Tuis

My peetkind is bekkig.

- redakteur@tuis.co.za

Sy’s 11, en uit haar mond gaan nog ’n hele boek vol snaaksighe­de val. Tjokvol spitsvondi­gheid, daai een.

Nou een dag kerm sy by my ma oor iets. Ouma, flink op pad 80 toe, is krapperig en radeloos, en hap kwaai in Leake se rigting: “Man, doen net wat jy wil,” sê sy kort-af.

Waarop Leake antwoord: “When a lady says: Do whatever you want, rather take a deep breath and do nothing.” Wat is daardie spreekwoor­d? Uit die mond van die suigeling ... Dis ook sy wat eendag vir die arme labrador gesê het: “Staan eenkant, jy’s in my beauty space”; en by haar pa geneul het dat hulle ’n groter kar moet koop, want dan kan haar susters “doer agter in Hartenbos” sit, en sy “heel voor in Stellenbos­ch”, sodat sy in vrede op haar eie kan wees wanneer die gesin iewers heen ry.

(Vinnige voetnota: Ouma is ook nie op haar mond geval nie. Nou een aand slaap sy en Leake oor, en voor slaaptyd bid my ma hardop vir die twee. Leake moes aan die vroetel geraak het, en in die middel van die sedige gebed sê my ma skielik, in haar kwaai oumastem: “Leake, sit nou stil, dat ek kan klaar bid” – en toe gaan sy onverstoor­d in haar kerkstem voort met die lang lys behoewende­s wat sorg van bo nodig het.)

Maar terug na my peetkind se eerste wysheid: “Rather take a deep breath ...” Goeie raad so aan die begin van ’n nuwe jaar, of hoe? Want ek dink ons moet ons maar regmaak vir ’n paar stampe en stote in die jaar wat voorlê. Ons het ’n nasionale verkiesing, die rand kreun, petrol was toe nie halfprys op Black Friday nie ...

Maar man, dis vir my lekker hier. En aan mooi en goeie dinge is daar geen tekort nie. Kyk dan nou net die pragtige see-huise in dié uitgawe: Jacobsbaai, Langebaan, Agulhas, Stilbaai en die piepklein plekkie in Scarboroug­h digby Kaappunt.

En dan Ramona Afonso se tuin in Johannesbu­rg. Sy en haar man was in 2017 die naaswenner­s in Regruk met Flair, en toe Elza, ons fotograaf in Johannesbu­rg, destyds hul kombuis gaan afneem, bel sy agterna opgewonde en vertel: “Newermaain­d die kombuis, jy moet hulle tuin sien!” En sowaar – ’n gesin wie se flair in én om hul huis sigbaar is. Ramona het sommer vir ons gekook ook; haar hande staan duidelik vir niks verkeerd nie. Kyk en geniet op bl. 102.

Maar die eintlike hoogtepunt in dié uitgawe is ’n klein juweeltjie – ’n lesersbrie­f oor ’n tuintjie in die township Sharpevill­e. Suzette Nortjé skryf hoe sy toevallig op die lieflike oase afgekom het, en vir Samuel Thokoa plante en ander tuingoed aangedra het oor hy iets gemaak het uit niks.

Jy weet, ons praat en skryf en kla te veel oor als wat sleg is. Dis seker onvermydel­ik. Maar vanjaar is die jaar dat ons gerus meer dikwels kan praat oor dit wat ook goed is. Hanneli Denner stel dit so mooi oor hul droomhuis op Jacobsbaai. “Ons is gelukkig hier. Ons het net een lewe en ons glo: Lééf dit! Vandág is mos goed!’’

Mag dit vir jou ook waar wees.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa