GEEN KANS VIR OMDRAAI NIE
Ek weet nie of daar ’n woord daarvoor is nie, maar daar is ’n spesifieke gevoel wat ek altyd kry kort nadat ek met ’n reis begin het. As ek uit die Kaap noordwaarts ry, sal dit my min of meer in Piketberg se omgewing tref. As ek in Gauteng gebly het en op pad was na Botswana of Namibië, sou dit my iewers naby Zeerust beetgepak het.
Dis die besef dat dit nou te laat is vir omdraai as jy iets by die huis vergeet het. Amper soos die een wintervakansie op laerskool – toe ons van Newcastle af na Mariental toe gery het vir ons jaarlikse wintervakansie by familie in SWA – en ek naby Bethlehem besef het dat ek toe nooit die Gecado Model 23-windbuks ingepak het nie.*
Van daai punt af vorentoe hanteer ’n mens probleme soos hulle opduik, want die trip het nou al ernstig momentum begin opbou. Jy’s soos my vriend Dana Snyman sou sê, “op die toneel”.
En dis omtrent waar die Maart-uitgawe op jou 2015-pad lê. Jou nuwejaarsvoorneme (so, hoeveel keer het jy intussen al jou nuwe gim-lidmaatskap benut?) het dalk al ’n maand of twee gelede harpuis geruik en jy krap nog steeds kop oor daai een besoek aan Makro se drankafdeling op jou kredietkaartstaat. Kan jou skoonfamilie régtig so baie kuier? Maar hier is jy nou, steeds besig om kop bo water te hou en terwyl jy wonder waarheen julle spannetjie volgende wil reis.
Mense stuur weekliks vir ons stories oor hulle reise in Suid-Afrika en ons buurstate en ek is altyd beïndruk met hulle avontuurlus. Hoekom besluit mense om die Oostelike Hooglande van Zimbabwe te gaan verken as hulle eerder vir ’n week op Hartenbos in ’n karavaan kan gaan kamp en na die bure se Bles Bridges-CD’s luister?
Want dis in hulle bloed, dis hoekom. Ek dink nie jy kan sommer iemand ’n “heelpad grondpad”-mens máák nie. Jy word so gebore. En dis hoekom jy wil weet wat oor die volgende bult lê, hoe die volgende rivier lyk en wat die paadjie ’n ent vorentoe gaan maak.
En vir sulke mense is daar oorgenoeg stof tot nadenke in hierdie uitgawe. Chris van der Merwe, dieselfde ou wat saam met vriende ’n jaar of wat gelede Hunters Road in Botswana in die reënseisoen aangepak het (ek dink soms hy is effens van sy lotjie getik) en vriende het dié slag Mabuasehube se leeus in die middel van die snikhete somer gaan soek. Maar mense soos hy het nie een dag opgestaan en besluit om anders te wees nie. Dis hoe hy is – en ons kry die voordeel van lekker stories met pragtige foto’s.
Dale Morris het weer met ’n skouspelagtige spul foto’s en ’n lekker storie teruggekeer van ’n amper twee weke lange avontuur in Zimbabwe.
En dan het Evan die Wildekus vingeralleen gaan verken – en is in die proses plekplek vir ’n hippie aangesien. Hoofsaaklik omdat hy meer soos ’n hippie lyk as baie hippies self. Mense raak mettertyd sy lang hare en hiper-rustige ( laid back is die eintlike beskrywing) geaardheid gewoond. En as jy hom ooit raakloop, onthou tog net dat hy eintlik maar net ’n goeie Weskusklong met ’n onderwyser van ’n pa is, al lyk hy soms soos ’n bleek Bob Marley.
Charles het ook vir ons gaan kers opsteek by kenners oor die wettigheid (of nie) van LED-ligstawe en ’n paar ander ligverwante sake. Gerrie het gaan kyk na ’n versameling kameras vir diegene wat wil opgradeer van hulle selfoonkameras – maar nog nie heeltemal lus is vir daai groot menere waarmee die professionele ouens kaal meisies en vinnige karre afneem nie.
En Lise Beyers wys vir ons op haar gebruiklik fieterjasievrye manier hoe om lekker hamburgers op ’n vuur te maak as jy iewers kampeer. Met die een resep haal jy byvoorbeeld vinnig die maalvleis uit boerewors (ons neem aan jy reis altyd met boerewors, reg?),
pimp dit ’n bietjie met ekstra bestanddele en siedaar, jy eet koningskos. So wie’s bang vir 2015? Nou ja, maak vas die sitplekgordels en hou vas. Hier gaat ons.
* Die windbuks se vergeet het darem ’n goeie nadraai gehad omdat ek daai vakansie vir die eerste keer toegelaat is om (onder streng toesig) met my oupa se Remington .22-geweer te skiet.