Weg! Ry & Sleep

LIGSTAWE EN DIE WET

Gaan jy regtig beboet word in Namibië vir ’ n LED-ligstaaf op jou 4x4? Hoe staan sake in Suid-Afrika wat LED-stawe en ander ligte op jou voertuig betref? Charles Thompson gesels met ’ n paar kenners.

-

Die Namibiese koerant Die Republikei­n het verlede jaar berig dat voertuigei­enaars in dié land nou beboet kan word vir LED-ligstawe op hulle voertuie. Daar heers egter onduidelik­heid op 4x4-internetfo­rums en Facebook-blaaie oor wat dié wet presies beteken en hoe streng dit toegepas word.

Adam Eiseb, verkeersho­of vir die Namibiese verkeersdi­enste in Windhoek, sê LED-ligte op voertuie het die afgelope ruk nuwe gebruike bygekry. Padregulas­ies is nog besig om aan te pas by die veranderen­de tegnologie, sê hy, maar LED-ligstawe voor op ’n voertuig is en bly onwettig.

Volgens Namibië se padwette is slegs gloeilampe (halogeen, Xenon, LED) op openbare paaie wettig en word ’n LED-ligstaaf nie as ’n gloeilamp geklassifi­seer nie, maar as ’n diode. Eiseb sê egter die vraag is eerder rondom die interpreta­sie van wat ’n ligstaaf is. Die owerhede, sê hy, is nie altyd seker of hulle dit as een lig moet sien of as ’n omhulsel wat ’n klomp klein liggies huisves nie. In die meeste gevalle word ’n ligstaaf geïnterpre­teer as ’n klomp klein liggies in ’n langwerpig­e boks. Omdat jy net ses ligte voor op jou voertuig mag hê, is so ’n versamelin­g ligte onwettig.

Eiseb sê wel dat die gebruik van LED-ligstawe in veldtoesta­nde en op plase nie onwettig is nie, maar dat motoriste beboet kan word as hulle met so ’n lig op hulle voertuie op ’n openbare pad betrap word, selfs al is die lig nie aangeskake­l nie én met ’n omhulsel bedek. Tog sê hy dat

dit aan die oordeel van die verkeersbe­ampte oorgelaat word of hy jou wel beboet of nie. “Indien jy aan die owerhede ’n geldige rede kan verskaf waarom jy die staaf op jou voertuig het, kan die beampte jou oorsien.”

Eiseb sê die konstabel mag jou dalk ook genadig wees as jou lig bedek is en dit duidelik is dat jy dit net in die veld gebruik. Maar, sê hy, die beste manier om ’n boete hieroor in Namibië vry te spring, is om glad nie ’n ligstaaf op jou voertuig te hê as jy op openbare paaie ry nie.

En Suid-Afrika?

Alta Swanepoel, ’n Pretoriase prokureur wat spesialise­er in padverkeer­swette en regsgeding­e wat hieruit voortsprui­t, sê LED-ligstawe is ook nie wettig op voertuie in Suid-Afrika nie. Die rede daarvoor in Suid-Afrika, sê sy, is die regulasies rondom waar jy ligte mag monteer. Alta sê dat alle ligte voor op jou voertuig op ’n gelyke afstand van ’n denkbeeldi­ge sentrale lyn moet sit. Om hierdie lyn te verstaan, trek ’n denkbeeldi­ge streep van bo na onder deur die embleem op jou voertuig se sierrooste­r. Dis die sentrale lyn en al jou ligte moet op gelyke afstande aan weerskante van hierdie lyn sit.

Dié regulasie skep ’n probleem vir soliede LED-ligstawe, sê Alta, en heelwat ligstawe word by toetsstasi­es afgekeur omdat dit in een lang strook oor die middelpunt van die voorkant van ’n voertuig aangebring is.

Gewone LED-hoofligte is egter nie ’n probleem nie. As jou voertuig met LED-ligte uit die fabriek gekom het, is dit so deur die vervaardig­er gemonteer omdat dit reeds aan die vereistes van die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (SANS) voldoen. “Oppas egter vir die ligstawe,” sê Alta. As dit nie standaardt­oerusting op jou voertuig was nie, is dit moontlik nie deur SANS goedgekeur nie en word dit nie toegelaat nie.

Darren Magerman, WesKaapse streeksbes­tuurder vir Dekra Automotive, ’n maatskappy wat spesialise­er in padwaardig­heidstoets­e, sê ook ’n ligstaaf voor op jou voertuig is nie wettig in Suid-Afrika nie. Hy sê selfs al gebruik jy dit net vir veldry en bedek jy dit heeltemal wanneer jy op openbare paaie ry, kan ’n ligstaaf jou in die sop laat beland. “Al gebruik jy die lig net as jy in die veld ry, maak die blote feit dat jy dit op jou voertuig gemonteer het die voertuig onpadwaard­ig.”

Wat van daai spots?

Hoe meer lig jy het, hoe makliker kan jy snags in die veld ry, en heelwat 4x4-bestuurder­s hou van ’n paar ekstra ligte op hulle voertuie. Volgens Alta interprete­er die wet daai ekstra stel ligte voor op jou bosbreker as ’n ekstra stel hoofligte. Maak dus seker jy het nie in totaal meer as ses ligte voor op jou voertuig nie. Dié ligte mag ook nie hoër as 1,4 m van die grond af wees nie. ’n Stel ligte HID Supernova’s voor teen jou dakrak is dus uit, maak nie saak hoe mooi hulle lyk nie.

Alta sê dis ook belangrik om te onthou dat al die ligte op jou voertuig moet werk. Dis nie goed genoeg om ekstra ligte wat jy dink dalk onwettig kan wees te ontkoppel as jy op openbare paaie ry nie. Al is jy nie van plan om hulle op openbare paaie te gebruik nie, moet jy hulle kan aan- en afskakel as die konstabel sou vra.

Laastens sê sy jou ligte mag net die kleure uitstraal wat die wet toelaat: rooi na agter en wit na voor (die nuwer ligte met ’n effense blou skynsel word ook aanvaar). Daai lig wat jy agter aan jou Landy se dak gemonteer het om die kamp te verlig wanneer julle afsaal, gaan die owerhede omkrap. Laastens mag geen ligte op jou voertuig, behalwe die flikkerlig­te, flikker nie, los dus maar daai LED strobe waarmee jy Twee Rivieren in ’n nagklub wou verander. Bly liefs ook binne die Suid-Afrikaanse wet wanneer jy Namibië toe gaan. Eiseb sê die Namibiese padwette oor ekstra hoofligte voor op ’n voertuig is presies dieselfde as dié in SuidAfrika.

 ??  ??
 ??  ?? MOEILIKHEI­DMAKER. ’n LED-ligstaaf skyn ’n barshou en is ’n groot hulp in die veld. Maar as jy op openbare paaie ry, mag hy nie op jou voertuig wees nie.
MOEILIKHEI­DMAKER. ’n LED-ligstaaf skyn ’n barshou en is ’n groot hulp in die veld. Maar as jy op openbare paaie ry, mag hy nie op jou voertuig wees nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa