Weg! Ry & Sleep

MY HORLOSIE TOER MEER AS EK!

- AUBREY KERSLAKE, Hazyview

Tydens ons toer na Botswana vroeër vanjaar het ons een aand by die Audikamp in Maun oornag. Nog kampeerder­s uit die Vrystaat het langs ons kamp opgeslaan. Die wêreld is klein, want ek ken toe sowaar een van die ouens in die groep, Johan Hoffman, van Nampo se dae af.

Hulle was op pad Kaokoland toe en het, nes ons, net vir een nag by Audi oorgeslaap. Hulle was ’n groot groep en het mekaar nog leer ken. Die volgende oggend het ons die Vrystaters weer in die badkamer raakgeloop waar ons hulle sommer gegroet en ’n aangename toer toegewens het.

Op pad na Derdebrug kom ek agter dat ek nie my horlosie aan het nie, en ek besef ek kon dit net in die badkamer in die Audi-kamp vergeet het.

Ek was bekommerd, want my seun het die horlosie vir my van Amerika af gebring. Ek het verskeie kere die Audikamp geskakel, maar sonder sukses.

By die huis aangekom, moes ek die nuus aan my seun oordra, en ’n paar weke later skakel ek vir Johan om te verneem hoe hulle toer afgeloop het. Ek het hom toevallig van my horlosie vertel en hy het dadelik onderneem om navraag by sy mede-toergenote te doen. ’n Week of wat later kry ek toe ’n oproep – Johan het my horlosie opgespoor!

Een van die groeplede, Adri Douwega, het die horlosie in die badkamer gevind en gereken dit behoort aan een van hulle toerlede.

Ek wil graag vir Adri en Johan baie dan- kie sê dat hulle my horlosie aan my terugbesor­g het. Dis wonderlik dat daar nog mense is wat omgee.

Daar’s nou net een probleem. My horlosie het deur die hele Kaokoland getoer en ek nie. Ek sal maar ’n plan moet maak om self te gaan kyk hoe dit daar lyk!

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa