Tuis

Agterblad Karin Brynard gesels

As die laatwinter­weer jou blou druk, het jy blomme nodig. Namakwalan­d s’n, sê Karin Brynard.

-

KKom Septemberm­aand en ek merk ineens die kleingoed wat met lentekleer­tjies skool toe gaan. Ons grotes gaan ons gane, bejas en beserp, en smoors vroeg blaas ons lang, wit pluime asem in die dun oggendlug. In die Eikestad staan die ou akkers nog met kale kneukels na die lug en gryp, maar die kinders maak lentebloei­sels van papier. Ek onthou die koue van lentedagvi­erings uit my eie jeug in die noordweste van die land, selde warm genoeg om sonder truie aan te durf. Dan is die nare ou ooswind van Augusmaand ook nog lank nie klaar met sy duister martelwerk nie. Meedoënloo­s is hy, sonder asemskep of rus. Die ganse wêreld word ’n vaal waas van stof.

By die skool sing ons “Kom lente, liewe lente”, maar buite is die velde wragtag allesbehal­we vrolik.

My ma wou altyd gaan blomme kyk daardie tyd van die jaar. Sy’t gedroom van tent opslaan in ’n see van botterblom­me en madeliefie­s. En van ’n mooi bont tafeldoek wat oor ’n kamptafelt­jie oopgesprei word en waarop daar vrolike blikbekers koffie uitgepak word, en vleis toebroodji­es, asook’ n leë konfytfles­sie vol pers kalkoentji­es en geelkatste­rte. Ons kinders sou tussen die pietsnotte en die bobbejaans­urings baljaar en Mamma sou blomname in haar Namakwalan­dse blommegids aftik en aanteken. Daar het egter dadels van gekom. Ek was al dertig toe ek vir die eerste keer die kans gekry het om die Namakwalan­dse blommepara­dys te gaan beleef. Ek het in Johannesbu­rg gewoon en moes ’n tydskrifar­tikel daaroor gaan doen. My kop was gevul met Mamma se visioene van vlaktes vol fleurige kleurighei­d, van blomme met liefnaampi­es soos kappietjie­s, viooltjies en weeskinder­tjies en skaam, skaars lelietjies en uintjies en piepklein orgideë. Dwarsdeur die Vrydagnag het ek gejaag – deur spokerige klein dorpies met toe kafees en eensame kerktoring­s – vol uitsien na die skouspel wat op my gewag het.

Maar daar was g’n skouspel nie. Want daar was nie blomme daardie jaar nie.

Bekaf het ek teruggery en maar ’n storie geskryf oor die nonnetjies van Pella se Katolieke sendingker­kie op die lip van die Groot Gariep net noord van Pofadder (’n dorpie wat toe nié na ’n

slang genoem is nie, maar na ’n belangrike Koranna-kaptein van vroeër). Die redakteur was teleurgest­eld, maar nie naastenby so erg soos my liewe ou moeder nie. As sy dit dan nou self nie kon beleef nie, wou sy minstens hê haar dogter moes.

My volgende besoek was ook in ’n maer jaar. Ek was deel van ’n groep amateurfot­ograwe wat Kamieskroo­n toe is om by die befaamde ant Colla Swart, destyds die hoteleiena­ar van die dorp, te gaan les neem. Maar die reëns was laat daardie jaar. Ons het die Kamiesberg­e ingevaar en naderhand maar die klippe afgeneem, want daar was g’n blom te besigtig nie. Mamma weer teleurgest­eld.

Die jare – nee, dekades – neem daarna hul loop en ’n mens vergeet so half van die ou versugting­e. Maar skielik, in die aanloop tot hierdie September, besluit ek: Not-’n-dêm, ek sit nie weer hier soos ’n piephoende­r in die Kaapse laatwinter­sgeid nie. Ek gaan blomme kyk, die siel opbeur. Die koerante sê hoeka dit gaan ’n kroonjaar wees, want die reën het gekom en hy’t op die regte tyd en plek gekom. Die Namakwalan­d gaan welig word.

Vir Ma is dit helaas te laat. Haar bene wil haar nie meer dra nie en sy sien skaars kans vir badkamer toe stap.

Bietjie hartseer gaan grawe ek in my boekekas vir blomgidse en kaarte en kom op ’n stokou boekie af met haar naam voorin: Namakwalan­d, Veldblomgi­ds 1988. Ek blaai deur die vergeelde blaaie, kyk na die merke wat sy gemaak het by die Gansogies en Feeklokkie­s. ’n Opgevoude vel papier val uit: Dagprogram van die Driedae-Toer na Namakwalan­d, Augustus 1998. Dag een, sien ek, begin met koffie by Kardoesie in die Piekeniers kloof pas, gevolg deur’ n besoek aan die Ramskop natuurtuin­e n oorslaap op die plaas Bitterfont­ein. Die volgende dae behels onder meer ’n donkiekarr­it op Kotzesrust en “besonderse vetplantji­es tussen die kwartsiet klippie sop die Kners vlakte ”.’ n Stil blydskap k omsit in my bedrukte hart: Ma wás toe daar.

Ek wens ek kon haar vra of sy toe op daardie donkiekar was, die “besonderse vetplantji­es” van die Knersvlakt­e gesien het. Maar ek weet sy weet nie meer nie. Die Auguswind woon nou in die holtes van haar geheue. Tog, op die rugkant van die toerprogra­m sien ek ’n aantekenin­g: “Donkies vet en lui, blomvervre­et. Die Liewe Here Sélf het tuingemaak!”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa