Weg! Ry & Sleep

Jy beland op ’n ongeluksto­neel. Wat nou?

Paramedici praat van die “goue uur”, die 60 minute net ná ’n ongeluk waarin ’n lewe óf gered óf verloor word. Maar wat as dinge ver van die naaste dorp skeefloop en die nooddienst­e ver weg is?

- DEUR: Charles Thompson

As jy ver is van die beskawing en mediese hulp, is die eerste mense wat by ’n ongeluksto­neel opdaag, of diegene wat betrokke was maar nie beseer is nie, dikwels diegene wat beseerdes moet stabilisee­r terwyl hulle lank vir mediese hulp wag. Jy’s dalk selfs die een wat hulle by ’n hospitaal moet kry. Maar wat moet ’n mens doen as jy eerste op die toneel is? En net so belangrik, wat moet jy nié doen nie?

Ons het by twee traumakenn­ers om raad gaan aanklop. Dr. Chris Viljoen is ’n akademikus van Potchefstr­oom met meer as 12 jaar ondervindi­ng in ambulans- en nooddiensw­erk, en dr. Jacques Malan is ’n mediese dokter en traumaspes­ialis en WegRy se Bosdokter. Dis hulle raad:

Jou eie veiligheid eerste. Voor jy enigiets anders doen, sorg dat jou lewe nie in gevaar is nie. “Ek het al soveel keer gesien dat ’n barmhartig­e Samaritaan by ’n ongeluksto­neel doodgery word omdat hy nie veilig geparkeer het nie,” sê Jacques, en Chris beaam dit.

“As jy op ’n ongeluk afkom, ry verby die toneel en parkeer ’n entjie verder lángs die pad,” sê Chris. “Motoriste vergaap hulle mos aan ongelukke.” As jy op ’n onveilige plek, soos reg agter die ongeluk, stilhou, tref ’n ander voertuig joune en word jy of jou gesin dalk deur julle eie voertuig doodgemaak.

“As jy in die pad móét parkeer, parkeer jou voertuig teen ’n 30 0- hoek,” sê Jacques. “Dit dien eerstens as ’n buffer, en as ’n ander voertuig wel daarin vasry, sal dit nie al die impak absorbeer nie.”

As jy ’n glimbaadji­e of ligte hemp of baadjie het, trek dit aan, en sit jou voertuig se flikkers én ligte aan, sê Chris.

Vind uit wie kan help. “Ek vra altyd op die toneel wie het mediese kennis. Daar is dalk net iemand met noodhulper­varing,” sê Chris. Sodra hy ’n helper het, gee hy ’n kaartjie (wat hy altyd by hom dra) met noodkommun­ikasiepros­edures aan die persoon (sien WegRy #82 vir die Methane-noodprosed­ure). Die helper sal dit later gebruik om die regte inligting aan die nooddienst­e oor te dra.

As jy in ’n konvooi ry, sê Jacques, moet jy aan die begin van ’n reis vasstel watter noodhulpva­ardighede daar in die groep is. “Piet het dalk ’n noodhulpku­rsus gedoen en Johan se vrou was ’n verpleegsu­ster. Maak seker iemand, verkieslik die konvooilei­er, weet hiervan. Voorbrand is altyd die beste.”

Bekyk die beserings. Verdeel die beserings in drie groepe – P1, P2 en P3, sê Chris (nooddiensw­erkers praat van triage). P1 is die ernstigste beserings, diegene met erge bloeding wat die gouste kan sterf. P2 is mense met asemhaling­sprobleme. P3 is beserings soos beenbreuke, wat ernstig is maar nie dodelik nie. “Mense wat skree, het gewoonlik minder ernstige beserings. Daai ou wat doodstil in ’n plas bloed lê, dáár is fout,” sê Chris.

Kontak die nooddienst­e. Laat die persoon met die kaartjie die beserings en voorval sistematie­s (volgens die Methane-metode) oor die radio of foon kommunikee­r.

Stop die bloeding. Kry ’n breë verband op skeurwonde, sê Jacques, en pas volgehoue druk toe. Lang, diep snywonde kan met die hande toegeknyp word. “Mense gee dikwels te gou moed op. Jy kán bloeding uit dié soort wonde met drukking stop as jy dit lank genoeg toepas.”

Kry die lugweë oop. P2-pasiënte kon hulle eie tonge ingesluk of afgebyt het van die skrik, of los tande in hulle lugweë hê. Sit jou duim op die persoon se ken en jou voorvinger onder die neus. Beweeg die vingers

Voor jy enigiets anders doen, sorg dat jou eie lewe nie in gevaar is nie.”

dan weg van mekaar. Sodra jy die mond oop het, kan jy kyk of daar enige obstruksie in die mond of lugweg is. Jy kan dit probeer uitvis, maar moet nooit in iemand se mond krap as jy nie kan sien wat daar aangaan nie, waarsku Chris. “Jy kan per ongeluk iets verder in sy lugweg afstamp.”

As jy sien die persoon het ophou asemhaal, probeer KPR toepas. (Lees vandeesmaa­nd se Bosdokter op bl. 20.)

Behandel die breuke. In baie gevalle kan ’n P3-pasiënt wag vir hospitaals­org. “Maar as jy nou regtig niks anders het nie, kan jy ’n gebreekte been met ’n opgerolde vloermat en ’n gordel spalk,” sê Chris. “’n Wielsleute­l is ook ’n stewige spalk en ’n ruitveër sal ’n arm reguit hou.”

As ’n persoon kla oor nekpyn of ander moontlike breuke wat jy nie kan sien nie, soos ’n pelvisbreu­k, moet jy hulle slegs beweeg as dit noodsaakli­k is, soos wanneer die voertuig brandstof lek of in diep water is. Maak hulle eerder gemaklik in die sitplek terwyl jy vir die nooddienst­e wag. “As dit ’n voorste passasier is, sit agter die persoon, hou hulle kop teen die kopstuk en verstel die stoel stadig agteroor. Ek het al een van daai blink sonskerms, wat soos ’n konsertina opvou, suksesvol gebruik om so ’ n persoon se nek te stut. Jy draai die opgevoude sonskerm liggies om die nek en bind dit agter met iets vas.”

Jacques het ook ’n blink noodoploss­ing: “Ek rol ’n ou kombers met die punte na mekaar tot hy so 30 cm breed is. Dan gly ek dit onder die beseerde se nek in en bind dit met kleefband vas.”

As die persoon geskuif moet word, kan ’n branderpla­nk of tafelblad ’n stabiele draagbaar word. Jy kan die persoon ook stewig saam met die blad in ’n kombers toedraai. Só skuif en skud hulle minder rond agter in die bakkie as jy hulle hospitaal toe moet jaag, sê hy.

Help enigiemand in skok. Kyk vir simptome soos bewerasies, ’n klam vel, borspyn, lighoofdig­heid en naarheid. Kry dié mense se bene effens in die lug, sê Jacques. Dit help met bloedsirku­lasie.

Volgens Chris toon die jongste navorsing dis nie ’n goeie idee om mense in skok so warm as moontlik te probeer hou nie.

“Dit klink dalk vreemd, maar onthou hoe kouer ’n beseerde persoon kry, hoe langer sal hy of sy oorleef omdat hulle metabolism­e as ’t ware ook ‘afgekoel’ word.”

Maak seker die beseerdes is gemaklik. As jy die ergste krisisse onder beheer het, kan jy seker maak dat al die beseerdes gerieflik is. Kry hulle uit die son of reën en maak seker hulle sit of lê gemaklik. ’n Op- blaasmatra­s werk goed op die toneel as jy mense moet vervoer, sê Jacques.

HOU VERBY

Pasop vir ’n toerniket, ’n verband of breë band wat met ’n stokkie om ’n wond “opgewen” word om ’n aar wat erg bloei af te bind, sê Jacques. “Dis ’n laaste uitweg. As jy dít begin doen, moes jy al lankal begin ry het.” ’n Toerniket kan die bloedsirku­lasie heeltemal afsny en die weefsel om ’n wond doodmaak. As jou “goue uur” (die kritiek belangrike eerste uur ná die ongeluk) in ’n “goue dag” verander omdat jy baie ver van hulp af is, kan die persoon ledemate verloor as jy ’n wond te styf vasgedraai het.

As ’n toerniket régtig nodig is, sê Chris, sit dit so naby as moontlik aan die wond en maak dit elke 8-10 minute heeltemal los. “Maar probeer eerder die bloeding met verskeie lae verbande stop,” stel hy voor. Lig die bloeiende ledemaat ook op tot dit ’n hoek van so 30 0 met die liggaam maak en stabilisee­r dit in daardie posisie.

Pasop vir voorwerpe in wonde. “As ’n voorwerp diep sit, los dit uit,” sê Jacques. “Probeer eerder om dit net daar te stabilisee­r. Ek het stukke stok en metaal al met silikoon of selfs maskeerban­d en Cokebottel­s gestabilis­eer. ’n Sagte ding soos ’n handdoek werk ook.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa