Leserhuis
Weggooigoed word uitstalgoed in dié karaktervolle woning teen die hange van die Kleinrivierberge.
Hermanus het nog altyd spesiale herinneringe gehad vir Carla en Charles Duckitt. Hier het Charles se familie jare lank vakansie gehou, en die rustige atmosfeer van die buurt Voëlklip was perfek om die toevlug te skep waarheen hul studentekinders kon ontsnap terwyl die paartjie self nog in die buiteland gewoon het.
Carla was uit die staanspoor oortuig dat hulle dié effens afgeleefde huis moet koop toe sy dit op ’n eiendomswebblad raaksien, maar Charles glad nie. “Hy het twee máánde lank daaroor gedink – ’n leeftyd wanneer mens ’n aanbod moet maak,” onthou Carla.
“Uit die bloute een oggend sê
Charles toe dis reg, ek moet die eiendomsagent bel.” Uiteindelik het die tydsberekening in hul guns getel, want weens ’n insinking in die eiendomsmark kon hulle die huis teen ’n winskoop kry.
Dit was in 2013, toe die paartjie nog in Hamburg, Duitsland, gewoon het waar Charles as ingenieur gewerk het. Eers met sy aftrede in 2017, nadat hulle weer in Johannesburg en daarna ’n ruk in Houston, Texas, gewoon het, het hulle hier by die see kom nesskop.
In die eerste net meer as drie jaar nadat hulle gekoop het, het die huis onveranderd gebly, vertel Carla. “Dit was maar donker en benoud – veral onder, waar daar heelwat waterdigtingsprobleme was. En die afwerkings was oudmodies.”
Ek het al letterlik op skrootwerwe rondgeklouter om goed te kry wat ek wou hê. – Carla
Sink en sement
Toe Carla eindelik die kans kry om haar eie stempel op die huis af te druk, het sy reeds ’n duidelike prentjie in haar kop gehad: ’n oopplan-leefruimte, sementvloere, eenvoudige, praktiese afwerkings en byderwetse sinkbekleding reg rondom die huis.
Nadat sy in die Maart 2016-uitgawe van Tuis die “sinkhuisie” gesien het wat Marcus Smit van Marcus Smit Jacobs Architects vir sy pa gebou het, was Carla vasbeslote dat hy moes help om haar idee van ’n “blikhuis” werklikheid te maak. Hulle het aanvanklik ’n ander argitek genader, maar dié verhouding was gou op die rotse. Oor die verhouding tussen haar en Marcus, sê Carla: “Dit was ’n
match made in heaven. Ons het baie koppe gestamp, maar nou is ons groot vriende.”
Die opknapwerk het in Januarie 2017 begin, en in Mei 2018 was die prentjie voltooi. Een van die grootste veranderinge was om die balkon aan die oostekant op die boonste verdieping toe te bou en daarvan ’n braaistoep te maak. Die hele huis het nuwe sementvloere gekry en die kombuis en badkamers het nou trendy sementblaaie.
“Die huis het nou ’n heerlike vloei,” sê Carla. “Daar is altyd ’n kol waar ’n mens kan sit en kuier, ongeag die wind en weer. En ons is dol oor die berg-uitsig van die boonste verdieping af.” >>
Terwyl die Duckitts in Hamburg gebly het, het Carla en twee vriendinne spesiaal na die distrik Boleslawietsj in Pole gery vir dié breekware (links). Met Kerstyd word die beeldjie ’n Duitse engel wanneer Carla haar vlerke aansit.
Van ashoop tot skatkis
Carla het nog nooit dinge volgens die boek gedoen nie en haar dekorstyl weerspieël haar tong-in-die-kiesbenadering tot die lewe. “Dis vir my lekker om mense te laat lag, en ek glo dekor kan ook speels wees,” vertel sy.
Sy beskryf haar styl as eklekties en ingeleef. “Ek hou van die idee dat meubels ’n storie moet kan vertel.” En amper elke dekorstuk in haar huis hét sy staaltjie: Baie kan getuig van hul vorige lewe op ’n skrootwerf, of was ’n winskoop op Facebook Marketplace.
“My ma is baie lief vir oudhede en sy het die mooiste goed. Maar ek hou letterlik van junk! Ek geniet dit om artikels wat dalk nie tradisioneel ‘dekor’ is nie, op ’n kreatiewe manier in te span.” Die ou uitstalkas in die oopplan-kombuis is byvoorbeeld pakplek vir tafellinne en messegoed. Carla het dit jare gelede vir R250 gekoop toe ’n breiwinkel op Sasolburg toegemaak het; dit het net ’n nuwe blad gekry. Die spatpaneel agter die stoof is nog ’n skrootwerf-vonds wat Carla se prettige styl vasvang.
“’n Mens moet tuis voel in jou eie huis,” glo sy.