’n Besonderse seehuis op Jacobsbaai
Van die straat af lyk dit soos jou gewone Weskus-huis, maar laat die groen-rooi-en-blou voordeur vir jou ’n teken wees: Binne wag iets besonders!
’n Beesskedel op die voorstoep, outydse naaimasjiene uitgestal in die kombuis, ’n hanglig geprakseer uit ’n ou leer en kettings,
’n hand vol ou slingertelefone, en sowaar ’n halwe telefoonpaal ... In Hanneli en Nico Denner se huis moet jy enigiets verwag, en dit pas hulle goed.
“Dis daar net omdat dit mooi is,’’ verduidelik die kreatiewe Hanneli haar verrassende dekor.
Hulle het jare lank planne gemaak hoe hul droomhuis eendag moet lyk, en toe hulle drie jaar gelede begin bou, was sy slaggereed met sketse en allerhande mooigoed en meubels.
“Van my idees het die praktiese Nico soms sy hande laat saamslaan,” onthou sy. “Gelukkig hou ons van dieselfde dekorstyl.”
Die huis skep met die intrapslag ’n gevoel van warmte, danksy die buitengewone versierings, sinkplaatmure, ruwe sementafwerkings en klipwerk. “Kunssinnigheid is vir my soos asemhaal; dit gebeur net,’’ vertel Hanneli.
Elke sieraad is met sorg uitgesoek en ingespan. “Die klip teen die buitemure kom uit die grond toe die fondasies gegrawe is. Nico het die beesskedel in die veld opgetel en ek het die kleurryke kleivoëltjies wat op dié se horings sit, in ’n pottebakkersklas op Paternoster gemaak,” verduidelik sy.
“Die voordeur is nuut, maar ek het dit geverf dat dit soos ’n oue lyk. Ná ’n lang soektog het ek die regte handvatsel gekry en dit geskuur tot dit oud genoeg lyk.’’ >>
Iets van alles
Hanneli is ’n boorling van Noordwes en het al 18 jaar lank haar eie binne-ontwerpsaak, Annerkant Die Draad. “Ek doen iets van alles,’’ sê sy. “Ek skilder, is gek oor argitektuur, ontwerp, kleedstowwe, geskiedkundige romans, naaldwerk en tuinmaak. Ek is ook ’n amateurfotograaf.’’ Maar eintlik is sy ’n opgeleide onderwyser!
Sy en Nico het die huis self ontwerp. “Dit het baie ure se sketse teken geverg. Nico se insig en praktiese, logiese insette het baie gehelp. Ek het die tekenwerk met ’n rekenaarprogram gedoen en ’n argitek het die finale planne by die munisipaliteit laat goedkeur.
“Die bouriglyne op die dorp is nogal streng. Die hoogte en breedte van die huise, asook die grootte van vensters en deure, is onderworpe aan streng reëls. Weens die hoogtebeperking is die boonste vloer grootliks in die dak.
“Die bou en ontwerp was soos om op ’n skoon bladsy te werk. Ons vorige eiendom was oud en ons het dit opgeknap, maar dit was die eerste huis wat ons van nuuts af gebou het. Alles wat ons voorheen gepla het, kon ons hier reg doen.”
Sy is oor net een ding spyt. “As ons iets kon verander, sou die huis ’n bietjie kleiner gewees het. Ons was so opgewonde oor die droom om Jacobsbaai toe te trek, dat ons nie eens daaraan gedink het dat ons kinders een van die dae uit die huis gaan wees nie.’’
Gelukkig is daar darem nou meer as genoeg plek vir wanneer hulle en hul maats kom kuier! >>
Oud en aards
Die Denners het op Rustenburg in Noordwes gewoon, maar jare lank op Jacobsbaai vakansie gehou. Hulle het die erf waarop die huis nou staan in 1998 gekoop. “Jy kan die see sien, hoor en ruik,’’ sê Hanneli. “Die erf grens aan ’n bewaringstrook en dit voel of jy op ’n plaas bly. In die winter is dit prentjiemooi met al die groen, en daarna kom die lente met al sy blomme.”
Bouwerk het in Maart 2015 begin. “Ons sou die einde van die jaar intrek, maar dit het eers die volgende Maart gebeur,’’ sê sy.
Die huis is ontwerp rondom hul meubels, waarvan die meeste uit hul ouerhuise of oudhedewinkels kom. “Ons hou van ou goed. Ons koop by interessante plekke en volg nie modes en giere na nie. Die Frans landelike styl inspireer my, maar ook plaaslike dorpies soos Rosendal in die Vrystaat. Dis daar wat ek die idee gekry het om klipwerk binne en buite die huis te gebruik.’’
Hanneli sê die sementvoorkoms van die mure help dat die huis so aards is. “Al die mure in die huis is geverf met Worn Leather van Earthcote in die kleur Bakgat. Op die grondvloer het ons sandsteenteëls gelê en die boonste vloere is van herwinde Oregondennehout.
Haar gunsteling-deel van die huis? “Die kombuis!” sê sy dadelik. “Dis die hart van ons huis. Dis waar ons kos maak, koffie maak, wyn drink, kuier. In die winter maak die koolstoof dit so knus, tot die katte wil net daar lê.
“Ons is gelukkig hier. Ons het net een lewe en ons glo: Lééf dit! Vandág is mos goed!’’ >>