Beesstert-entamatiesous
Met pasta kan jy elke druppel van dié ryk sous benut en die vleis rek om meer mense kos te gee, maar jy kan dit ook met romerige polenta voorsit.
Genoeg vir 4 Bereidingstyd: 40 minute Gaarmaaktyd: 4 uur 30 mintue Oondtemperatuur: 160 °C
• 1kg besstert
• 45ml meel
• 3ml elk komyn en koljander
• 15ml olyfolie
• 1 ui, gekap
• 2 selderystingels, gekap
• 2 wortels, geskil en gekap
• 1 brandrissie, gekap
• 3 knoffelhuisies, gekap
• 125ml rooiwyn
• 1 stuk steranys
• 1 bottel (690g) passata (Italiaanse tamatiesous)
• 250ml beesvleisaftreksel
• 1 bouquet garni
• basilieblaartjies en parmesaan as garnering
• pappardellepasta, gekook tot al dente
1 Voorverhit die oond. Rol die vleis in die meel en speserye. Verhit ’n groot oondvaste pot tot lekker warm, giet die olie daarin en braai die vleis in sarsies tot bruin. Moenie te haastig wees met dié stap nie – die goed gekaramelliseerde vleis gee baie geur aan die eindproduk.
2 Sodra al die vleis mooi bruin is, braai die ui, seldery, wortels, brandrissie en knoffel saam in dieselfde pot tot mooi glansend. Voeg die wyn en steranys by die groente en kook tot met die helfte ingedamp. Skraap enige deeltjies wat aan die bodem kleef los. Skep die vleis terug in die pot en voeg die passata, aftreksel en bouquet garni by. Geur met sout en peper, bedek met ’n styfpassende deksel en sit in die oond vir sowat 3–4 uur of tot die vleis murgsag is en van die been afval.
3 Verwyder die bouquet garni, proe weer vir sout en peper en sit voor met die pasta.
Wenk vir voorsit Die geheim van ’n outentiek Italiaanse bord pasta? ’n Bietjie van die water waarin die pasta gekook is. Só maak jy: Skep ’n porsie van die vleissous in ’n warm pan. Skep nou ’n porsie van die al dente pappardelle met ’n tang uit die pastawater en voeg dit sommer so nat-nat by die pan; skud om die twee goed te laat maats maak. Keer uit in ’n diep pastabord, strooi basilie oor en smul!