Weg! Ry & Sleep

DIE KALAHARI-LEEUS IS WOELIG!

- HANS DUMMER, Kitzbühel JOHN FINCHAM, Bellville

Nadat ek 40 jaar lank in Suid-Afrika gebly het, is ek terug na Oostenryk om my aftrede te geniet.

Ek het al heelwat plekke in Afrika gesien, van die Richtersve­ld en Lesotho tot Mosambiek, Namibië en Zambië, en het al so ver noord as die Kongo-grens gery.

Ek wou egter nog altyd die SentraalKa­lahari-wildreserv­aat in Botswana besoek, omdat ek in 2007 weens erge reën op pad na die reservaat by Ghanzi moes terugdraai na Suid-Afrika.

In Maart vanjaar het ek my hele gesin hierheen gebring – my dogter, haar man en hulle twee kinders van 8 en 10 jaar oud.

Ons het twee Land Rovers gehuur deur Afrirover, toegerus met alles wat jy nodig het vir ’n toer soos hierdie. Ons het selfs satellietf­one gehad.

Ons het die eerste aand by die Khama Rhino Sanctuary geslaap en is die volgende dag by die Kuke Hoek-veeartshek in die park in. Ons het baie water en diesel gevat, aangesien daar niks in die park is nie.

Ons het sommer baie panne besoek – Deception-, Sondags-, Passarge- en Piper’s-pan – en leeus en jagluiperd­s gesien. Dit was omtrent ’n ervaring om ’n leeu in die nag te hoor brul, nie eens 50 m van ons voertuig af nie! Ons het ook heelwat bokke en voëls, hiënas en bakoorjakk­alse gesien.

Die parkbeampt­e by die Xade-kantoor het ons ’n groot guns bewys deur ons van ’n korter pad na Kang te vertel. Die gewone pad is ongeveer 350 km, maar hy het verduideli­k dat as ons die pad langs die park se grensdraad volg, ons 150 km korter sou ry.

Die Landies én ons 4x4-vernuf is egter getoets. Die pad was ongeloofli­k sanderig en ons was omtrent bly om die dorpie Kang in die verte te sien.

Die beste deel van ons toer van sowat 2 700 km was egter die laaste aand by die Kalahari Rest in Kang en die behulpsame en humoristie­se bestuurder, Nkosi.

Ons gaan verseker terugkom vir nog so ’n opwindende, uitdagende toer. Ons groep van vyf voertuie en agt mense het in Augustus vanjaar by die Passarge 2-kamp in die Sentraal-Kalahari-reservaat in Botswana aangekom.

’n Paartjie wat verby ons gery het, het ons vertel daar is leeus naby die kamp. Kort voor lank het ons twee reuse mannetjies gesien wat in die skadu van ’n doringbos lê, ongeveer 250 m van die kamp af. Ons vermoed hulle is broers, omdat hulle in ’n tipe omhelsing was toe ons hulle die eerste keer gesien het.

Drie van die voertuie het daktente opgehad en die ander toerlede het gewone tente gebruik, een ’n klein “oopspring”-tipe tent.

Ons het lekker gebraai die aand en die leeus het dit vermoedeli­k geruik. Teen elfuur is die persoon in die klein tent wakker geruk deur ’n harde geluid naby sy kop. Hy het dadelik besef daar is net ’n baie dun stukkie seil tussen hom en twee leeus. Hy kon hoor hoe hulle iets rondsleep en het hard gegil om die ander te waarsku.

Sy tentopenin­g was ongeveer ’n meter van sy motor se deur en hy het besluit om die kans te vat en in die kar te spring. Hy het toe die voertuig aangeskake­l, die ligte aangeskake­l en vorentoe en agtertoe gery. Die res van die ysige aand het hy in die kar gesit terwyl die leeus in die kamp brul. Hy moes maar die enjin ’n paar keer aansit vir ’n bietjie hitte.

Met sonsopkoms kon ons sien dat die leeus ’n sak vuil wasgoed en ’n trommel wat langs die tentjie gestaan het, weggesleep het. Die tandemerke was duidelik in die trommeldek­sel, maar gelukkig kon hulle dit nie oopkry nie. Die sak was egter uitmekaar geskeur en hulle het aan van die klere gekou. Een sokkie was behoorlik gevreet.

Ons kon aan die spore sien dat hulle deur die hele kamp geloop het, ook in die toilet in, waar hulle aan die plastieksi­tplek gekou het.

Die volgende aand, in dieselfde kamp, het ander leeus ons nog meer die skrik op die lyf gejaag.

Kort nadat die son gesak het, het ons drie pare oë in die donker gewaar, ongeveer 150 m van die kamp af, toe ons toevallig ’n soeklig in die rigting van die pad geskyn het.

Ons kon die silhoeët van ’n mannetjie en twee wyfies uitmaak. Ons het nóg ligte op hulle geskyn, maar ten spyte hiervan het die drie leeus reguit na ons toe aangeloop. Hulle het enkele meters van ons af gaan staan. Almal van ons het verwoed geskarrel om die kos bymekaar te maak en in die voertuie te klim.

Ons het die twee voertuie sonder daktente aangeskake­l en in die rigting van die leeus gery. Ons het die ligte aangeskake­l en op die toeters gelê.

Nodeloos om te sê, ons het maar vinnig aandete geëet terwyl ons oor ons skouer kyk en flitse skyn. Ons kry koue rillings as ons dink aan wat kon gebeur het as ons nie toevallig die leeus raakgesien het nie.

Ek dink die leeus wat die eerste aand aan die wasgoed gekou het, kan dalk nou baie gevaarlik wees. Hulle weet nou hoe ’n mens ruik en mag dalk volgende keer nie aarsel om iemand te verslind nie, soos wat al met ’n man by die Mana-poele en ’n vrou by Kariba gebeur het.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa