Tuis

Agterblad Karin Brynard gesels

Maak nie saak hoe oud of wolkerig haar koppie raak nie, skryf Karin Brynard, haar ma bly steeds haar wegwyser.

-

EEk was nét besig om ’n nuwe voorraad van Ouma se inkontinen­siebroekie­s in haar kas te pak toe ek ’n benoude geworstel agter my hoor. Met die omkyk sien ek sy sit met een van hulle oor haar kop getrek. Erger nog: Hy’t afgesak tot onder haar neus en aan ’n oorbel vasgehaak.

Hoe die broek in die eerste plek daar beland het, is ’n lang storie.

Ma is op die fyndraai na 95 en haar gedagtes is deesdae bitter kort en bitter min. Die tyd het die meeste van die kronkels in haar statige, wit kop al byna volledig platgevee. Sy het weer die onskuld van ’n kind.

Al om die ander dag is ek by haar in die aftree-oord om te kuier en ’n nuwe voorraad “oepsie”-broekies en ander noodsaakli­khede af te laai. En elke keer is sy gefassinee­r deur die groot, blou pak wat ek uit my mandjie haal.

“Haai, watse goeters het jy daar?” Sy sit in haar blou gemakstoel, van waar sy deesdae moeilik beweeg.

“Dis van daardie oulike soort broekies, spesiaal vir jou, Mamma.”

“Vir mý? Wat moet ek daarmee maak?”

“Sommer vir as ’n mens ’n hoesie gee en jou knypertjie­s is bietjie lui.”

Sy kyk my grootoog aan. Ongelowig. “Is ek dan ’n baba?” Sy glimlag ondeund.

Ek lag getrou. Dis nie die eerste keer dat sy hierdie grappie maak nie. “Ons dra dit maar almal soos ons ouer word,” lieg ek ’n bietjie, soos gewoonlik, en wys vir haar die pak. Sy lees die woorde voorop. “Super Comfy.”

“Jô,” roep onse ma opgewonde uit. “Súper! Dit is superbroek­e! Laat ek sien?”

Ek haal een uit en versigtig neem sy dit by my asof dit ’n delikate skoenlappe­r is, vou dit sagkens oop. “Is dit vir my?”

“Ja, Mamma. Dis joune.”

“Haai, jy’s ’n liewe kind. Ek sal jou voetjies vir jou was.”

Ek gaan bêre die pak in die kas. Maar die kasdeur is skaars oop of ek hoor haar stem agter my: “Watse goeters sit jy nou daar in?”

En dan begin die hele klein ritueel van vooraf. Ek wys die pak, sy lees die woorde, van vooraf verruk deur die súperheid van haar weggooibar­e broeke. Weer wil sy ene sien, vou dit versigtig oop.

Van vooraf verbasing, ekstase. Weer die grappie.

Ek verduideli­k weer van ons ouer gardes se kommunale probleme met onbetrouba­re knypers. Sy raak inskiklik en ek kan weer kas toe stap met die pakkie superbroek­e.

Net om die ritueel vir ’n derde keer te herhaal.

Hierdie keer probeer sy ’n ander grappie: “Moet ek dit oor my kóp trek?”

Ons lag lekker saam, terwyl ek gou my take in haar kas hervat. Maar Ouma se brein maak ’n kortsluiti­ng en die grappie verander skielik in ’n opdrag. En as ek omdraai, sit en spartel sy met die broek oor haar oë. Sy lyk soos ’n vreemde kruising van die Pous en ’n Smurf.

Ek help, bevry die broek en oorbel. En lei haar aandag met my foon af, wys haar foto’s uit ’n gedigitali­seerde ou familie-album. Daar’s foto’s van haar troue. My hart raak ’n bietjie triest as sy nie meer my pa herken nie. Maar sy is kinderlik betowerd deur die feit dat jy die prent met jou vingers kan vergroot.

“Ek soek ook so ’n selfoon,” verklaar sy bly. “Ek sal heeldag na hom kyk.”

“Ja?”

“Ja. Ek sal kyk of ek nog daar is!”

Ons lag. Ek soen haar. Wys haar foto’s van ouma en oupa. Sy herken hulle dadelik, maar raak hartseer as ek sê hulle is al dood. Ek wys vining ’n foto van haarself as jong vrou, saam met ’n sus. Sy kry haar naam verkeerd. “Waar is sy nou?”

“Dood, Mamma.”

Weer kenter ek die hartseer met ’n babafoto van myself. “Ag, kyk die mooi ou kinnertjie.”

“Dis Karin, Ma.”

“Haai? Waar is sy dan? Is sy ook dood?” Versigtig.

“Nee,” lag ek. “Sy’s yslik groot en oor die sestig.”

“Kannie wees nie! Is sy dan ouer as ek?”

“Veel, veel ouer, Ma.”

En ek bedoel dit. Op hierdie oomblik oud soos ’n Skurweberg in die Karoo, Ma. Grou en bietjie droef teen die naderende sonsonderg­ang.

En jy, Mamma? Jy dwaal al verder weg. Tevrede en gedwee volg jy die sakkende son. En beduie vir my die weg wat vir ons almal wag. Wys. En immer liefdevol. Net soos van ouds.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa