STOFPADSTORIES
’n Verjaardagkoek op die grondpad
“Tam! Tamtamtam! Tamtamtaaaaaam! The eye of the tiger...” Die jukebox in die Stasie Hotel op Wellington vibreer met die klanke van Rocky. Ek het pas ’n munt ingegooi en staan en pomp die eerste akkoorde daarvan met my vinger in die lug. Die ander gaste in die Perron 6kroeg druk hulle biere in ’n saluut na bo en iemand wilwil sommer begin boks. Daar is egter niemand om mee te baklei nie, want dis net ons groepie wat die Sondagnamiddag voor die hotel se deur gestaan het toe hulle oopsluit.
Dit is drieuur in die middag en die reuk van Jeyes Fluid op die parketvloere hang in die lug. Ons drink ’n laaste dop voordat ons ná ’n naweek van grondpadry elkeen koers kies huis toe.
Ons avontuur het twee dae tevore in Melkbosstrand begin, met ’n naweekgroepie van vier ingenieurs en ’n natuurbewaarder op groot avontuurmotorfietse. Ek en my man, Richard, was die enigste met ’n vierwielryding – ons kortgat Lada Niva. Ons wou van Melkbos na Driehoek ry, ’n plaas diep in die Sederberge waar jy kan uitspan langs ’n kabbelende stroompie.
Dis koud langs die see by Melkbos terwyl ons vir Doug die Amerikaner wag. Doug is ’n Harleyryer, maar hy’t ’n BMW vir die naweek se toer gehuur.
O ja, vra een die vrinne, sal jy asseblief my koek inpak? Dit was ’n verjaardagnaweek en as nagereg vir die aand se braaivleis het Elna drie plat houertjies soetgoed by die tuisnywerheid gekoop.
Soos bonsaikoeke is hulle, netjies verpak onder plastiekdekseltjies, vroom op foamalite uitgestal – rooi fluweel met meringuetorings as versiering, pikante suurlemoentertjies en handmelktertjies met kaneelpatrone.
Die kattebak is piepklein, en daarom het ons die agtersitplek platgeslaan om duvets, warmgoed, vuurmaakhout en drinkgoed in te pak. Snoesig sit die koekies toe langs die hout en beddegoed ingewig, reg vir ons om te vertrek.
Dis laatoggend. Die lug is vars en skoon en die grondpaaie is nat en vol plasse ná die nag se reën. Op ’n stuk sinkplaatpad naby Darling kom een van die dekseltjies los en drie rooifluweeltjies rol tot in my hand. Ek gee een vir Richard en maak weer toe.
Ons stop vir koffie en ontbyt. Iemand koop 2 litermelk, 18 biere, ’n bos plastiekblomme vir die verjaardagmeisie en nog ’n sak hout. Dit word ook in die Lada gelaai. Ek herrangskik die koeke – almal sit stewig – en ons val in die pad vir die volgende skof tot in Citrusdal.
Daar hou ons stil by die Spar. Sakke met bakkies aartappelslaai, stukkies hoender, ’n kerriemaalvleisvetkoek, sjokolademelkie en 12 piesangs word in die Lada gelaai en ons ry met die grondpad al langs die Olifantsrivier. Die smal paadjie is sleg sinkplaat en ons skud elkeen ’n lemoentertjie los.
By die kruispad waar ’n mens regs draai na Algeria, roep ons halt. Soos bobbejane in stywe kerkpakke klim ons die rotse bo die kruispad uit en elkeen kry sy sit met sakkies en boksies kos.
Onder in die grondpad hou ’n motor met knarsende bande stil. ’n Ou tannie met blou hare roep: “Wiese Lada issit daai?!” “Myne!” bulder Richard. “Het hy tot hier gery?!” gil sy terug. “Nee, ek’t hom gestoot!” antwoord hy.
“Kan ek ’n foto neem?” skreevra tannie.
Sy vertel dat sy ook ’n Lada in Pretoria het, maar dat hare se enjin heeltemal oorgedoen is.
Dit is tyd vir die Nieuwoudtspas en die Lada skud soos boude in ’n hipsterbroek. Boop die pas probeer ons Elna se koek tot orde roep. Een van die houertjies glip oop en ’n melktertjie tref my in my mond. Ek skuif die ander tertjies reg sodat niemand die gat kan raaksien nie, maar ons is skaars naby die bopunt van die Uitkykpas toe ’n suurlemoenpie vir Richard skuins op sy tong tref. Weer pak ek die spulletjie reg.
Vanaf Uitkykpas skyn die son se laaste geel strale oor die Algeriavallei. Dit was ’n lang dag en ons is honger. Ian die Skotsman knak ’n bier oop en sug behaaglik. “Where else would you want to be?” Niemand antwoord nie – dis nie nodig nie.
Later die aand, toe die volmaan agter die rotse opkom en deur die populierbome beur, staan ons groepie digby die braaivleisvuur om die skerp koue te ontsnap. Pakkies vleis word oopgemaak en die rooster word netjies soos ’n rooi, vlesige legkaart gepak.
Judy trek ’n kussing met Woolworthsslaai oop en ’n stapel braaibroodjies balanseer op die muurtjie langs die braaiplek. “Waar’s die koeke?!” gil Koos skielik. Ek soek ’n muggie in my whisky en Richard speel senuweeagtig met die braaitang en ’n bierdoppie. “Is daai ’n uil?” vra ek onskuldig, en wys in ’n ander rigting.
Ná al die geskud is daar chaos in die Lada. Die braaihout en die duvet was in ’n onderonsie met die suurlemoenkoeke. Die rooi fluweeltjies het omgetiep en ’n streep meringue oor die linkerruit gelos. Van die melkterte is daar net drie oor. Dis amper te veel vir Elna en sy draai om vuur toe.
Ek haal die kartonboks uit die swartsak. Die dubbellaagsjokoladekoek met blomme van donker sjokolade en spieëlgladde sjokoladeganache is perfek, vlekkeloos en onbeskadig. Ek druk al 45 kersies in ’n sirkel en steek hulle aan.
Ons loop terug vuur toe. Tam! Tamtamtam! Tamtamtaaaaaam… Dis Elna se selfoon.
En aan die ander kant hoor ek haar susters skree: “Geluk, liewe Elna omdat jy verjaar!”
die