Weg! Ry & Sleep

JACO GESELS

Kersfees en karre

-

Ek dink ek het teen dié tyd darem al van die Bull Run herstel. Julle moes dit aanskou het: meer as 120 rygoed, ver oor die 300 deelnemers en omtrent 200 toeskouers. Geen drama, geen klagtes, net groot pret. En baie stof. Maar dit was nie irriterend­e stof nie, dit was die stof van rygoed en hulle entoesiast­iese insittende­s wat besig was om vet pret in die Vosburg-omgewing te hê.

Ons het in hierdie uitgawe ’n paar blaaie afgestaan aan vanjaar se Bull Run, maar of dit regtig vir jou ’n idee kan gee van hoe fantasties (en ’n bietjie mal) hierdie byeenkoms was, is te betwyfel. Dus is die enigste manier waarop jy regtig in die pret kan deel, om volgende jaar betyds in te skryf. En nee, Gerrie gaan nie nou al met jou kan praat nie.

Want ons was die laaste ruk baie besig met ons jaarlikse Kerskoopgi­ds. Of jy nou op soek is na ’n stel LED-ligte vir jou ryding of kampplek en of jy ’n bul van ’n koelboks wil hê, ons het iets vir elkeen.

Soos gewoonlik is dit ook weer tyd vir ons 4x4 van die Jaar-toekenning­s. Daar is mos ’n Engelse gesegde wat lui: Beware of the man who has only read one book.

As jy dink só iemand is gevaarlik, moet jy kyk na die e-posse of haatbriewe van mense wat net een bakkie ken! As jy baie voertuie ry, besef jy naderhand dat elke ryding goeie én slegte eienskappe het. Die feit is dat daar nie iets soos die perfekte ryding bestaan nie. Wat vir jou ’n hemelse ervaring is, kan vir ’n ander ou ’n bron van eindelose irritasie wees.

Sommige manne het nog nie ’n moderne outomaties­e ryding in die veld probeer nie, terwyl ander ouens weer oortuig is dat ’n turbo-enjin na 50 000 km spontaan gaan opblaas.

Nouja, as ek kyk na die min meganiese simpatie waarmee sommige mense bestuur, is ek verbaas dat van hulle langer as 30 000 km hou, maar dis ’n gesprek vir ’n ander dag. Die feit is dat wanneer jy met goeie oordeel en die regte tegnieke bestuur, jy die meeste terrein met die gemiddelde 4x4 kan kafdraf.

Daar is vanjaar twee nuwe wenners in baie gewilde segmente: die Ford Ranger en Everest. Volgende jaar stel Toyota weer hulle nuwe Hilux en Fortuner hier bekend en dan het ons dalk weer nuwe wenners. Of dalk nie. So werk die lewe mos maar.

Kyk, as jy my in ’n hoek sou vaskeer en aandring dat ek vir jou sê “wat is die beste 4x4?”, gaan ek jou my standaard-antwoord gee: “Die een in jou garage. Verkieslik in wit.”

Nouja toe, maak vas die gordels. Hier gaat ons.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa