Lesertuin
Met heinings en paadjies vir struktuur, en beddings vol blomme vir kleur, het Jeandri Streicher ’n droommooi tuin.
Vir Jeandri Streicher van Stellenbosch is haar tuin meer as net ’n plek waar plante groei. Dié fotograaf maak hier ook prentjies met lyne en vorms.
“Wanneer ek as fotograaf werk, is lyne belangrik vir ’n treffende foto,” verduidelik sy. “Met die beplanning van ons tuin het ek in terme van ‘prentjies’ met ’n romantiese aanslag gedink. Die aanplantings werk soos raampies wat vorm, struktuur en diepte gee. Op dié manier het ek reeds ’n komposisie sonder te veel moeite.”
Jeandri het sewe jaar gelede hier begin tuinmaak. Sy het Liesl van der Walt, hooftuinier by die plaastuin Babylonstoren, gevra om te help met die vestiging van inheemse spesies in die tuin – sommige is plante wat oorspronklik in dié omgewing gegroei het en ander is spesies waarvan sy en haar man baie hou.
Sy het onder meer blouklokkiesbos (Mackaya bella), groot getalle olienhoute (Olea europaea subsp. africana), assegaai (Curtisia dentata), geelhoutbome (Podocarpus-spesies), bloukappies (Polygala virgata) en lepelhoute (Cassine peragua) geplant. Met dié bome is die erf se grense gevestig as ’n wilde, beboste strook waar talle voëlspesies hulle tuisgemaak het.
“Omdat ek nie self genoeg kennis het van harde tuinelemente en die aanplanting wat daarmee saamgaan nie, het ons Mareza van Rensburg, ’n landskapargitek, se hulp ingeroep. Sy het die uitleg van die tuin verfyn en verder gehelp met die keuse van plante. Mareza het my persoonlikheid baie goed opgesom met die insluiting van lae heinings, paadjies en klipmure in die ontwerp. Ek hou van die chaos in die beddings, maar daar is tog struktuur wat alles op die oog af netjies hou.
“Die bome op die werf, wat nou al mooi groot is, het ons as ‘tieners’ gekoop,” vertel Jeandri. “Die res van die struike is klein geplant om geld te bespaar. Verder het ons steggies of plantjies by vriende gekry en dit in massas aangeplant. Ek het onder meer wildeknoffel, spoorsalies, kruisement, dahlias en baie papawersaad by vriende gekry.
“Elke keer as ek deur die tuin stap, herinner dit my aan die betrokke vriende. Op my beurt gee ek weer van die plante weg wanneer hulle verdeel moet word of saad vorm,“vertel sy.
Vir Jeandri is die lekkerste van tuinmaak om ’n boom te plant, want dan laat sy iets lewend na vir volgende geslagte. “Daar is niks meer positiefs as om ’n boom of selfs ’n klein plantjie te sien groei en blom nie. Dit bly vir my net een groot lekkerte!” >>
Regsom van heel bo Die stoep kyk na die noorde op die VOORTUIN uit. Dié deel bestaan uit onder meer ’n groot grasperk met terracotta-potte waarin suurlemoenbome groei. Ander bome wat hier groei, is gewone platane, geelhoutbome, populiere en waterpere. KUIERPLEK In die binnehof is ’n heerlike kuierplek in die skadu ingerig. Die gruisklippies as loopoppervlak en terracotta-potte met ’n verskeidenheid plante daarin gee dit ’n landelike gevoel. BINNEHOF Die binnehof is verdeel in vier blokke gras wat geskei word deur gruispaadjies omraam met bakstene. In elke blok is ’n koemkwatboom en teen die oorkantse muur groei kruipvy wat die harde oppervlakke versag. KANTTUIN Aan die sykant van die huis, naby die grens van die erf, lei ’n paadjie deur ’n ysterhekkie in ’n klipmuur jou na die volgende deel van die tuin (sien bl. 98). Dié hekkie is een van drie wat die Streichers by ’n skrootwerf raakgeloop het. Dit is gemaak van die vellings van oorspronklike wawiele en is tot vandag toe nog een van Jeandri se gunsteling-optelgoed. As jy eers deur die hekkie is, raak die beplanting minder formeel en hier vorm blousyselbos ’n meer natuurlike heining.
Die papawers gee soveel vreugde en is altyd ’n bonus wanneer ek kliënte in die tuin afneem. – Jeandri