Dun hoendersop met spinasiebondeltjies
Die Oosterse bondeltjies is vet pret om te berei, maar dit neem tyd om die voutegniek te bemeester. Ons het die bondeltjies net toegedruk. ’n Sin vir humor is aan te beveel.
Genoeg vir 4 porsies Bereidingstyd: sowat 1 uur Gaarmaaktyd: 1 uur 20 minute
• 15ml sesamolie
• 4 ontbeende hoenderdytjies, in blokkies gesny
• ’n bossie sprietuie, gekap
• 1 duim gemmer, geskil en gerasper
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 1 brandrissie, fyngekap
• 30ml oestersous (of na smaak)
• 100ml gekapte sampioene
• sowat 1,5 liter hoenderaftreksel
• ’n bossie vars koljander, stingels en blare apart gekap
• ’n ruim knypie gedroogde visflenters of 15ml vissous
• 4 mediumgroot murgpampoentjies, met ’n spiraalsnyer in noedels gesny DEEG
• 140g (250ml) meel
• sowat 60–80ml warm water (nie kokend nie) SPINASIEVULSEL
• 5ml olie
• ’n bossie sprietuie, gekap
• 1 brandrissie, gekap
• 1 knoffelhuisie, gekap
• 150g babaspinasie, geblansjeer, drooggedruk en fyngekap
• ’n bossie vars koljander, fyngekap
• sowat 250g mediumvet roomkaas
1 Vir die deeg Roer die water by die meel tot dit te dik is om verder te roer, keer dan uit op ’n skoon oppervlak en knie tot glad (sowat 5 minute). Vorm ’n netjiese bal en bedek met ’n klam vadoek en ’n omgekeerde mengbak en laat rus vir minstens 30 minute by kamertemperatuur.
2 Vir die spinasievulsel Roerbraai die sprietuie, brandrissie en knoffel in die olie tot geurig. Roer die spinasie en koljander by en verwyder van die hitte. Roer die roomkaas by en geur na smaak met sout en peper. Die mengsel moet dik wees, anders sal dit jou bondeltjies pap maak.
3 Maak die sop Verhit die olie en braai die hoender tot goudbruin oraloor. Voeg die sprietuie, gemmer, knoffel en brandrissie by en braai tot geurig. Roer die oestersous en sampioene by en roerbraai tot deurwarm. Giet nou die aftreksel by en geur met die koljanderstingels en visflenters of vissous (al twee dien dieselfde geurdoel en kan ook heeltemal weggelaat word). Bring tot kookpunt, verlaag dan die hitte en laat prut stadig oor matige hitte vir sowat 45 minute. Roer die murgpampoentjienoedels en koljanderblaartjies by en laat prut vir nog 5 minute. Proe of ekstra geurmiddels soos brandrissie, sout of kruie nodig is en pas aan na smaak.
4 Vou die bondeltjies Verdeel die deeg in twee. Werk met een stuk op ’n slag en bedek die res met ’n klam vadoek. Rol die stuk deeg in ’n bietjie meel en vorm in ’n plat reghoek. Span jou pastamasjien in en rol die deeg tot op die tweede laaste stelling uit. Gebruik ’n ronde koekiedrukker (of sommer ’n groot glas) en sny sirkels van 7 cm in deursnee uit die dun deeg. Skep nou sowat 10–15 ml vulsel op elke deegsirkel, vou die sirkel toe in ’n halfmaan en druk met jou vingerpunte die deeg styf teenmekaar rondom die vulsel tot goed verseël. Dis belangrik dat daar geen lug of openinge tussen die vulsel en die deeg is nie. Sit die bondeltjie met die naatrand na bo op ’n skoon, meelbestrooide kapplank neer. Herhaal met die res van die vulsel en deeg tot jy sowat 18 bondeltjies het.
5 Plaas die bondeltjies in sarsies in die sop terwyl dit liggies prut, wag tot dit dryf en laat prut dan vir nog 1 minuut. Skep uit in sopbakkies en herhaal tot al die bondeltjies gaar is. Verdeel dan die sop tussen die bakkies. Strooi ekstra visflentertjies en vars kruie oor as garnering en smul dadelik.