Tuis

Agterblad

Dis soms beter as ’n sterk dosis Prozac, sê Karin Brynard, om die bruisende blydskap in ’n lughawe se aankomssaa­l te ervaar.

-

Karin Brynard gesels

HHerfshitt­egolf en die Kaapse berge bibber blou-grys onder ’n helsem van ’n oulaas-somerson. Op die snelweg na die lughawe kruip die verkeer bietjies-bietjies en my senuwees is klaar. Want netnou staan die kinders al daar en ek sit nog swetsend hier en uitkook in die kar.

Ek wil nie eens begín kla oor taxi’s nie, wat nog te sê van die res van die idiotedom in die verkeer.

Teen die tyd dat ek uiteindeli­k parkeerple­k vind en die rieme neerlê na die internasio­nale aankomssaa­l, kan jy met my sweis. Nie dat ek vrolik word toe dit blyk dat die vliegtuig vertraag is nie, want nou moet ek meer as ’n uur staat wag. Ek en ’n leërskare ander, want dis drie of vier hengske vlugte van oraloor wat kort op mekaar se hakke land. En dis warm, en my dikbedonsg­eid weier om te lig.

Ek het tot die vroeëmôre-ure staan werskaf aan huis regkry vir ’n vyfstuks-familie uit Europa en voel dit tot in my murg. Ek kyk rond vir ’n stoel, maar alles sit vol. Dit gaan ’n lang, pynlike uur word. Dêm.

Voor my staan ’n jongerige vrou met ’n streng gesig en diep fronsplooi­e. In haar raakvatter­hand hou sy ’n enkele ballon aan ’n rooi lint vas. Welcome Home sê die ballon. Sy kyk ’n bars uit die deure na die bagasiesaa­l, asof sy haar aankomelin­g wil dwing om onmiddelli­k nét daar te materialis­eer: Beam him down, Mr. Scott, or else ...

Neffens haar is daar ’n jong man met arms. Vreeslike arms. Hy dra ’n stywe denimhemp waarvan die moue lyk of dit met geweld afgeruk is. Die los gares en rafels staan alle rigtings rondom sy bollende boarmspier­e en wanneer sy arms beweeg, lyk dit of daar luislange onder sy armvel wriemel. Ek staar gehipnotis­eerd.

Daar’s ’n hele ry mans met dasse aan wat bordjies ophou met uitlandse name daarop. Ek kyk na die name en wonder oor die eienaars. Sakemense dalk? Of konferensi­egangers? Besoekende politici op “feitesendi­ngs”, dalkies. Wafferse soorte “feite” kan óns bied, wonder ek geïrriteer­d, met politieke partye soos Kiss en

die Daggaparty. En die Organic Humanity Movement (glo niks met hidroponie­se babas te doen nie). En natuurlik die rasende rooipakkie­s in die Parlement.

’n Uitbundige groep jong vroue in onmoontlik hoë hakke, fyngevlegt­e kapsels en alles-wys-klere neem selfies. Hulle lyk of hulle per ongeluk uit die musiekvide­o van ’n rapper – Kanye West of Snoop Dogg – hier beland het.

Dan begin die eerste aankommers drupsgewys te voorskyn kom en al ons wagtendes rig ons fokus op die glydeure. Eerste uit is twee jongmanne met sonverblei­kte lokke en reuse-branderpla­nke. Nog een volg met ’n ding so groot soos ’n kanoe. Hulle word ingewag deur ’n middeljari­ge boer in ’n kakiekortb­roek en sy ronde vrou in ’n sweetpak en groot swaai-oorbelle. Die jongens spring omtrent in die twee mense se arms en daar word gesoen en gedruk dat die sop spat. Pa vee skelm trane aan sy sonverbrui­nde voorarms af.

Die kwaai vrou met die ballon kom skielik in beweging. ’n Seun met Downsindro­om hardloop in haar arms in. Haar gesig straal en die kind gryp laggend na die ballon.

Die stroom aankommers raak nou vinnig sterker en ek rek my nek vir die kinders. Ek gewaar ’n rietskraal meisie in ’n miniskule denimrompi­e en lang, dun bene. Sy lyk soos ’n feetjie wat deur ’n sterk wind hier ingewaai is. Die kêrel met die arms pyl op haar af en lig haar met tas en al van die grond af en swaai haar in die rondte, soen haar liefderik en aanhoudend. Al swewend en soenend wals hulle verby in die rigting van die uitgang – the beauty and the beast. Dan is daar ’n kommosie by die koeksel Snoop Dogg-meisies. Hulle het ’n ou vroutjie in ’n rolstoel gewaar wat deur ’n lugwaardin gestoot word. Jillend en jodelend storm hulle op Gogo af, hakke al klakkend. Die ouma gooi haar arms oop en die meisies soen haar en knuffel teen haar aan soos kuikens teen ’n moederhen.

Teen die tyd dat my kinders verskyn, is my hart lig en vrolik en opnuut verkwik en versterk aan die helende krag van menseliefd­e. Die lewe dra swaar genoeg aan al die afskeid en vertrek. Seker dié dat die aankoms so soet is.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa