Oud en nuut saam
Melanie se waardering vir alles wat oud is, is gewortel in ’n tyd toe die wêreld minder behep was met oormaat en gelykvormigheid.
“Ek voel aangetrokke tot die wysheid van die verlede wat op ’n kontemporêre en relevante manier toegepas word,” verduidelik sy.
“Daar was ’n tyd toe huise eenvoudig en toepaslik was, en vakmanskap ’n nodige en gevierde tradisie. Honderd jaar gelede sou ’n huis in byvoorbeeld Nepal nie soos een in Suid-Afrika kon lyk nie omdat dit vir die bepaalde klimaat, kultuur, beskikbare materiale en, natuurlik, ons individuele menslike gees ontwerp is.”
Gedagtig hieraan het Melanie daarna uitgesien om ’n nasionale gedenkwaardigheid in ’n tuiste te omskep. Maar toe sy die huis ’n paar maande later te siene kry – met die ses weke oue India op die arm – het sy besef dit sou ’n veel groter taak wees as wat sy verwag het. “Ek was naïef genoeg om te dink ons kon net ’n paar nuwe rusbanke koop en intrek,” sê Melanie. “Maar omdat die huis vir meer as ’n eeu in dieselfde familie was, was die loodgieterswerk en elektriese bedrading verouderd, die houtvloere bedek met melamienteëls en matte, en van die mure met planke toegekap om klammigheid te versteek.”
Melanie het haar nie laat afskrik nie en het met die goeie raamwerk van die huis gewerk en baie van die wonderlike oorspronklike elemente herstel. Al die deure, vensters, hortjies en plafonbalke van Oregondennehout, asook ’n kaggelomranding van groen marmer, die oorspronklike koperwerk en swart ysterwerk was toegeverf.
“Met al die verf afgestroop, het ons ontdek dis alles pragtige stukke wat nog in ’n puik toestand was; dit het baie van ons besluite daarna beïnvloed,” sê Melanie. >>