Elke stroombreker is vir ’n bepaalde stel ligte in die huis; ons kan verskeie stemmings skep met dié boks. – Paul
Dit was ’n uitdaging om al die meubels en dekor wat twee huishoudings oor jare versamel het, saam te voeg; daarom het Paul, Loraine en Karin ’n “dekorkomitee” gestig met Paul aan die stuur van sake. “Al drie van ons versamel sentimentele stukke en ons gehegtheid aan sekere goed het ons gelei. Ons het sleutel-items gehou en dit aangevul met nuwe, pasgemaakte kopies,” sê hy.
Onder die spesiale stukke is ’n 4,5 m lange eetkamertafel (oorspronklik ’n drukkerstafel van Kimberley wat by ’n antiekwinkel op Bergville in die Vrystaat gekoop is; sien bladsy 27), Loraine se ou slagterstafel met sy gietysterpote wat nou as kombuiseiland dien en die kombuis en rakeenhede se voorkoms geïnspireer het, en ’n ou gereedskapskas wat aan Paul se pa behoort het. Laasgenoemde is afgeskuur en dien nou as ’n drankkabinet.
’n Versameling emalje-naamborde gee die dekor ’n speelse kinkel. “Party is by Bellbottoms in Pretoria gekoop, en ander het ons gekry by familie, vriende en selfs vreemdelinge op soek na ’n goeie huis vir ’n eensame kennisgewingbord,” sê Paul en lag. Om die prentjie te voltooi het hy staal-elemente deur die kunstenaar Jan Vingerhoets van ReDeux op Baardskeerdersbos laat pasmaak. Dit sluit suigwaaiers in die kombuis, die twee kaggels (genaamd Remus en Romulus) en ’n paar lig-passtukke in.
Drie jaar later bly Paul, Loraine en Karin heerlik in hul droomhuis. Die huis heet “In the End”, ’n verwysing na Lewis Carroll wat gesê het: “In the end, we only regret the chances we didn’t take, the relationships we were afraid to have, and the decisions we waited too long to make.” >>