#3 Kweek jou vetplante so
Al is vetplante hoe waterwys en taai, hou hulle darem ook van ’n bietjie aandag. Buck gee raad hoe jy jou vetplante gelukkig hou!
Grond
Net soos by enige ander plant is grondvoorbereiding belangrik, veral wanneer jy dit in houers kweek. Kies vooraf verpakte spesiale potplantgrond vir vetplante by ’n kwekery of maak jou eie mengsel met een deel organiese materiaal en een deel poreuse anorganiese materiaal. Vir eersgenoemde is blaargrond, dennebas wat tot kompos verwerk is of bogrond (alles te koop by groot kwekerye) geskik. Gebruik fyn gruis, perliet of belugte kleikorrels as anorganiese materiaal. Indien jy perliet kies, moet jy growwe, gewaste bousand byvoeg vir gewig (nie seesand of silikasand nie – dit sal digte lae vorm en goeie dreinering verhoed). Vul die houer tot net onder die rand. Behalwe dat dit meer afgerond lyk, is halfleë houers geneig om lug vas te vang, wat die perfekte teelaarde vir nadelige goggas vorm.
Water en dreinering
Vetplante hou niks van nat voete nie en moet nooit vir te lank te nat bly nie – hul wortels sal vrot. Maak seker die grond in die houer het goed uitgedroog voor jy weer water gee. Gee ook minder water in die plant se dormante fase (dit is gewoonlik in die winter).
As jy ’n beginner is, gebruik liefs ongeglasuurde terracottapotte as houers. Hulle is poreus en help dat oortollige water vinnig verdamp. Geglasuurde, plastiek- en porseleinpotte kan ook gebruik word, maar wees dan ekstra versigtig dat jy nie te veel water gee nie. Dreineringsgate is natuurlik ’n moet.
Kies ook die kleinste pot wat geskik is vir die grootte van jou plant – te veel nat grond sonder wortels moedig verrotting aan. Die ideale pot is sowat twee sentimeter in deursnee groter as die plant.
Voeding
Voed in die groeifase met ’n verdunde gebalanseerde misstof met ’n lae stikstofinhoud (daar is verskillende middels vir verskillende vetplante – vra jou kweker). Voeg dit by die water elke keer wanneer jy natgooi of gebruik as blaarvoeding. Verdun vloeibare of oplosbare kunsmis tot ’n kwart of die helfte van die gewone sterkte. Kraanwater is gewoonlik te alkalies vir vetplante; maak dit suurder deur 15 ml witasyn by 5 liter water te voeg.
Ventilasie
Moet nooit vetplante in ’n klam en ongeventileerde omgewing plaas nie – ’n gebrek aan goeie ventilasie sal plae lok wat die vlesige blare aanval. Aangesien vetplante se natuurlike habitat droog en warm is, het hulle min weerstand wanneer dié pestilensies toeslaan.
Lig
Die meeste vetplante het genoeg helder lig nodig om ’n mooi vorm te behou en blomme te produseer. Hoewel die meeste ook volson kan hanteer, is daar tog vetplante waarvan die blare in die warm somerson sal brand. Om seker te maak jou vetplant kry die regte hoeveelheid sonlig, begin deur dit in gefiltreerde sonlig te sit en skuif dit geleidelik na volson. Aangesien die blare kan brand en te veel hitte die wortels kan beskadig, sal jou plant gou wys indien hy swaarkry.
Het jy geweet?
Moeder Natuur laat feitlik nooit vetplante verrot as gevolg van reën nie. Ons doen dit met die tuinslang! – Buck
Wolluise, plantluise, rooispinnekop en dopluise is algemene probleme. Keer dat dié parasitiese plae versprei deur miere in jou tuin in toom te hou.