Ry die onbekende GAMTOOS S
Gaan wild in die WILDEKUS!
FOTO’S: MILEMAN MEDIA EN GERRIE VAN EEDEN
Wat kry jy as jy ’n trop kanariegeel Jeep Rubicons, ’n handvol joernaliste en baie reën op die minder bekende agterpaadjies aan die Wildekus saamgooi? ’n Wenresep vir ’n paar dae se ordentlike veldry, en nuwe respek vir die sagte beddens van hotelle en chalets. Dié lesse het ek onlangs geleer toe ek die General Tire Adventure van Keimond tot Mazeppabaai in die reënseisoen aangepak het.
Val in die pad
Voor in ons konvooi Jeeps is Rynhardt Stander en Koos Enslin, ons toerleiers van Extreme Terrain Adventure wat gereeld toere op hierdie roete aanbied. Met ’n skelm glimlag beskryf Rynhardt presies hoe erg die roete is wat vandag vir ons voorlê – modderige paaie, groot kliptrappe en rivierkruisings wat jou en die voertuig se vermoë gaan toets. Daar is blykbaar darem ook ’n klomp pragtige uitsigte en plekke waar daar nie baie mense kom nie. Met só uitstappie kan ’n mens mos nie fout vind nie, of hoe?
Nadat ons die pont oor die Keirivier oorgesteek het, maak ons uiteindelik kennis met die modderige grondpad. Die dreigende wolke op die horison laat die Indiese Oseaan aan ons regterkant onheilspellend donker lyk. In weer soos hierdie kan jy verstaan hoekom daar aan die Wildekus byna net soveel skeepswrakke lê as wat jy aan die berugte Weskus sal kry. Dié wêreld is boonop afgesonder, veral die paadjies wat ons vandag gaan ry.
Rynhardt het vroeër vertel dat dit ’n spesiale konsessie is wat hulle met plaaslike owerhede en ou stamme en voormanne van die ou Transkei gereël het. Dis ook net hulle wat mense op hierdie paadjies op toere kan neem. Ons kan dus regmaak vir plekke waar daar nog nie baie mense was nie.
Noord van die Keirivier lyk die omgewing sommer baie anders as die een wat ons agtergelaat het in OosLonden en Keimond. Hier is nie meer winkels of teerpaaie nie. Die nedersettings is eintlik maar net 10 of so hutte wat bymekaar gebou is. Hier en daar kry jy dalk ’n telefoon of kragpaal. Soos die res van die Wildekus is dit werklik nog wild hier.
Vir die eerste ruk ry ons goeie grondpad voor ons tussen twee hutte afdraai op ’n tweespoorpaadjie. Skaars ’n kilometer verder lê die eerste uitdaging – ’n steil afdraand met groot kliptrappe voordat ons begin klim aan die anderkant van ’n kloof uit, teen nóg groot kliptrappe. Die regte lyn is noodsaaklik, want met die reën wat geval het, is die klipperige klei so glad soos seep. ( EkweetGerriewou’nanderwoordgebruik,maar dis’ngesinstydskrif.–Jaco)
Maar jy het meer as gladde klippe nodig om die Jeeps te keer en die hele konvooi staan en glimlag gou aan die anderkant van die eerste hindernis. Die res van die dag se roete is baie dieselfde, behalwe dat die nat klippe soms met riviere vervang word, maar hulle is gelukkig nooit dieper as jou kuite nie.
Die reën het ook nog nie só hard geval nie. Maar die uitsigte wanneer ons in elke nuwe vallei of klofie inry, laat jou mond oophang. Dié mooi is deel van die Wildekus se betowering. Nes jy dink jy het die mooiste uitsig vir die dag gesien, kom die volgende een om die hoek geswaai soos ’n Mike Tysonlinker.
Na ’n vol dag se ry kom ons in gietende reën by die Wavecrest Beach Hotel aan. Die grasdakchalets wat op die strandmeer uitkyk, is gemaklik ingerig en ’n warm stort ná die reënerig aankoms is net die regte ding. Al hou ek daarvan om in ’n tent te kamp, is ek baie bly dat ek nie vanaand hoef tent op te slaan en my slaapsak uit te rol nie.
BIETJIE DAAI KANT TOE (bo). Die span van Extreme Terrain Adventures en General Tire het almal veilig oor en deur die hindernisse gekry.
Nog reën, nog mooi
Die tweede dag se roete beloof om ’n bietjie meer uitdagend te wees. Ná die reën wat gister geval het, is Rynhardt en Koos onseker of al die paadjies wat ons vandag wil ry nog begaanbaar gaan wees. “Ons sal hom maar op gevoel speel,” laat weet Rynhardt oor die tweerigtingradio toe die konvooi reg staan om te ry.
Agter in die konvooi is Scott “LB” Williams, ’n Amerikaner met ’n weermagagtergrond wat deesdae deur die Reserve Protection Agency (RPA) in SuidAfrika by wildbewaring betrokke is. Sy taak is spesifiek om stropers te keer.
Deel van die RPA se taak is om tegnologie wat deur die Amerikaanse weermag ontwikkel word vir die teenstropingseenhede, in SuidAfrika aan te pas en te verskaf. Goed soos nagsigtoerusting, infrarooiverkykers en satelliettegnologie om die bewegings van diere na te spoor, maak die taak heelwat makliker.
Scott ry met ’n spesiaal ingevoerde J8 Jeep, ’n ryding wat vir militêre gebruik ontwerp is. Nadat hy amper ’n kleinhuisie vol bande weens stukkende sywande verloor het, het General Tire vir hom ’n stel modderbande vir die Jeep gegee.
“En ek het nog nie weer ’n band verloor nie,” sê hy in sy swaar Amerikaanse aksent.
By elke hindernis word daar gepraat van die Amerikaanse manier van ry, wat eintlik maar net beteken dat Scott nie met sy regtervoet terughou nie. “Die versneller is daar om getrap te word, en met al die toerusting in my Jeep, het ek meer momentum nodig om bo uit te kom,” verdedig hy homself.
Jou turf gaan sit
Voor een lang bult kom die konvooi tot stilstand. “Ons moet eers die bult uitstap,” sê Rynhardt en Koos. Halfpad boontoe sien ons hoekom. As jy hier net aan ’n verkeerde lyn dínk, gaan jy vassit, en dan sit jou turf. Want niemand sien
kans om teen dié bult agteruit af te ry nie.
Een vir een kry ons die kans om na bo te ry. Daar aangekom, is die uitsig die een ding wat ons nie kon verwag het nie. Ons staan boop ’n koppie met ’n riviermonding en die Indiese Oseaan in die agtergrond. Daar is donker reënwolke wat net nie wil wyk nie.
Gelukkig begin dit eers reën toe almal bo is, maar ek kan sien dat Rynhardt en Koos ongeduldig begin rondstaan toe almal eers wil foto’s neem. Ons volgende hindernis is ’n steil grondbult wat in hierdie reën meer ’n moddersloot is.
Die konvooi staan vir ’n hele ruk en wag in spanning aan die onderkant van die bult. Rynhardt en Koos is vooruit en het ons aangeraai om te wag. CarriAnne Kelly, ’n vryskutjoernalis, is saam met my in die Jeep en sit agter die stuur.
Van waar ons sit het ons al die perfekte lyne uitgekies en ons strategie mooi beplan tot waar die pad om ’n draai halfpad teen die bult op verdwyn. Toe kom Koos en Rynhardt afgestap om vir ons ’n beter lyn te wys. “Julle lyn sou gewerk het, maar net tot by die draai. Dis waar die groot pret begin. Julle moet net momentum hou,” raai hy ons aan.
Ek is bly ons het die Jeep se afslaandak vroeër toegemaak, want toe ons wegtrek, vlieg die modder in alle rigtings.
Met genoeg wieltol kan jy in teorie modder van jou bande laat afvlieg om beter vastrap te kry. Die teorie word in praktyk bevestig en ons kom moeiteloos tot bo.
Nadat die hele konvooi uiteindelik bo is, besluit ons dat as hierdie stuk só lyk, die res heeltemal onbegaanbaar sal wees. Van hier af ry ons grondpaaie wat ons maklik tot by Mazeppabaai neem.
Die aand is daar weer skoon beddegoed en ’n warm stort. Maar selfs al sou ons in tente onder die sterre geslaap het, sou ek met ’n glimlag gaan lê het. En volgende keer as ek kom, sal ek nie bekommerd wees oor waar ek slaap nie, net solank ek elke dag tussen groen heuwels en tropiese woude kan rondry.
Ek is bly ons het die Jeep se afslaandak vroeër toegemaak, want toe ons wegtrek, vlieg die modder in alle rigtings.”