Strooibaalkuns
Cathy se fassinasie met strooibale as boumateriaal het jare gelede begin toe sy een naweek in ’n strooibaalhuis op Verlorenvlei in die Sandveld (tussen Elandsbaai en Redelinghuys) gebly het. “Ek het totaal verlief geraak op die gevoel. Dit was so solied en tydloos, asof dit maar nog altyd daar was.”
Sy het sommer self ’n kursus gaan doen om te leer hoe maak ’n mens die “stene” uit ’n mengsel van lusern, klei en kalk – met die idee om dié kennis eendag in die toekoms toe te pas. Strooibale is in die somer immers volop in die Overberg en die kleigrond op hul plaas was ’n lieflike oker kleur, perfek vir die tegniek.
“Die idee om ons eie strooibaalhuis – ’n huis ‘op die grond, uit die grond’ – te bou was net onweerstaanbaar. Só kon ons ons eie natuurlike hulpbronne gebruik. Dit het boonop etlike voordele: breë vensterbanke vir boeke uitpak of net sit en staar na die berge; dis ook koel in die somer en heerlik snoesig in die winter.”
Met al haar planne agtermekaar is die fondamente gegrawe en gevul met beton. Intussen is die strooibaal-stene gemaak en opgestapel om uit te droog sodat die bouery kon begin.
Die enigste bouer in die distrik wat sy kon oorreed om bouwerk met dié materiaal aan te pak, was Jerome Dickson. “Hy was al een wat kans gesien het; die res was maar skrikkerig.”
Maar waar daar ’n wil is, is ’n weg – agt maande later was die huis klaar en kon die gesin intrek. Die dogters was reeds op skool in Hermanus, waar die gesin toe tydelik gewoon het en van waar sy die bouprojek kon bestuur.
Basil werk groot dele van die jaar oorsee, daarom moes Cathy haar moue oprol en die werk gedoen kry. Nie dat sy enigsins omgegee het nie: Haar droom was besig om gestalte te kry. >>