10 topfotoplekke
Is jy op soek na uitsonderlike plekke waar jy in 2015 kan stilhou en die landskap en wild kan afneem? Villiers Steyn stel plekke voor wat jy gerus op jou lys kan sit.
1 Kalizo Lodge, Zambezistreek, Namibië Kalizo Lodge is ’n klein, onopvallende tierviskamp op die oewer van die Zambezirivier, sowat 38 km oos van Katima Mulilo. Met die eerste oogopslag lyk dit of daar nie veel is om af te neem nie, maar in die lente neem ’n kort bootrit stroomop jou na een van die natuur se groot skouspele.
Tussen Augustus en November maak ’n enorme klomp byvreters daar nes – bo-op die oewer op ’n groot oop stuk sand. Besoekers mag óm die broeineste loop, waar daar soms tot 5 000 voëls is! Gelukkig vir die voëls is daar altyd iemand aan diens wat toesien dat oorgretige fotograwe nie te naby aan die neste kom en daarop trap nie.
As jy ’n paar uur daar deurbring, sal jy sien hoe die pienk-en-blou voëls vlieg, kuikentjies voer, baklei, bad en in die son bak. Pak jou telefotolens en ’n paar ekstra kamerakaarte in, want jy gaan
trigger-happy raak.
2 Die Chilojo-kranse, Gonarezhou Nasionale Park, Zimbabwe
Dié kranse is van die mees ikoniese bakens in Zimbabwe, en toring 170 m bo die Runderivier in die noordelike deel van die Gonarezhou-park uit.
Die heuwels kan van onder af boon- toe afgeneem word, wat jou die geleentheid gee om ’n paar olifante in die foto te kry, of van bo af, waar jy van ’n klein uitkykpunt onvergelykbare uitsigte oor die vallei onder jou het. Van hier af sien jy waarskynlik die mees afgeneemde stukkie van die park – ’n rotstoring wat pragtig in die vroeë oggendlig lyk.
Hoewel jy ’n wyehoeklens nodig het vir die kranse, moet jy ook ’n telefotolens hê om die Verreauxarende af te neem. Jy mag dalk selfs ’n trop buffels of kameelperde in die verte sien.
3 Die Marievale-voël-reservaat, Gauteng
Soms is die beste fotobestemmings op plekke waar jy dit die minste verwag. Naby Nigel in die suidooste van Gauteng, tussen die myne en die kragdrade, sal jy die Marievale-voëlreservaat vind. As jy eers deur die hekke van hierdie piepklein reservaat gery het, tref jy ’n stukkie vleilandparadys met volop voëllewe aan. Daar is meer as 280 spesies in hierdie sowat 10 km2.
Gaan soek by die water na die kuifkopduiker, bleshoender en geelbekbosduif, en kyk langs die modderige paaie uit vir die Afrikaanse riethane. Die moddervlaktes is die tuiste van waadvoëls soos die Afrikaanse snip, kraagduif en klein- en krom-bekstrandloper.
Jou beste kans om ’n besondere foto van die kuifkopvisvanger te neem, is by een van Marievale se vyf voëlskuilings. By die Hadeda Hide wemel dit veral vroeg in die oggend, terwyl die Shelduck Hide weer in die laatmiddae gewild is.
Onthou om jou driepoot of boontjiesakkie saam te bring vir die skuilings, en ’n eenpoot en waterdigte stewels vir die vleilande.
4Die
Mapungubwe Nasionale Park, Noordwes Die Mapungubwe-park is weggesteek in die noordoostelike hoek van Suid-Afrika en is een van die parke in die land wat die minste besoekers lok. Net een van verskeie goeie redes om dit op jou lys te sit, is dat jy nêrens anders suid van die Limpoporivier so ’n kombinasie van sandsteenrotse, reuse-kremetarte en eindelose uitsigte sal kry nie. Dit is ’n landskapfotograaf se droom.
Die park is op sy mooiste kort na die reëns (tussen November en April), wanneer miljoene geel môresterblommetjies ’n tapyt oor die aarde strooi. Sit minstens twee dae opsy sodat jy by die beste fotog-rafieplekke kan uitkom, dit sluit in die lugbrug wat jou die kans gee om die breëbekroller en ander voëls op ooghoogte af te neem, die dekke waar jy kan sien hoe die son oor die samevloeiing van die Shashe- en die Limpopo-rivier sak, en die Pinnacledek wat oor ’n vallei van sandsteen-formasies uitkyk. Die avontuurlustiges kan die Rhino 4x4-ekoroete aanpak, wat oor 35 km van die park se mooiste sandsteenriwwe kronkel. Dele van die pad sal moontlik in die reënseisoen onbegaanbaar wees.
5Die
Deception-vallei, Sentraal-Kalahari-wildreservaat, Botswana Min dinge is mooier as ’n sonsopkoms of -ondergang in die Kalahari. Voeg ’n gemsbok en dalk ’n stofwolk by, en jy het waarskynlik die beste fotografiegeleentheid in Afrika.
Die Deception-vallei in die Sentraal-Kalahari-wildreservaat in Botswana is een van my groot gunstelinge. Die oop ruimtes en ontspanne diere sorg vir uitstekende silhoeëtskote vroeg soggens en in die namiddag. En as die son al ’n bietjie hoër sit, skep springbokke, rooihartebeeste en bakoorjakkalse steeds lieflike fotogeleenthede.
Met ’n bietjie geluk kom poseer ’n ratel, maanhaarjakkals, strandjutwolf of die legendariese swarthaarleeus van die Kalahari vir ’n foto.
6Die
Nyamandhlovu-platform, Hwange Nasionale Park, Zimbabwe Kon jy al ooit ses of meer spesies soogdiere saam in een foto afneem, of meer as honderd olifante wat gelyk water drink? By die Nyamandhlovu-platform in die ooste van die Hwange-wildreservaat is dit glad nie ongewoon nie, veral tydens die laat droë seisoen (Augustus tot Oktober). Dan lok die pan nie net wildebeeste, impalas, bobbejane, kameelperde, sebras, koedoes, swartwitpense en leeus nie, maar ook meer olifante as wat jy jou ooit kon voorstel.
As jy geduldig is, kan jy tot 500 olifante in ’n namiddag sien.
Die uitkykpunt het stoele en ’n reling waarop jy jou kamera kan laat rus, maar neem jou boontjiesakkie saam.
7Tuli-
wildernis, Botswana Die Tuli-blok is ’n lang, dun strook land in die ooste van Botswana, aangrensend aan die Limpoporivier.
Die Tuli-wildernisgebied is grond in privaatbesit in die noordooste van dié blok, en daar is verskeie verblyfopsies op die plaas teen billike pryse.
Jy mag nie die gebied op jou eie verken nie, maar dis ’n voordeel, want die gidse weet hoe om die hiënabevolking per voet te nader, waar die grootste wildevyeboom staan en waar om ’n asemrowende foto van die Melkweg te neem (pak die driepoot in!). Die hoogtepunt is die sandsteenkoppies, wat op die Motloutse-rivierbed uitkyk. Daar kom olifante en bokke by die poele suip.
8Olifantskamp,
Krugerwildtuin
Fotograwe gaan nie net Krugerwildtuin toe om diere af te neem nie, sommige gaan neem die natuurskoon af. En min plekke in die wildtuin is so skilderagtig soos Olifantskamp.
Olifantskamp is in die middel van die Krugerwildtuin en die enigste kamp wat op ’n rif gebou is. Dit kyk uit oor ’n rotsagtige deel van die Olifantsrivier. Die uitsig vanaf die uitkykpunt onder die winkel moet baie naby wees aan dít wat die geelbekvalke vanuit die lug kan sien. Pak ’n wyehoeklens en ’n polariseerfilter in.
Ruil daarna die wyehoek- vir ’n langer lens en stap deur die kamp. Jy sal verstom wees oor die voëls wat jy al sommer in die kamp kan afneem. Dit is ook die moeite werd om na die Olifantsrivierbrug op die H1-5 net suid van die kamp te ry. Die kans is goed dat jy van hier af die reuse-krokodille en watervoëls soos die saalbekooievaar en reiers kan afneem.
9Pilanesberg
park
Jy hoef nie in Nelspruit te woon om die Groot Vyf op ’n daguitstappie na ’n wildreservaat te sien nie, jy kan koers kies Pilanesberg toe.
Pilanesberg is klein (jy kan die sowat 200 km in ’n dag aflê), maar die habitat is divers en jy het tyd nodig om die luiperds, springbokke, blouwildebeeste, koedoes en swartrenosters af te neem.
Daar is ook verskeie skuilings van waar jy die diere en voëls kan dophou. Dié by die Mankwedam en Ruighoekdam is die beste.
Dit is ook die moeite werd om ’n bietjie tyd deur te bring by die Ratlhogo-watergat naby die Bakgatla-hek, maar verkieslik in vroegoggend wanneer die son agter jou rug is.
10Visfuike,
Kosibaai
Geboue en brûe beïndruk my nie juis nie, maar daar is een mensgemaakte struktuur, of liewer ’n groep strukture, wat my stomgeslaan het toe ek dit die eerste keer sien. In die mond by Kosibaai is daar ’n magdom antieke visfuike wat al langer as 700 jaar deur die Tonga-bevolkings in stand gehou word. Dis gemaak van hout, riete en gevlegte palmblare en ontwerp om net vis van ’n sekere grootte te vang – die kleineres kan ontsnap.
Jy kan die visfuike op twee maniere afneem – van bo af of op ooghoogte. Ry na ’n ongemerkte uitkykpunt (draai 500 m ná die ingangshek regs), vanwaar jy afkyk op die visfuike. Uit hierdie hoek sal jy die vorm van die fuike kan vaslê. Probeer om kort na sonsopkoms daar te wees, dan het die water ’n silwer skynsel.
Ry dan op ’n sandpad na die voet van die heuwel, waar jy die fuike van naderby kan bekyk. Die tekstuur en goue skakerings van die fuike lyk die beste in die namiddaglug, kort voor die son agter die rant verdwyn. As jy ’n plaaslike visserman sien wat ’n vis met ’n spies doodsteek, vra liewer toestemming om foto’s te neem.