4 HOE SOU ONS HULLE TOETS?
Vanweë die onstabiele samestelling van grond, sand en klip is die grootste dilemma met veldrytoetse meet- en herhaalbaarheid. Daar is geen voorgeskrewe prosedures vir veldrytoetse in die “regte wêreld” nie, en dit het baie kopkrap (ook met die bandevervaardigers en organisasies binne die bandebedryf) gekos om meetbare toetse te ontwerp.
Die grootste vereiste was om veldry- georiënteerde toetse te vind wat plaaslike toestande naboots.
Eindelik is besluit op vyf toetse – twee remtoetse (een op teer, een op grond), twee sandtoetse (vir traksie- en klimvermoë) en 'n sywandtoets (om vas te stel of dit maklik van 'n velling sal afklim).
'n Toets vir nat toestande is oorweeg, maar ons het besluit die grond-remtoets, wat in 'n mate met nat remming ooreenstem, is belangriker binne ons toets-konteks.
Ons wou ook graag die bande oor klippe toets, maar omdat alle AT-bande goeie greep op rotsoppervlaktes het, en klippe losgery word deur verskeie kere daaroor te ry, kon ons nie 'n manier vind om 'n meet- en herhaalbare toets te kry met die terrein tot ons beskikking nie.
Ons het ook 'n hanteringstoets op die grondbaan oorweeg, maar gou daarvan afgesien. Dit was duidelik dat selfs met voortdurende baanonderhoud die veranderende baangreep dit onmoontlik sou maak om 'n meetbare uitslag te kry. (Al wat ons werklik kon verwag, was 'n subjektiewe mening van ons toetsbestuurder af.)
'n Moddertoets is oor dieselfde probleme met meetbaarheid laat vaar, en ook omdat dit volgens ons eerder by 'n toets met modderterrein-bande (MT) pas.