Nuut by kwekerye!
Min plante kan kers vashou by Catharanthus roseus as dit kom by sy vermoë om in warm, droë weer te gedy. Nou spog dié staatmaker in ’n nuwe gewaad. Die ‘Tattoo’-reeks het treffende blomme in skakerings van swart kersie, framboos, papaja en mandaryn met swart “ogies”. Die blomblare oorvleuel en elke blaartjie lyk of dit ’n sweempie swart met ’n sagte kwashaal gekry het. Die plant groei bosagtig, sowat 25–36 cm hoog en met heelwat takke wat ’n oorvloed blomme dra. Plant dit in volson om die intensiteit van die blomkleure te beklemtoon. Hoe warmer dit raak, hoe beter vertoon die swart oog. Die plant vra grond wat goed dreineer en moet in die vroeë groeistadium gereeld natgemaak word. Sodra dit gevestig is, kan dit klaarkom met water een keer ’n week.
Let wel Al is die Catharanthus roseus op die indringerlys, is steriele kultivars of hibriede soos dié een nie gelys nie.
KONTAK ballstraathof.co.za