LESERSTORIE
Drie gesinne in Damaraland
Dit het alles begin met ’n gesprek oor rygoed – watter een die beste klippe klim, die beste in sand vaar en die minste brandstof gebruik. Die gewone dinge waaroor 4x4entoesiaste praat.
Ek en Annas Botha, die eienaar van TJM in Middelburg, wat my 2009Fortuner van voor tot agter toegerus het, was besig om die Toyota te evalueer ná my reis na Kaokoland. Hy het die ding so gestaan en kyk en gesê: “Wanneer gaan ons weer?”
Ek was baie entoesiasties en toe my broer, Deon Labuschagne, wat pas vir hom ’n Ford Ranger gekoop het, ook wou saamgaan, was die koeël deur die kerk. Ons was op pad Damaraland toe.
Die wenspan
In ons groep was: Annas en Rinalda en hulle kinders, RiAnn (14) en Annas junior (13) (The Fantastic Four). Hulle het Volkswagen verteenwoordig in hulle 2011Amarok. Deon en sy vrou, Sandra (The ATeam), het Ford verteenwoordig in ’n 2015Ranger XLT 3.2. Ek en my vrou, Glynnis, en ons drie seuns Andrew (14), Shaun (10) en Eckard (9) (The Big Five), was Toyota se ambassadeurs in ons 2009Fortuner 3.0 D4D.
Ons is vieruur op ’n koue wintersoggend uit Middelburg weg en het vir Deonhulle in Pretoria ontmoet. Die 1 200 km na Grünau het gelukkig net een spoedboete opgelewer en die volgende dag se 1 000 km tot op Swakopmund was,
soos altyd, ’n belewenis van die oop ruimtes waarvoor Namibië bekend is. Dit was veral opvallend hoe uitstekend die paaie (teer, sout én grondpaaie) onderhou word.
Ons het eers drie dae in Swakopmund oorgebly om die gasvryheid en bekoring van hierdie kusdorpie te beleef.
Ons was onder meer vir ’n halfdag duine toe om die interessante natuurlewe van woestyndiertjies en plantlewe te ervaar, en te danke aan Tommy Collard, ’n woestyndeskundige wat groepe in die duine invat, het ons besef hoe ingewikkeld en interafhanklik die lewe in die woestyn regtig is.
Renosters in die woestyn
Ons het die Maandagoggend uit Swakopmund vertrek met die soutpad na die noorde en kon gou aan ander goed as beurtkrag en die ekonomie begin dink. Wlotzkasbaken se ontsoutingsaanleg, Bennie se Rooi Lorrie en Tolla en Sarah se Gat het ons gebring tot by Myl 100, waar ons binneland toe gedraai het.
Dit was die begin van die afblaas en opblaasroetine met die bande. Die sinkplaatpaaie van daardie wêreld vra mos maar vir sagter bande.
Sowat 10 km die binneland in tref ons toe die Messumrivier en kies daarmee koers in die rigting van Brandberg. Dis dalk moeilik om te glo, maar hierdie roete is ’n wildrit met ’n verskil. Die rotsformasies, geskep deur eeueoue wind en watererosie, het ’n pretpark vir die verbeelding geskep. In die rotswande vind ons renosters, vlakvarke, leeus, volstruise en wat ’n mens se verbeelding ook al kan sien.
Dis asof die wilde diere ’n ogie hou oor die Ford, die Volkswagen en die Toyota se vordering in hulle rivierbedding. Die rotsformasies sal enige tiener van sy tabletrekenaar en selfoon laat opkyk om opgewonde saam te help soek na al die diere in die omtrek.
Ons plan was om die eerste aand in die Brandberg te slaap, maar hierdie wildrit was só lekker dat ons daar en dan besluit het om eerder in die Messumrivierbedding aan die voet van die Brandberg kamp op te slaan.
So ’n ekspedisie is altyd meer as net die reis van punt A na B. Een hiervan is die “selfonderhoudende” kampervaring. Met selfonderhoudend bedoel ek jy is vir alles self verantwoordelik – jou eie water, badkamer en kombuis.
Dit vereis goeie organisasie en daarom het dit vir my en my gesin oor die jare ’n uitdaging geword om die werksverdeling te vervolmaak. In ons span is daar ’n tentmeester (Andrew), ’n kratmeester (Shaun), ’n dakmeester (Eckard) en allerlei ander verantwoordelikhede wat tussen die span verdeel word.
Om te help kosmaak, blyplekke in te rig en om onder ’n boom te stort, gee vir kinders ’n spanbougevoel wat niks kan klop nie.
Die Ugab
Met ’n gevoel van kleinwees in hierdie groot heelal het ons die tweede dag noordwaarts koers gekies teen die Brandberg, in die rigting van die Numasrivier, en met die Numas Schlucht tot in die Ugabrivier gery.
Dié rivierbedding is enige natuur en 4x4liefhebber se droom. Ons is ooswaarts in die Ugab op, en kom toe af op die verwoesting wat ’n veldbrand aan die omgewing aangerig het. Die impak daarvan op die dierelewe is baie groot en ’n mens wonder hoe so ’n vuur ontstaan het. Jy hoop maar net dit was nie die gevolg van onverantwoordelike kampeerders nie.
Waar die riete weer begin uitgroei het in die moerasgedeelte van die rivierbedding, het ons ons egter vasgery – ons kon nie deur die moeras kom nie. Ons ry toe maar terug weswaarts om deur die
Elke dag dink jy dit was die hoogtepunt van die toer, net om die volgende dag nog ’n beter ervaring te beleef.”
hindernisse van moeras, klip en water tot by Divorce Pass te ry, en so uit die rivierbedding te kom.
Hier, tussen die moerasse en klippe, is ons voertuie en bestuurders vir die eerste keer waarlik beproef. Ons moes gereeld nuwe paaie soek en vir mekaar wys watter lyne om te ry. Maar die kombinasie van opwinding en bekommernis is verslawend en dít is wat ’n mens jaar na jaar sal laat terugkom.
Divorce Pass, terloops, word só genoem weens die effek wat die ry daarvan op die verhouding tussen die bestuurder en medebestuurder het!
G’n twyfel oor Twyfelfontein
Uit die Ugab is ons noordwaarts na ons volgende rivierbedding – die Goantagab.
Ons moes weer wiele afblaas vir die diep, los sand. Die derde aand se kamp in die Goantagab was veral spesiaal oor die indrukwekkende sterrehemel. Ons het eers ’n bietjie asem geskep en die volgende oggend ’n “badkamer” ingerig.
Ons het ’n stort onder ’n boom geprakseer en ’n mens kon voel hoe die son lekker op jou lyf bak terwyl jy afspoel. Beter as die Hiltonhotel, het Deon opgemerk.
Uit die Goantagab is ons toe noordwes in die rigting van Twyfelfontein, waar ons gestop het vir ’n vinnige lafenis en ook weer diesel kon kry (50 ppm, nogal!).
Elke dag dink ’n mens dit was die hoogtepunt van die toer, net om die volgende dag nog ’n beter ervaring te beleef. Dit was hoe ons gevoel het toe ons die vierde aand in die AbaHuab geslaap het. Hierdie rivierbedding is ’n lushof van wild, met olifante, leeus, luiperds en allerlei ander wild in oorvloed.
Toe ons die oggend wakker word, was Eckard opgewonde, want hy het daardie oggend nege jaar oud geword. (Die vorige jaar het hy in die Hoaraseb in Kaokoland verjaar. Hoe gelukkig kan ’n mens wees!)
Hierdie kamp opslaan was ongelukkig ons laaste in die woestyn.
Ons was egter nie te hartseer daaroor nie, want dit was ’n avontuur wat ons op alle maniere verryk het en wat ons net weer en weer wil aanpak.
Ná so reis het elke lid van ons geselskap altyd hulle eie hoogtepunt – die kampbouery, ’n aand om die vuur met ’n potbrood en skaapskenkels, die stort onder die boom, die sterrehemel of die uitdagings van ’n 4x4ervaring wat ’n voertuig toets. Elkeen sal hierdie vyf dae in Damaraland op sy eie manier onthou, maar die herinnering is vir ewig.
O ja, en vir diegene wat gehoop het dat die een of ander voertuig stof in die toermaats se oë sal skop, het ek ’n brokkie interessante nuus: Daar was nie ’n wenner of ’n verloorder nie. My raad is dus: Koop die 4x4 waarvan jy hou en rus hom toe sodat jy self so ’n avontuur kan aanpak.
Of dit nou die Ford Ranger se wringkrag en gerief is, of die Amarok se brandstofekonomie en ruimte, of die Fortuner se eerlike en hardwerkende betroubaarheid – dié drie voertuie het almal puik 4x4vermoëns.
In geen stadium het een van hulle ’n duim teruggestaan vir die ander nie en elkeen van ons het ná die ekspedisie besluit sý voertuig is die beste.