Tuis

Heeltyd mooi

-

As jou vroegsomer-tuin begin kwyn, is daar plante wat jou blomtyd sal verleng. ’n Klein maar treffende, hittebesta­nde boom vir jou somertuin is prag-van-Indië

(Lagerstroe­mia indica). Die kultivar ‘Black Diamond’ het swart loof en pragtige, geplooide blare. Plant dit as ’n fokuspunt in ’n klein tuin, langs ’n inrit of in ’n groot houer in ’n sonnige kol.

Laatsomer-tuine word gekenmerk deur ’n oorvloed inheemse struike. Die gekrulde blomme aan die stele van wildedagga

(Leonotis leonurus) is gewoonlik oranje, maar daar is ook variasies in room en appelkoos skakerings. Die nektarryke Kaapse kanferfoel­ie

(Tecomaria capensis) kan as ’n skerm, hoë struik of lae heining gekweek word. Kultivars in skakerings van suurlemoen, goud, salm, oranje en rooi is geneig om kleiner te wees.

Die appelkoos blomme van die suikerbekk­iebos (Metarungia longistrob­us) is ’n groot gunsteling onder dié voëls, vandaar die volksnaam. Dit verkies halfskaduw­ee en kan ook met sukses in potte geplant word.

In randakkers gevul met meerjarige­s kan jy kleurryke lede van die madeliefie-familie – kombersblo­m (Gaillardia), pienk en blospienk skakerings van Echinacea en geel-en-swart Rudbeckia – kombineer met grasagtige plante om die voorkoms van ’n grasveldtu­in te skep.

Baie somer-staatmaker­s, soos kannas en dahlias, sal aanhou blom as jy gereeld dooie blomkoppe afbreek, natmaak en voed. Daglelie-variëteite wat laat blom, sal jou beloon in groepe van dieselfde kleur of gemeng in ’n bont kleurspel.

Jaarplant-saailinge wat nou geplant word, sal tot diep in die herfs blom. Vir skadukolle kan jy impatiëns, coleus en beddingbeg­onias probeer, en plant hanekamme (Celosia), angeliere (Dianthus) en ysterkruid (Verbena) in sonkolle.

 ??  ?? Hanekamme Angeliere
Hanekamme Angeliere
 ??  ?? Impatiëns Ysterkruid
Impatiëns Ysterkruid
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa