseker indien strukture op die eiendom nie aan alle vereistes voldoen nie. Ek glo Tuis wil lesers ingelig hou en die korrekte inligting oordra.