Weg! Ry & Sleep

’n Afdraaipaa­djie OF DRIE

Die Didibeng-bergpark in die Oos-Vrystaat het ietsie van alles: roetes vir groentjies en gesoute 4x4-ryers en ’n paar interessan­te stilhouple­kke langs die pad.

- TEKS & FOTO’S: Peter Allan Levey

Net langs die Meiringskl­oof-natuurpark buite Fouriesbur­g in die Oos-Vrystaat kry jy die Didibeng-bergpark. Daar is ’n sirkelroet­e van 40 km met lekker afdraaipaa­djies na uitkykpunt­e oor die hange van die Rooiberge. Die hoofroete is meestal ’ n maklike graad 2, maar die afdraaipaa­ie bied meer van ’n uitdaging.

Jy kry ’n kaart van die roete wat dele merk as “R3” (effens gevaarlik) en “R4” (gevaarlik). Jy sien ook die gradering op borde langs die pad.

Die roete na Ventersber­g en terug is graad 4-5, na gelang van die toestande, en moet nie alleen aangedurf word nie.

Op julle merke . . .

Ek het vanaf Fouriesbur­g na die Meiringskl­oof-natuurpark gery om die nodige administra­sie- en vrywarings­vorms te teken. Vir ’n R100-deposito kan jy ook ’n sleutel kry om die hekke op die roete oop te sluit.

Toe het ons na Fouriesbur­g teruggedra­ai in die rigting van die Didibeng-bergpark.

Die roete skop af met ’n lang afdraande langs ’n groot stuk klipbank.

Daar is ’n paar effense skuinstes in hierdie deel en jy moet jou lyn goed hou, maar daar is nie ernstige uitdagings nie en die roete is maklik om te volg.

Die rots is taamlik glad, verwag dus om hier en daar in nat weer te gly.

Die pad kies vandaar koers oor ’n klein bruggie en verby ’n dam. As jy in die omgewing bly, is hierdie ’n goeie plek om lyne nat te maak. Met die nodige permitte kan jy baars, karp en forel vang.

Kort hierna kom jy op terrein waar jy jou lyn goed moet kies, want jy gaan met een wiel op ’n klipbank en een wiel in die sand of op los klippe ry. Die pad klim dan oor ruwe terrein totdat jy ’n vurk bereik.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa