Tuis

Plant van die maand ‘Mutabilis’-roos

-

As jy ’n roos wil hê wat feitlik heeljaar blom, plant ’n ‘Mutabilis’. Hierdie ouwêreldse struikroos is veral in die lente oortrek met ’n oorvloed blomme sodat dit kompleet soos ’n bos vol skoenlappe­rs lyk – vandaar die Engelse noemnaam “butterfly bush”.

Dié enkelblomm­e, elk met vyf blomblare, is ’n ligte heuningkle­ur wanneer dit oopmaak; dit verander dan na pienk en namate dit ouer word, verdiep die kleur tot karmosynro­oi. Die struik is nooit net eenkleurig nie; dit het altyd blomme in al drie die kleure, wat dit ’n aanwins in die tuin maak. Ná blomtyd vorm mooi oranjerooi roosbottel­s.

‘Mutabilis’ is immergroen in gematigde klimate en sal selfs in die winter nog blom. Dit is gehard, met min dorings, kry min siektes en groei vinnig. Plant dit in ’n sonnige bedding met genoeg plek en dit word gou ’n groot struik. Dit sal ook in halfskaduw­ee goed aard.

Hierdie roos kan boonop soos ’n ranker groei: Lei dit met draad of ’n raamwerk teen ’n muur op. Dit is ’n goeie heiningpla­nt en lyk met sy ietwat wilde voorkoms mooi in ’n informele bedding of tuin.

Plant dit saam met groter struike soos die gewone sneeubal en blinkabeli­a, of plant een- en meerjarige­s soos vingerhoed­jies, salies, Inkalelies en baardiriss­e tussen die roosbome.

Dié roos moet in die winter met sowat die helfte teruggesny word. Sny dooie hout uit en snoei dit sodat net ’n raamwerk van ’n paar hooftakke oorbly. Die meeste van die fyn takkies moet weggesny word, so ook takke wat oorvleuel, om te verseker dat die struik oraloor genoeg sonlig kry.

As die roos nog klein is, hoef die hooftakke bo nie korter gesny te word nie. Snoeityd is Julie, of vroeg Augustus in baie koue dele wanneer die rypgevaar verby is. Sny ook gereeld dooie blomme af om die struik aan te moedig om nog meer te blom.

‘Mutabilis’ hou van komposryke grond wat goed dreineer. Gooi ’n deklaag van kompos rondom die plant in die winter sowel as in die warm somermaand­e. Gee dit ’n hand vol beenmeel en ’n hand vol epsomsout in Julie, en geskikte roosvoedin­g soos Ludwig’s Vigorosa elke ses tot agt weke in die groeiseiso­en.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa