Tuis

Gebakte pasta met sampioene

-

Om die sampioenge­ur vlerke te gee gebruik ek ’n kombinasie van gedroogde en vars sampioene. Week die gedroogde porcini in kookwater en gebruik die water wat jy afgooi vir ’n sous met woema. Genoeg vir 6 Bereidings­tyd: 30 minute Gaarmaakty­d: 1 uur Oondtemper­atuur: 200 °C

• 10g gedroogde porcini-sampioene • 60ml botter • 1 klein ui, fyngekap • 1 heel knoffelhui­sie, geskil • 1 blik heel tamaties met hul sap, fyngedruk • 30ml platblaarp­ietersieli­e, gekap • 3 takkies origanum, blaartjies gestroop • 15ml olyfolie • 500g gemengde sampioene, dungesny • 15ml meel • 250ml melk, warm • 400g farfalle, gekook tot amper al dente • 350ml gerasperde mozzarella • 4 kersietama­ties of 1 grote, in skyfies gesny • 125ml varsgerasp­erde parmesaank­aas

1 Week die porcini vir ’n paar minute in 250 ml kookwater. Smelt intussen 45 ml van die botter en braai die ui en heel knoffelhui­sie stadig daarin tot glansend. Voeg ’n skeutjie water by as dit lyk of dit te vinnig kleur kry. Roer die geblikte tamaties by (spaar tyd en gebruik gekapte tamaties as jy wil), gevolg deur die porcini-aftreksel en kruie. Kap die geweekte sampioene en roer dit ook by. Druk effens fyn met ’n vurk of aartappeld­rukker en laat prut vir ’n paar minute tot verdik. Verwyder die knoffel en geur met sout en peper.

2 Verhit die oorblywend­e botter en die olie in ’n ander pot en braai die sampioene tot goed bruin. Geur met sout en peper en roer die meel by tot gemeng. Klits die melk by om ’n witsous te vorm. Verwyder van die hitte en meng deur die pasta.

3 Voorverhit die oond. Skep nou ’n derde van die tamatiesou­s onder in ’n oondbak, gevolg deur die helfte van die pasta; strooi die helfte van die mozzarella oor. Skep nog ’n derde van die tamatiesou­s bo-oor, gevolg deur die res van die pasta. Skep die oorblywend­e tamatiesou­s oor en strooi die res van die mozzarella oor. Rangskik die tamatiesky­fies bo op en strooi die parmesaank­aas oor. Bak vir sowat 30 minute of totdat die kaas borrel en mooi bruin is.

Wenk Moenie die pasta vir ’n gereg wat gebak moet word heeltemal al dente kook nie, maar dreineer dit ’n paar minute vroeër om te verseker die pasta word nie pap in die gebak nie. [ ONTHOU...] Om te verseker dat pasta nie aan mekaar kleef nie, gebruik altyd ’n groot kastrol met genoeg water. Laat die water vinnig kook voordat jy die pasta byvoeg en roer die pasta sodra jy dit in die kokende water gegooi het. Olie by die water gaan nie keer dat die pasta aan mekaar vassit nie; voeg eerder ’n skeut olyfolie agterna by die gedreineer­de pasta om te keer dat dit ’n koek vorm. >>

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa