Slim planne met ’n vraghouer
Danksy ’n praktiese aanslag en noukeurige beplanning is ’n tweedehandse skeepsvraghouer nou ’n indrukwekkende mikrohuis.
Vir ’n argitek is dit maar moeilik om in ’n huis te woon wat ’n ander ou ontwerp het,” sê die argitektuurstudent Christian Greyling. “’n Mens kyk anders na jou eie spasie en jy dink krities na oor elke detail wanneer jy jou eie kliënt is,” verduidelik hy.
Daarom, toe hy begin beplan aan sy eie mikrohuis in ’n vraghouer, wou hy dié taak nie aan ’n ander argitek oorlaat nie. Hy het sy drome self op papier gesit en uitgevoer – en verlede jaar die “Uit die boks”kategorie in ons Regruk met Flair-kompetisie gewen met die vernuftige eindproduk.
As voorgraadse student het Christian toevallig die YouTube-kanaal Living Big in a Tiny House ontdek en ’n getroue volgeling van die Tiny House-beweging geword. Met sy graad in sy sak het hy saam met vriende in ’n kommune ingetrek en deeltyds begin werk terwyl hy sy honneursgraad voltooi. Die huur moes hy self bybring.
“Maar dit het nie sin gemaak dat ek elke maand R4 500 uitgee op ’n plek wat nie aan my behoort nie,” vertel hy. Met die YouTubevideo’s in sy agterkop het Christian begin wonder of dit nie meer kostedoeltreffend sou wees om die geld wat hy op die twee jaar lange huurkontrak sou bestee, in ’n plek van sy eie te belê nie.
Maar as deeltydse student kon hy nie ’n lening kry nie.
“Ná net twee maande in die kommune het ek my pa gevra of hy bereid sou wees om die kapitaal aan my voor te skiet.
Pleks van elke maand huur betaal, sou ek hom eerder terugbetaal.”
Christian se pa, Jan, het ingestem ...
Een van die redes waarom mikrohuise al hoe gewilder word, is die verskuifbaarheid. Ek wou hê die houer moet op enige plek kan staan, sou ek dit wou skuif. – Christian
Staanplek vir ’n boks
Omdat Christian ’n staanplek vir sy mikrohuis naby sy werk en die universiteit in Pretoria nodig gehad het, het hy by sy oom en tannie gaan aanklop.
“Hulle woon op ’n kleinhoewe. Daar was genoeg plek, en omdat hulle nie aan al wat ’n munisipale verordening is hoef te voldoen nie, was toestemming van die stadsraad nie nodig vir so ’n projek nie.” Strukture sonder ’n fondasie is ook nie onderworpe aan munisipale bouvereistes nie, daarom kon hy feitlik onmiddellik aan die werk spring.
Christian het besluit om sy huis rondom ’n skeepsvraghouer te ontwerp omdat dit ’n baie kostedoeltreffende raamwerk bied. “Dis sterk, goed bestand teen roes, en die prys per vierkante meter maak dit baie aanloklik.” Die houers is beskikbaar in ’n standaardwydte van 2,4 m, met lengtes van 6 m of 12 m. In die gees van ’n ware mikro-leefstyl het hy in Maart 2018 die kleinste een by Container World gekoop. En toe kon die projek begin. “Die grootste uitdaging van my lewe,” sê hy. >>
Die bed is teen die vraghouer se oorspronklike syopening aangebring en Christian maak die deur graag wyd oop vir beter ventilasie. “Dis baie lekker vir ’n middagslapie in die somer!” Die bed word met ’n katrolstelsel beheer en rus op houtstutte in die muurbekleding. Die boekrak dien as trap na die bed. Kleurblok-kussing op bed (links) en houtskool kussing op bank (onder) van Woolworths
Terugslae en suksesse
Ondanks Christian se deeglikheid van “beplan twee keer, doen een keer” was daar heelparty terugslae. “Ek wou telkemale opgee! Ek het aanvanklik baie goed verkeerd gedoen en daaruit geleer.
Dit was ’n fantastiese leerskool.”
Hy is self verbaas dat die toilet en stort met sy eerste probeerslag ’n sukses was. Maar die teëlwerk was ’n ander storie. “Ek het die teëlsement lekker dik aangemaak en behoorlik opgeplak, en kort voor lank het dit deur die mosaïekvelle begin peul. Teen die volgende oggend was dit so hard, ek kon dit glad nie van die mure en teëls afkry nie.” Hy het elke selfdoen-webblad geraadpleeg en op verskeie maniere probeer red wat te redde was. Uiteindelik het sy ma die oplossing gehad. “Sy’t voorgestel dat ek dit eenvoudig afskuur met staalwol. En dankie tog dit het gewerk, want anders sou ek alles moes afkap en oordoen,” sê hy en lag.
Christian woon nou al meer as ’n jaar in sy mikrohuis, en geniet elke oomblik. “Dit was glad nie vir my ’n aanpassing nie, want ek was gewoond aan ’n koshuiskamer,” skerts hy. Maar hy waarsku enigiemand wat so iets oorweeg dat ’n mikrohuis heelwat van ’n mens verg nadat die bouwerk voltooi is. “Dit is ’n leefwyse, en ek kry dit reg omdat ek georganiseerd is, nie opgaar nie en met net die nodige klaarkom.”
Sodra hy sy meestersgraad ontvang, beplan Christian om die mikrohuis te skuif, moontlik na die Greylings se familieplaas in eNtokozweni in Mpumalanga of dalk na sy eie lappie grond.
Met dié suksesvolle projek op sy kerfstok beplan Christian nog ’n paar vir die toekoms. “My droom is om ’n erf te besit en my blyplek in modules te bou en uit te brei namate my lewe en behoeftes verander ... En natuurlik sal my eerste mikrohuis deel daarvan kan vorm.” >>