Leserhuis
Danksy ’n weldeurdagte opknap en keurige meubels het dié gesinshuis, ontwerp deur ’n ikoniese argitek uit die vorige eeu, weer sy oorspronklike delikate balans gevind.
In ’n boomryke woonbuurt op Stellenbosch staan een van die juwele in die kroon van die beroemde Bauhaus-argitek Pius Pahl. Die huis, nes ’n aantal ander op die dorp wat ook Pahl se breinkinders is, dra talle van die kenmerke van sy ontwerpe – groot houtraam vensters met identiese proporsies, leiklipvloere, kleiteëls, houtpanele en -plafonne, en die praktiese oop leefruimtes van die na-oorlogse modernisme.
Toe Lochie en Hermann Wessels in 2011 die huis gekoop het, het dié geskiedenis hulle bekoor. “Ek het baie simpatie met die progressiewe Duitsers van die dertigerjare wat as’t ware moes vlug,” vertel hy.
“Bauhaus as beweging was nog altyd vir my baie interessant. Dis te danke aan dié groep denkers dat ons sulke wêreldklas argitektuur op Stellenbosch het.”
Die paartjie was dadelik gaande oor die simmetrie en geometriese verhoudings van Pahl se ontwerpstyl wat gekenmerk word deur ’n nougesette stel wiskundige verhoudings en geometriese patrone. Die oomblik dat jy aan enige van die proporsies begin peuter, sou dit ’n uitkring-effek hê wat uiteindelik die simmetrie kan omverwerp en afbreuk doen aan die geheel van die ontwerp.
Daarom het hulle besluit om die hulp van Hein Visser van Visser Kapperer De Bruin Architects in te roep toe hulle in 2016 met opknapwerk aan die huis begin.
Die Wesselse het wel die oorspronklike stoep en buitegebou verander in ’n kombuis en kuierstoep, maar die werk wat gedoen is, het deurgaans getrou gebly aan die integriteit van Pahl se ontwerp. >>
Herinter pretasie van ’n klassieke ontwerp
Een van die grootste veranderinge wat die Wesselse gemaak het, was om die kombuis te moderniseer en uit die agterkant van die huis te bring. “Ons leefstyl draai om kosmaak en saamkuier,” verduidelik Lochie. “In die tyd toe die huis ontwerp is, was die kombuis die onbelangrikste deel van die huis.” In hierdie geval was dit eintlik net ’n nou gang met ’n dienluik waardeur die kos na die eetkamer aangegee kon word.
Gevolglik is die ou kombuis omskep in ’n dubbel volumevoor portaal by die nuwe voordeur, terwyl die ou onderdakstoep en buitegebou aan die oostekant van die huis nou die kombuis huisves.
Dit was vir die huismense belangrik dat ook dié verandering met agting aan Pahl se filosofie en voorkeure ontwerp word. Daarom het hulle byvoorbeeld gekies om die leiklip wat op die agterste stoep was na die nuwe kombuis en kuierstoep uit te brei. “Dit was een van die goed wat die bouproses baie opgehou het,” onthou Lochie. “Daar is mos nie ’n formule vir die lê van leiklip nie, so die teëlaars het nogal gesukkel om dit reg te kry.”
Lochie beskryf die nuwe ruimte as “’n regte leefkombuis”. Dis prakties ingerig met genoeg plek dat die hele gesin saam kan kook en kuier.
Werkoppervlakke van vlekvrye staal en ingeboude kaste op staalpote skep ’n industriële gevoel wat goed aansluit by die res van hul blyplek. Die swart metroteëls wat as spatpaneel agter die stoof dien, komplementeer die staal-detail in die res van die huis.
Die kombuiseiland, pasgemaak deur Evelyn Terblanche van die firma Versfeld, wat ook die res van die kombuis ontwerp het, is lank ná die opknapwerk ingesit – eers nadat Lochie die toonbanks toeltjies raakgesien het en dit vir haar so mooi was dat die eiland daarby moes pas.
Oral in die kombuis is daar staalraam vensters en -deure, ontwerp met patrone wat herinner aan die kuns van die Nederlandse kunstenaar Piet Mondrian.
“Ons wou ook met die glaswerk in die kombuis eer betoon aan die ontwerpstyl van die bepaalde era,” verduidelik Lochie. >>