Opknap Victoriaanse en industriële elemente in die Moederstad
’n Stowwerige palet en dekades oue afwerking moes waai sodat Victoriaanse en industriële elemente in volkome harmonie kon saamleef.
’nGoeie skeut waagmoed en idealisme help beslis met ’n omvattende opknapprojek, des te meer wanneer jou nuwe huis nog ’n konstruksieterrein is wanneer jy intrek. Dit sal Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, en Wilhelm van der Hoven, wat in die finansiële bedryf werk, jou gelyk gee.
In Maart 2017 het hulle en hul twee honde sak en pak van Johannesburg af Kaap toe getrek na hul nuwe huis – oftewel, na die twee slaapkamers van hul nuwe huis, want die bouprojek, met Waldimar se tweelingsuster, Ingeborg, as projekbestuurder, was toe maar tien dae aan die gang.
Boonop was dit die eerste keer dat Waldimar ’n voet in die huis gesit het. “Al wat ek gedink het toe ek die bouval sien, was: ‘Ja, wel, ons kan seker iets hiermee doen,’” onthou hy.
Die groot aantrekkingskrag was die sentrale ligging van die eiendom en wat Waldimar “ruimte in stedelike terme” noem, beslis nie die afgeleefde afwerkings soos muur- en matkleure wat hulle onthou as “’n mengsel van stof en babapoef” of die vier boogvormige deurgange tussen beknopte vertrekke nie. Maar tussen die outydse afwerkings was daar ook pluspunte, soos die goeie houtvloere wat hulle kon behou.
Saam met Olaf, hul yslike Deense hond, en Anouk, ’n Weimaraner-Labrador-kruising, het hulle in die hoofslaapkamer (darem met ’n werkende en suitebadkamer!) geleef en geslaap, terwyl al hul meubels in die gastekamer opgestapel en toegesluit is. Intussen moes die gang tussen die twee slaapkamers as tydelike kombuis dien; vir kunswerke en belangrike dokumente het hulle ’n pakkamer gehuur.
’n Argitekvriend het hand bygesit met die finalisering van die planne. En so tussen die ongerief, stofwolke en gedruis wat daarmee gepaard gaan as jy mure uitbreek en aardige afwerkings stroop om ’n moderne blyplek vir die 21ste eeu te skep, het ’n ruim, ligte oopplanlekkerleefhuis begin vorm aanneem.
Die binnehof onder ’n prieel van bloureën en sierdruif (bo) is beskut teen die Kaap se berugte suidoostewind; dis waar Waldimar graag Sondae met sy koerante en boeke uitspan. Mat, kussings, wit lanterns en wit plantpot van MRP Home; stoele van Chair Crazy
Dramatiese verskil
Die oopbreek van ’n klompie kleiner vertrekke – die kombuis, opwaskamer, eetkamer en die enigste ou badkamer – om een enkele ruim oopplan-leefvertrek te skep, het die mees dramatiese verskil gemaak. Dié leefruimte maak nou sowat 75% van die huis se totale oppervlakte uit. “In die eetkamer het ons aan die suidekant ’n klein skuifdeur vervang met ’n staaldeur van 2,8 x 3 meter. In die sitgedeelte is nog twee nuwe groot staaldeure,” verduidelik Waldimar. “Hier is nou soveel meer natuurlike lig en ’n mooi uitsig; ons is dol daaroor.”
Ná drie maande het die boustof letterlik gaan lê. “Teen middel Junie verlede jaar was die projek klaar. Daar is geen manier hoe ons dit sonder Ingeborg sou kon regkry nie. Sy was elke dag daar om seker te maak dinge verloop vlot.”
Vandag is hulle ewe tuis binne en buite hul elegante huis. Die ligging kan nie beter vir hul sportiewe dog stedelike leefstyl nie. “Vredehoek is sentraal met vinnige toegang tot die groot snelweë, maar ook onopgesmuk soos ’n dorpie. Van die voorstoep af sien ons die middestad, maar ons vensters kyk nie in ander geboue vas nie en die veld langsaan laat die agterplaas met ons groentetuin ’n bietjie soos plaas voel. Uit die agterplaas sien ons die berg, waar Wilhelm graag hardloop. Alles is naby – van eetplekke tot die strande. Dit is presies hoe ons wil leef.” >>
Dekordetail
Waldimar en Wilhelm se leefruimte is manlik met industriële kenmerke en ’n moderne interpretasie van Victoriaanse elemente, soos die nuwe dog klassieke badkamer- en kombuiskrane.
As jy hulle pols oor hul dekorkeuses, kom die antwoord vinnig: “Keuses is ’n sterk woord. Al wat ons gekoop het, is ons TV-kas. Ons styl neig na eklekties, want alles kom uit vorige blyplekke of ons ouers se huise. Gelukkig het ons dieselfde smaak. Ons moes van heelwat goed ontslae raak voor ons hier kon intrek. Ek voel sedertdien soveel ligter,” sê Waldimar.
“Ons dekor is nie net generies nie; elke stuk is hier om ’n rede, soos die beesvel op die eetkamervloer, wat ons aan die noordelike dele van die land herinner. Ons al twee is nog baie lief vir Johannesburg, vandaar al die
noordelike elemente in ons dekor.”
Hy erken dat hy “ongetwyfeld obsessief” is oor kontinuïteit, eenvormigheid en aandag aan detail – iets wat hy waarskynlik kleintyd aangeleer het by sy pa, Pieter, ’n argitek.
“Eintlik het alles by die swart staalraamdeure begin. Dit was as’t ware die leitmotif en die inspirasie vir al die ander monochroom elemente – van die spierwit gangmuur en muurteëls en die swart-en-wit foto’s, tot ieder en elke ding wat swart of donkergrys is: die ingeboude kaste, hanglampe, stoof, bedkopstuk en bedlinne, selfs die buiteligte en die Wendyhuis!”