Elke dag as Strepies van Wyk kantoor toe en weer terug huis toe ry,
verwonder sy haar steeds aan die ongelooflik mooi natuur van die kusstrook waar hulle bly.
Jare terug, toe haar en haar man, Piet, se kinders nog klein was, het sy altyd met hulle in die Soldatepoel – ’n lieflike getypoel aan die suidelikste punt van die vasteland – kom swem. “Piet het destyds in die omgewing geboer,” vertel sy. “En elke keer as ons hier kom swem het, het ek die huise hier reg langs die see bewonder.”
In 1992 het die Van Wyks by die eiendomsbedryf in die omgewing betrokke geraak en later Struisbaai toe getrek. “Meer as tien jaar later, in 2006, het ek dié einste huisie namens die eienaars geskou en net tuis gevoel – al was hier nie veel van ’n kombuis nie en ook nie ’n en suite-badkamer nie.” Uiteindelik het sy en Piet die eiendom toe self gekoop.
Die vorige eienaars het die huis hoofsaaklik as vakansieplek gebruik – dit was daarom nie juis ingerig vir permanente verblyf nie. “Pleks van ’n kombuis was hier net ’n kroeg met 14 sitplekke,” onthou Strepies vandag.
As eiendomskonsultant verstaan Strepies alte goed dat jy nie net ’n eiendom moet mooimaak nie, maar ook waarde moet toevoeg. Sy verkies dat ’n huis gemaklik van binne na buite moet vloei, veral vir familiekuiers. Piet se vereiste was dat daar ’n binnebraai moes wees; dit is toe langs die kroeg ingebou nog voordat hulle ingetrek het.
’n Jaar later het hulle begin met die opgradering van die kombuis, en die badkamers het ’n paar jaar later gevolg. Vier jaar gelede het hulle ook ’n nuwe hoofslaapkamer met en suite aangebou, en verlede jaar is die kombuis finaal afgerond. Tussendeur is daar ’n waskamer aangebou en die gastekamer buite vergroot en opgegradeer.
Strepies was gelukkig genoeg dat sy van die begin af op haar dogter, Carol, ’n interieurontwerper van Kaapstad, kon staatmaak vir die uitleg en beplanning van elke projek, terwyl die argitek Hendré Pitout gesorg het dat die huis van buite sy eenvoudige styl behou.
“Vandag is die huis perfek vir ons behoeftes. Dis vir ons baie lekker as die hele familie by ons is. Twee van ons kinders bly op Struisbaai en kom gereeld Sondae by ons eet. En wanneer Carol hier kuier, kom die ander ook oor vir ’n lekker braai. Op warm somersdae geniet die kleinkinders die getypoel reg voor die huis en draf sommer gou oor die pad vir iets te eet of te drink.” >>