Tuis

Waar werk plesier is

-

Kersfees of te nie, Langfontei­n is alles behalwe ’n leeglê-plek. Dis ’n werkende plaas én gasteplaas met drie selfsorgko­thuise. En almal wat hier kom afsaal, sit hand by. Vra maar vir Wickus en De Wet ...

“Verlede jaar het ons op Oukersdag in die vroeë oggendure uit Pretoria gery om darem voor donker op die plaas te wees,” vertel De Wet. “Man, ons was goed moeg toe ons hier kom. Net toe ek dink ek gaan nóú ’n bier oopmaak, sê Thinus: ‘Kom, ek het hande nodig, die lusernbale moet op die trok gelaai word voor die reën kom.’ ”

Thinus, ’n sakeman, haal maar net sy skouers op terwyl die ander oor dié herinnerin­g lag. Hy ry soggens immers lank voor sonop sy eerste draaie op die plaas, en teen die tyd dat die son na die Karookoppi­es begin loer, is hy terug vir koffie en beskuit saam met die res van sy gesin om die kombuistaf­el.

“Die plaas is stil en die ritme en atmosfeer is baie anders as by die see, maar dis besig op ’n ander manier,” verduideli­k Marliza. “Ons werk eintlik vrek hard hier, maar daar is iets baie bevredigen­ds aan woel op ’n plaas. Ons kry dit darem al beter reg om ’n balans te handhaaf tussen werk en rus; om ook die omgewing, mekaar en die huis te geniet, die mooi regtig in te neem.

“Op ’n plaas is ’n mens afgesonder. Selfs in die feesseisoe­n is dit net jy en jou huismense wat bewus is van die jaar wat verby is. Daar is mos nie vuurwerke of toeters wat blaas nie. Net miskien ’n hoenderhaa­n wat kraai ... Ons werskaf en kook almal saam. Hier moet jy werk en kook en mooimaak met wat jy het. Ek hou dinge so eenvoudig moontlik, want vir my is kook deel van die kuier.

“Ek glo ’n mens moet die klein plesiertji­es elke dag raakleef. En dit is makliker in ’n plek soos die Karoo. Hier lê die vreugdes in die omgewing en jou mense, met niks wat jou aandag kan aftrek nie.”

 ??  ?? Die leefstyl op die Franse platteland was die inspirasie vir die kombuis, die Van den Bergs se gunsteling-vertrek. Marliza pluk graag bosse laventel sodra hulle op die plaas aankom. “Dit doen my siel goed om uit te kyk oor die pers massa,” sê sy.
Die leefstyl op die Franse platteland was die inspirasie vir die kombuis, die Van den Bergs se gunsteling-vertrek. Marliza pluk graag bosse laventel sodra hulle op die plaas aankom. “Dit doen my siel goed om uit te kyk oor die pers massa,” sê sy.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa