Op soek na ’n oppasser
Louise Fick van Bellville skryf Ons gaan vir drie weke in Desember weg en ek wil nie my honde by ’n hondehawe los nie; hulle is huiskinders en gewoond aan persoonlike aandag. Ons oorweeg dit om ’n oppasser te kry, maar ek is bekommerd ons kry nie die regte persoon nie. Enige raad?
Leigh de Wet van Pet Sitters Cape Town antwoord Tuis-oppassers word nou ’n gewilde alternatief en hou heelwat voordele in: • Troeteldiere is gelukkiger en ervaar minder stres by die huis as in ’n vreemde plek. • Hul eet- en oefentye bly dieselfde. • Hulle ervaar nie reistrauma nie. • Blootstelling aan siektes is minimaal.
Nog ’n voordeel van oppassers is dat hulle ’n afskrikmiddel is vir inbrekers. Hulle sal ook ander takies verrig, soos om die vullis uit te sit, pos in te bring en ligte aan en af te skakel, wat sal wys daar is iemand by die huis.
Dit is wel belangrik om ’n paar vrae te vra voor jy van so ’n diens gebruik maak: • Is jou oppasser aanspreeklik by ’n professioneel gelisensieerde liggaam soos Pet Sitters International (Psi)? • Het hulle enige formele opleiding in dieregedrag of eerstehulp? • Is hulle te alle tye bereikbaar in geval van nood? Kan jy iemand anders in die hande kry as jou oppasser nie bereikbaar is nie? • Het hulle openbare-aanspreeklikheidsversekering in geval van ’n ongeluk, en by wie? • Het die persoon ’n reëling getref vir ingeval hulle beseer of siek raak en nie na jou troeteldiere kan kyk nie?
Goedkoop oppasdienste het gewoonlik nie die regte interne strukture in plek vir noodgevalle nie – maak liewer seker jy kies ’n goeie diens, al kos dit meer.
Afhangend van jou behoeftes besoek ons jou diere een, twee of drie keer per dag, of jy kan ’n oppasser kry om oor te bly en na jou troeteldiere te kyk (pryse begin by R119 per dag). Ons maak ook voorsiening vir diere met spesiale behoeftes en dié wat medikasie moet kry. Speeltyd en volledige ondersoeke is deel van ons daaglikse aanbod, terwyl stappies opsioneel is. Ons kyk ook na jou swembad, plante en pos, tel poef op en sit die vullis uit; ons onderneem ook daaglikse inspeksies van jou werf en alarmstelsel-bestuur.
KONTAK petsitterscapetown.co.za