Saligheid op SONDAGSKLOOF
Al droom baie mense van ’n leefstyl in pas met die natuur, is dit net enkeles beskore. Ons kuier by een van die gelukkiges ...
Die wêreld is vol merkwaardige vroue, en Cathy Marriott van Stanford in die Overberg
is ongetwyfeld een van hulle. Want wat jare lank haar droom was, is nou werklikheid: Haar strooibaalhuis is ’n monument van kreatiwiteit aan die einde van ’n romantiese, laventel-omsoomde dubbelspoor-sementpad waar eende en ganse die werf oppas.
Cathy en haar lewensmaat, Basil, bly al agt jaar hier op hul kleinhoewe Sondagskloof, sowat 20 km buite Stanford in die Overberg-streek van die Wes-Kaap.
Skaars agt jaar gelede het sy nog klere ontwerp; deesdae noem sy haarself ’n “Google-kleinboer”. Haar modeskeppings het soos soetkoek verkoop, maar Cathy se hart was elders – toe het sy nog nie geweet wáár nie, maar wel wát: ’n lewe op ’n plasie waar sy uit haar tuin kon leef en haar tweelingdogters (toe tien jaar oud) uit die stadsgewoel kon kry.
Toe sy en Basil in 2010 ’n aanbod maak op die lappie grond, het ’n klein kothuis eerste verrys in die populier-bos naby waar die hoofhuis vandag staan. Daar was net een slaapkamer en ’n spesiale dakbed vir die tweeling skuins bo die kombuis. In die somer het hulle sommer in hangmatte buite op die stoep en tussen die bome geslaap.
Maar in haar agterkop had sy ’n groter plan: ’n huis van ekovriendelike strooibale, kleibakstene, hout en sink wat haar en haar geliefdes se tuiste sou word. Haar argiteksvriend, Alwyn van Wyk, het die planne begin optrek, en vandag is die hoofhuis op Sondagskloof ’n ruimte vol karakter en verrassings. >>