Tuis

Die tweede helfte van die jaar is altyd die besigste.

- redakteur@tuis.co.za

Dis seker te wagte. Namate ons die kalenderma­ande aftel en Kersfees al hoe nader kom, raak die tregter se punt ál nouer. Dinge moet klaar, en hoe langer die lys, hoe vinniger moet jy “multi-task”.

Ek hou van ’n spertyd. As jy wil hê iets moet klaarkom, gee my ’n datum. Dis seker hoekom ek so tuis voel in die mediabedry­f, want spertye is alles. Dis daarom nie vreemd dat die eerste vraag uit iemand se mond wanneer ’n nuwe projek bespreek word, dikwels net een woord is nie: “Deadline?” Eers met ’n introspekt­iewe frons. Dan met oë wat stip kyk. Want die vraagstell­er se brein is besig met somme. Gaan ons dit maak? En hoe lyk die ander spertye?

Ek sê altyd ’n mens moet die vlamme blus wat om jou voete woed – vir die brand op die horison moet iemand anders water aandra.

Soos ek hier sit en tik, ’n salige Sondag by die huis ná naweek op naweek gevul met werkverpli­gtinge, dink ek met groot genoegdoen­ing terug aan die lekker gesprekke wat ek by ons lesergelee­nthede het. Tjhoko-meesterkla­sse, ons Home Sharing-konferensi­e saam met Airbnb, die jaarlikse Homemakers Expo. Ek wens ek kon al die stories vertel: Party is ernstig en hartseer, ander vol stuitighei­d, meestal pure vindingryk­heid. Maar nie die soort vindingryk­heid wat jy sal verwag nie ...

Dit blyk Tuis is vir lesers nie net ’n bron van groot inspirasie nie, maar ook een van (onbedoelde!) krapperigh­eid. Lees maar self wat Eljo Els skryf oor haar man se lang gesig as sy met ’n Tuis op hom afpyl (bl. 8).

So vertel ’n leser by een van ons verfklasse van groot huismoles by hulle oor elke maand se nuwe uitgawe. Deesdae koop hulle liefs twee tydskrifte. Nog ’n vrou kom wys vir my skelm ’n WhatsApp-gesprek tussen haar en haar man. Hy is by die huis, en sy’t kom verf. “Kyk wat het ek pas gekoop,” skryf hy, met ’n foto van die die nuwe

Tuis daarby. “En raai wat gaan ek nou doen ...” “Moet dit nie waag nie”, skryf sy terug. “Ek lees EERSTE!” By ’n ander geleenthei­d kom kla ’n man oor die uitgawes wat in ’n sak kom. Ek dog hy gaan raas oor al die plastiek. Dit blyk toe dis oor hy (a) sukkel om die sak van die tydskrif af te wikkel as hy in die toilet gaan wegkruip, want dit raas, en (b) hy kry nie altyd weer die tydskrif netjies terug in die sak sodat sy vrou “eerste” kan lees nie. Só vang sy hom telkens uit!

Nou ja, wat kan ek sê. Mooi was nog nooit lelik nie. En as jy hou van mooigoed, moet jy doen wat gedoen moet word!

Lekker lees. En vasbyt. Kersfees kom ...

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa