Tuis

Hoender met druiwe en tiemie

Dié vrugtige hoender lyk alte feestelik, net reg vir ’n sonskyndag onder ’n druiweprie­el.

-

Genoeg vir 6–8 Bereidings­tyd: 30 minute Gaarmaakty­d: 1 uur 20 minute Oondtemper­atuur: 180°C

• ’n takkie roosmaryn, blaartjies gestroop • 5ml seesoutvlo­kkies • 3ml vinkelsaad • gerasperde skil van ’n suurlemoen • 60ml botter • 1,3kg heel werfhoende­r • 6 klein rooi uitjies, geskil en gehalveer • 2 trosse wit of rooi druiwe • 60ml olyfolie • 15ml bruinsuike­r • 45ml rooiwynasy­n • 6 takkies tiemie • 375ml gort, gaar gekook volgens die aanwysings op die pakkie • 4 vars vye

1 Voorverhit die oond. Kap die roosmaryn, seesout en vinkel fyn en meng dit saam met die suurlemoen­skil by die botter. Druk die hoender oraloor droog met kombuispap­ier, sny die klier bo-op die stuitjie uit en geur binne-in met sout en peper. Maak nou versigtig die vel oor die borsgedeel­te los en versprei die meeste van die geurbotter onder die vel. Probeer die botter diep tot by die boudjies en dytjies inwerk. Vryf die res van die botter oraloor die buitekant van die hoender. Bind die boudjies met kombuistou vas en sit die hoender in ’n oondrooste­rbak saam met die uitjies.

2 Rooster dit nou eers met die borskant na bo vir 20 minute. Draai dit dan op die sy vir 20 minute, op die maag vir 20 minute en dan die ander sy vir 20 minute.

3 Meng die druiwe, olie, suiker, asyn en tiemie. Draai die hoender weer op sy rug, bedruip met die pansappe en skep die druiwemeng­sel rondom die hoender. Bak vir ’n laaste 20 minute totdat die hoender goudbruin is en die druiwe ook ’n kleurtjie gekry het.

4 Giet die pansappe uit die roosterpan in ’n beker en skep enige oortollige vet af. Meng die geurige sous deur die gaar gort vir die allerheerl­ikste bygereg en sit die hoender en druiwe voor met die gort en vars vye.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa