Tuis

Chiffonkoe­k met room en konfyt

-

Dié veerligte koek is baie veelsydig en kan met enigiets van bottervers­iersel tot sjokolade-ganache versier word.

Maak 1 x 23cm-dubbellaag­koek Bereidings­tyd: 20 minute Baktyd: 30–35 minute Oondtemper­atuur: 160°C

• 280g (500ml) koekmeel

• 40g (60ml) mielieblom

• 15ml bakpoeier

• ’n knippie sout

• ’n knippie kremetart

• 5 eiers, geskei

• 150g (180ml) strooisuik­er

• 180ml louwarm water

• 125ml olie

• 15ml vanieljege­ursel

• sowat 80ml konfyt van jou keuse • 250ml room, geklop

• 5ml strooisuik­er (of na smaak), ekstra • vars vrugte van jou keuse

1 Voorverhit die oond en voer die bodem van twee 23 cm-koekpanne uit met bakpapier. Moenie die pannetjies smeer nie – dié koek rys op sy beste as die beslag aan die koekpan kan “klou” terwyl dit bak; ’n gesmeerde pan sal die beslag laat afgly en die koek digter maak.

2 Sif die meel, mielieblom, bakpoeier en sout twee keer saam. Dit vang ekstra lug in die beslag vas en verseker ’n ligter koek.

3 Voeg die kremetart by die eierwitte en klits met ’n elektriese klitser tot stywe punte vorm. Voeg 125 ml van die suiker lepel vir lepel by en klits goed ná elke byvoeging totdat die eierwit styf en blink lyk soos meringue. Klits nou met dieselfde klitser die eiergele, die orige 55 ml suiker, water en olie en 5 ml van die vanieljege­ursel saam tot gemeng en klits dadelik die meel by tot net gemeng. Dit moet glad wees, maar nie onnodig baie geklits nie.

4 Skep ’n lepel vol van die stywe eierwitte bo-op die beslag en vou vinnig in. Voeg die res van die eierwit by en vou alles nou in met ’n groot metaallepe­l tot net gemeng. Verdeel die beslag tussen die twee koekpanne en bak in die middel van die oond vir 30–35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Keer die panne om op ’n draadrakki­e en laat heeltemal afkoel.

5 Om saam te stel, haal die koek versigtig uit die panne en trek die bakpapier af. Smeer die onderste laag met jou gunsteling­konfyt, sit die tweede koek bo-op en rond af met geklopte room gegeur met die oorblywend­e vanieljege­ursel en 5 ml suiker, en die vars vrugte.

BAKWENKE

• Moet nooit die oonddeur oopmaak terwyl die koek bak voor minstens die helfte van die baktyd verstryk het nie. Die koek kan platval weens die temperatuu­rskommelin­g.

• Het jy geweet vars eiers klits nie styf nie? Winkeleier­s is gewoonlik ’n dag of wat oud, maar laat staan plaaseiers altyd eers ’n dag of wat voor jy daarmee bak.

• Gebruik eiers teen kamertempe­ratuur wanneer jy bak, maar bêre in die yskas sodat hulle langer vars bly.

• Proe die olie voor jy daarmee bak. Olyfolie smaak ryk en heerlik, terwyl ou, galsterige groente-olie ’n wrang smaak aan gebak kan gee.

• Eierwit kan nie styf klits wanneer enige vet, olie of eiergeel daarmee in kontak kom nie. Maak seker jou mengbak en klitser is skoon en droog voor jy begin klits.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa