Kom saam Wildekus toe
Langs die Wildekus is heelwat tweespoorpaaie waarlangs jy die kuslyn, watervalle, skeepswrakke en riviermondings kan verken. Sluit aan by WegRy-toere (in samewerking met Bhejane 4x4 Adventures) as ons in Mei dié ongerepte deel van die land gaan verken.
HIER IS ALLES WAT JY KAN VERWAG:
DAG 1: Ons kry mekaar vroegmiddag in die buitewyke van Lusikisiki (’n uur se ry van Port St. Johns of Kokstad) en ry na die eerste kamp op die Msikabarivier wat die grens van die pragtige Mkambatinatuurreservaat vorm. Ons bly vir twee aande hier. Elke tenteenheid met ’n houtdek het twee dubbelbeddens, ’n en suite-badkamer, warm stort, spoeltoilet en sonkragligte. Dié kamp is geleë in die kuswoudstreek op die strand. Voor ’n heerlike aandete is daar genoeg tyd om op die strand te gaan stap.
DAG 2: Ná vroegoggendkoffie en beskuit kan jy op die strand stap of op die Msikabariviermonding roei. Ná ’n groot ontbyt – en met die piekniekmiddagete gepak – vertrek ons op ’n daguitstappie. Langs die pad sal ons verby ’n kransaasvoëlkolonie ry – die skaarsste aasvoëls in Afrika. Kronkelende tweespoorpaaie langs die kuslyn neem ons na die plek waar die Grosvenor gesink het, en hier sal jy meer hoor oor hoe mense deur die jare na die misterieuse geheime skat probeer soek het. Op pad daarheen is daar genoeg tyd om die nabygeleë strand te verken en selfs onder ’n waterval af te koel. Laatmiddag keer ons terug na die kamp vir ’n skemerkelkie op die strand en aandete.
DAG 3: Ná ontbyt pak ons die pad na ons volgende kamp, deur teeplantasies en indrukwekkende watervalle. Ons besoek ook ’n vliegveld wat in die Tweede Wêreldoorlog gebruik is en skuilings waarvandaan Duitse U-bote aangeval is. Ons kampplek die volgende twee aande is soortgelyk aan die eerste blyplek, en dit het ’n uitsig oor ’n ongerepte riviermonding. Laatmiddag kan jy op die strand stap, roei en selfs hengel.
DAG 4: Ná ’n stewige ontbyt val ons in die pad. Op vandag se roete sal jy plek-plek ’n tegniese 4x4-deel moet ry. Ons bestemming is ’n afgesonderde strand, en om daar te kom moet ons deur inheemse subtropiese woude ry. Ons eet middagete op pad en keer terug na die kamp.
DAG 5: Ná ontbyt groet ons, en ons begelei jou tot op die teerpad tussen Lusikisiki en Port St. Johns.