Weg! Ry & Sleep

KORRUPTE AMPTENARE IN MOSAMBIEK

-

Ons was die afgelope Desember in Mosambiek. Ons het ’n rubberboot, jetski en drie vierwielmo­torfietse saamgeneem. Met die rit soontoe het ons twee seuns die motorfiets­e met ons Land Rover Defender gesleep, en ek en my vrou het die boot en die jetski met die Discovery gesleep. (Ek moet noem dat dit in Mosambiek onwettig is om in tandem te sleep, maar ons het nog nooit ernstige probleme opgetel nie.)

Met die terugryery begin die “komplikasi­es”. Omdat ek en my vrou via Pongola wou terugry, het ek die jetski kort buite Maputo afgehaak en dit agter die Defender gehaak. My seuns wou die Recano Garcia-grenspos gebruik. Ons het egter vergeet dat ons op ons doeanevorm­s aangedui het dat die jetski by die Discovery is. Met my seun se aankoms by Recano Garcia word die dokumente vir die jetski gevra, wat toe by my is. Maar dadelik word hy ingelig dat die “probleempi­e” met MT3 000 (sowat R1 000) opgelos kan word. Ek het nog nooit in my lewe omkoopgeld betaal nie.

My seun bel my toe en ek sê vir hom ek sal met die amptenaar by Goba praat dat hulle die Recano Garcia-pos laat weet dat ek die dokument by Goba sal inhandig. Dan is alles mos reg? Maar by Goba neem die beampte my dokument, gooi dit in ’n laai en stempel ons brief dat ons Swaziland kan ingaan. Ek vra hom om Recano Garcia te laat weet dat die jetski op daardie dokument aangedui is.

Toe wil die amptenaar ons voertuig sien om “vis te soek”. Ons hengel nie, ons skuba. Ons het geen vis nie. Later dring hy daarop aan dat ek Recano Garcia toe ry, want die jetski en die Discovery moet saam uit die land gaan. Ek verduideli­k ons diesel en kontant is op, en ons het drie spaarwiele op die slegte paaie verloor. Ek wys hom die laaste twee wat flenters is (sien die inlas).

Die amptenaar wil niks weet nie. My seun sê hy wou op Komatipoor­t diesel ingooi, maar hy gaan dit nie haal nie. Aan sy kant wil die amptenare ook nie bes gee nie. Toe bied die amptenaar op Goba ook aan dat die probleem “met ’n paar rand opgelos kan word”.

Ek besef later omkoopgeld is ons voorland. Dit was al ná 16:00 en ons was vanaf middernag op die pad. Eers gee ons die man R400, maar hy is nie tevrede nie. Hy wil R1 000 hê. Later gee hom ek hom nog R200 en wys hom my leë beursie. Ook my seun swig en betaal die R1 000-omkoopgeld aan sy kant.

Aan die Swaziland-kant van die grens was die beamptes ongeloofli­k vriendelik en het een selfs vir ons ’n padkaart aangebied. Toe ek hom hartlik bedank vir sy hulpvaardi­gheid (in kontras met die Mosambieks­e amptenare), antwoord die Swazi-amptenaar – sonder dat ek hom vertel het wat aan die Mosambiekk­ant gebeur het: “Sir, those people are corrupt.”

Die vraag is nou of ons weer Mosambiek toe sal gaan. Die antwoord: Beslis!

JACO VAN DER MERWE

CENTURION

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa