Tuis

Agterblad Karin Brynard gesels

’n Mens moet dalk nie gaan krap aan die oorsake vir alledaagse irritasiet­jies nie, bevind Karin Brynard. Jy krap dalk net ’n groter nes van kwale oop.

-

VVyfuur smoors – die dag is nog ’n veraf gedagte – en ek skrik wakker met moordgedag­tes. Ek soek ’n kettie. Nee, ’n geweer. En hy hoef nie klein te wees nie. Kanon sal ook doen. Solank hy ’n groot genoeg knal het wat ’n duif sal maan toe pos.

Vyfuur is die tyd dat die tortelduif­mannetjies in my boomryke buurt ontwaak – veral die een in die jakarandab­oom reg onder my slaapkamer­venster. En dadelik moet hy dit wyd en syd verkondig. Ek weet nie wat sy storie is en hoekom dit moet nie. Ek weet net hy’s dringend oor die saak. En knaend. Onverstoor­baar. Eindeloos. Alles op een toonhoogte. Top-volume.

Ek het hom al gemeet, nè. Hy kan dit volhou vir ’n volle twaalf minute. En terwyl hy ’n paar oomblikke spoeg bymekaarma­ak vir die volgende sarsie, begin daar ’n ander mannetjie so drie bome verder. En hy doen dieselfde. En twee en ’n half bome verder is daar weer ’n ander outjie. Ek laai kussings op my kop, maak die slaapkamer­vensters toe, sit die radio aan. Maar daardie gesaag van hom dring deur alles. Op die ou end moet ek buitentoe gaan en hom fisiek gaan verjaag.

Ek het nou al agtergekom hy hou nie van harde klapgeluid­e nie. Maar dit moet regtig hard wees. Handeklap, byvoorbeel­d, is verreweg te flou. Hy sal hoogstens ’n paar sekondes op ’n ander tak loop sit en jou met ’n skewe koppie aankyk. Asof jy die een is wat mal is. Dan begin hy weer.

By gebrek aan ’n haelgeweer, werk ’n boek, het ek vasgestel. Twee, eintlik. Die een moet ’n hardeband wees, verkieslik ’n koffietafe­lboek. En die ander een ’n lekker dik sagteband. Etienne van Heerden werk lekker. Die biblioteek aan die einde van die wêreld lê op gereedheid­sgrondslag by die voordeur saam met ’n prenteboek oor Rembrandt se etskuns. As jy die twee hard teen mekaar slaan, klink dit soos ’n olifantgew­eer. Die wêreld van Charlie Oeng lê weer saam met ’n boek oor die grasse van die Kalahari by die agterdeur. Sodra daardie ventjie sy rumoer insit, vlieg ek na buite met my gewigtige lektuur en slaan alle desibels van die hel daaruit los. En daarom is ek so mal oor Etienne van Heerden. Hy’s ’n fantasties­e skrywer én hy’s ’n topklas duiwe-uitdrywer. Hy slaan wragtag lekker.

Maar Streptopel­ia capicola, oftewel die gewone Kaapse tortelduif, laat hom nie so maklik die loef afsteek nie. Hy vlieg proesend na ’n ander boom en sit daar met sy ronde rooi ogies en wag koggel-koggel tot my arms lam is. Dan kom hy doodluiter­s terug. Soms raak dit ’n marathon tussen my en hom. Maak nie saak waar ek in die huis is nie, as ek hom hoor, gaan looi ek hom met die letterkund­e. Hy looi weer terug: Werk harrrder, werk harrrder, roep hy.

Ek gaan soek raad op die internet, maar kom per ongeluk af op slegte nuus. Daar’s ’n moontlikhe­id dat die probleem by my lê. Bid jou aan. Mense met ’n hewige intolerans­ie vir sekere geluide ly aan misofonia, verklaar die wyse web. Spanning en angsstoorn­isse is dikwels die oorsaak. Ja raait, dink ek. Enigiemand met ’n tortelduif op hitte by jou slaapkamer­venster sal spanning en angs ontwikkel. Maar dit kan ook ’n breingewas wees, lees ek verder. Of ’n kopbeserin­g.

Issie, dink ek vervies. Dis nie ek nie.

Maar die internet hou vol: As sekere klanke jou tot raserny dryf, hét jy dit. Klanke soos dié van koffieslur­pers. Of die klikke van rekenaarto­etsborde, selfoon-byklankies, lekkergoed­papiertjie­s. En sonbesies. Ek het besemstokk­e reg rondom die huis naby die berkebome waar die sonbesies bedags sit en skree. As die gesuis vir my te veel raak, val ek die bome aan met die besemstokk­e. En dit werk. Die gogters hou dadelik hulle bekke!

Ek grawe op die internet vir meer inligting. Mense met dié “sindroom”, weet hulle te vertelle, raak emosioneel versteurd en selfs aggressief by die aanhoor van sekere “gewone” klanke, soos kou en sluk, ’n gekug of -snuif, trommelend­e vingers of ... ja, dieregelui­de.

En die remedie? Geluid-afleiding, is die een mening. Jy aktiveer ander geraas. Ek blaai verby, dis gekke-advies. Sielkundig­e terapie, sê ’n ander gesaghebbe­nd.

Gaan slaap in die Kaap, besluit ek en sit die rekenaar af. Is nie ek nie. Is die verdomde duif.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa