Weg! Ry & Sleep

Ons is in die weste My ma sê altyd

-

ONS HET NIE JUIS MEER WATER OF BILTONG OOR NIE EN DIE NAGTE RAAK YSKOUD. SAL EK EN JAC MOET LEPELLÊ OP DIE AGTERSITPL­EK?

Jac versnel. “Wat maak jy nou?!” vra ek in ’n skril stemmetjie. “As ek stadiger ry, sit ons vas. En dan’s ons in k*kstraat,” antwoord hy.

van landelike Lesotho, op pad na Malealea Lodge waar ons vanaand slaap, op die gatkant van ’n storie vir Weg. Die opdrag was om te sien of jy dié land sinvol in ’n gewone sedan kan platry.

Voor dié stuk pad het dit heel goed gegaan, maar dit was voor ons iewers ’n verkeerde afdraai geneem het. Die Polo se wiele glip-gly in ’n slaggat en die agterent dreig om die pad te verlaat.

As ons nóú vasval, hoe lank gaan dit wees voordat iemand eendag op ons afkom, wonder ek stilletjie­s. Ons het nie juis meer water of biltong oor nie en die nagte raak yskoud. Sal ek en Jac moet lepellê op die agtersitpl­ek?

En as ons hier by die afgrond aftuimel en die motor ontplof in ’n bol vlamme, hoe sal hulle ons uitken? Sal my ongebore dogter eendag oor haar pa vra? Gaan ek ooit weer die WP ’n trofee sien wen?

Jac se stem ruk my terug na die hede. “Hou vas,” sê hy voor hy die Polo afrat. “Dit gaan rof raak hier voor.”

kommunikas­ie is een van die sleutels tot ’n gelukkige huwelik. ’n Mens sou dié stukkie raad eintlik op die meeste dinge in die lewe van toepassing kan maak.

Hoe is dit relevant tot dié vertelling? Wel, toe ek uitvind ek moet Lesotho in ’n sedan verken, het ek Weg se kantoorbes­tuurder gevra om ’n VW Golfie (’n Chico of Citi) of iets soortgelyk­s te huur.

Golfies het ’n hoër grondvryho­ogte as baie ander sedans en sou dus beter op ons buurland se bedenklike grondpaaie vaar, was my redenasie.

Maar hoe sê hulle nou weer van die pap en die mond en die grond? Want ek het my behoefte sleg oorgedra: Die kantoorbes­tuurder hoor Golf of iets soortgelyk­s en bespreek ’n Polo.

Dit sou ek en Jac eers agterkom toe ons op Bloemfonte­in se lughawe die huurmotor optel. Ons wenkbroue het gelig, maar hoe erg kon die paaie nou wees, het ons gedink en die pad gevat.

Die begin van ons reis was sonder voorval, met netjies geteerde paaie wat oor berge en deur dale kronkel en lyf gooi soos ’n loopplankm­odel.

Die eerste teken van onheil was die 60 km van Katsedam tot by Thaba-Tsheka. ’n Mens sou dié grondpad met slegs drie letters kon beskryf, maar ter wille van volledighe­id gebruik ek ses: aaklig.

“Hier is die slaggate so groot die Vaaldammon­ster kan daarin wegkruip,” sê ek droog vir Jac terwyl ek uitswaai vir ’n bielie.

“Gelukkig sê mense mos ’n huurkar is die beste 4x4,” antwoord Jac en teug aan sy sigaret.

Ons maak beurte agter die stuur. Jy kan nie vinniger as 30 km/h ry nie en dis waar plaaslike kinders jou heeltyd lastig val vir sweets. Dan moet jy nóg stadiger ry.

Die hele rit duur rofweg drie uur en die Polo kry ’n naam: Ratel. Uiteraard vir sy taaiheid en deursettin­gsvermoë.

“Wel, die ergste is seker nou agter ons,” merk Jac op toe ons op ThabaTshek­a vir water stilhou en Ratel amptelik doop.

Het ons maar geweet.

Van Thaba-Tsheka mik ons wes,

Roma en Maseru toe. En van daar draai ons suid, Malealea Lodge toe.

As ek nou daaraan dink, moes ons eintlik omgedraai het toe ons vir die tweede keer ’n bordjie sien wat lees “Malealea 29 km”.

“Ek dink ons het iewers ’n verkeerde afdraai gevat,” sê ek vir Jac.

Ons trek af en trek die kaart nader. Die slotsom: As ons nou omdraai, gaan ons net so ver ry as wat ons op ons huidige roete oor het. En die son begin al watertrek.

Ons proe reeds die wyn wat ons vanaand gaan drink en besluit om maar die spit af te byt en te bly op die pad waarop ons reeds is.

Die tweede teken van moeilikhei­d was die stuk of vier driffies waar ons keer op keer moes stilhou om klippe te pak sodat Ratel deur die waterhinde­rnisse kon kom. Een was so groot dat Ryk Neethling sy rugslag daarin sou kon oefen.

Die derde teken was die twee bakkies wat vir ons ligte geflits het. Maar ons het gedink hulle is maar net vriendelik. Beginnersf­out!

Intussen het die pad al slegter geraak en ons het al meer ongemaklik begin rondskuif op ons sitplekke. Is dit nog sinvol om om te draai, het ons gewonder.

Die besluit is uiteindeli­k uit ons hande geneem toe ons ons eensklaps op die gewraakte enkelpadpa­s in die berge bevind. Omdraai kon ons nie, met ’n gapende afgrond na links en die berg self na regs.

Jac bestuur, want voor sy fotografie­dae het hy onder meer besproeiin­g ingesit, waar hy baie geleer het van 4x4-ry (in elk geval veel meer as ek).

Dis al vyfuur en die son sak vinniger as ons moed in ons skoene. Hoe verder ons ry, hoe bleker raak Jac se kneukels om die stuurwiel en hoe vinniger wip my angstige been.

Dis stil in die Polo. Soos die dood. Net so nou en dan sal een van ons swets wanneer Ratel se pens klink of dit deur die middelman oopgekerf word, soos een van Jack the Ripper se slagoffers. In ’n stadium merk Jac op: “Hierdie soort ding verkort jou lewe met 10 jaar.”

’n Golf van paniek spoel oor die motor en ek probeer stilletjie­s onthou wanneer laas ek my lewensvers­ekering bygewerk het. Maar net voor ons mekaar wenend begin vashou en vir die einde wag, haal ons die pas se einde. Ek kon my dalk verbeel het, maar ek sweer daar was ’n trompetges­kal en ’n engelekoor wat in blye galme “Hosanna” gesing het. Dis so vyf minute voor sononder toe ons Malealea Lodge binnery, so pootuit soos die wyle oom Wally Hayward na sy laaste Comrades (ons is onfikser as hy, oukei?).

Toe die lodge se bestuurder, Michael, sê ons kan nog wyn kry by die kroeg vir die nerwe, was dit een van net twee keer in my lewe wat ek gevoel het ek sal ’n man oopmond soen (die ander keer is ’n storie vir ’n ander dag).

Terwyl die kroegman vir ons skink, sê Michael: “Julle ouens kan bly wees daai pad is sopas reggemaak!”

Later sou ons by ’n ander gas hoor dat bakkies glo net ’n jaar op dié paaie hou. “Tjaag, Lesotho is nie karwêreld nie, ouens.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa