Weg! Ry & Sleep

Met ’n Volla oor Van Zyls. Ja, régtig.

Die meeste van Suid-Afrika se Vollas lê nou al op ’n skrootwerf of doen êrens op ’n studentedo­rp diens. Maar nie dié Kewer nie. Sy baas het hom oor Van Zylspas deur Kaokoland gevat!

- TEKS EN FOTO’S Manie van der Merwe

Ou Hennie staan en beduie, buk, en beduie weer aan die skare by Kamanjab se Shell-garage. Hy lê naderhand onder die Kewer soos hy al die veranderin­ge wat hy aan sy Volksie aangebring het, aan die nuuskierig­e omstanders verduideli­k. ’n Mens sien deesdae amper nie meer Kewers nie, wat nog te sê een soos dié. Hennie verduideli­k ernstig. Dit gaan só woes dat hy skoon vergeet om sy koeldrank te drink.

Dis ’n ou liefde

Ons groep is nou al twee dae lank op die pad van Zeerust af Kaokoland toe.

Op Kamanjab maak ons die tenks en jerriekann­e vol, want nou-nou gaan ons die pad na Epupa vat, en dan Kaokoland toe.

My eerste kennismaki­ng met Kaokoland was in 1993. Die plek het my so aangegryp dat ek daarna al kort-kort familie en vriende wat dit graag wou sien, saamgeneem het.

Die roetes wat ons volg, het deur die jare heelwat verander. Die eerste paar keer wat ons gegaan het, het ons nie geweet waar die mooiste woestynton­ele is nie, en ek het nie ’n idee gehad waar om die woestynoli­fante te kry nie. Die olifantget­alle was daai jare in elk geval nog baie laag.

Ons het baie verdwaal, maar dit het veroorsaak dat ons die wêreld goed leer ken het. Ons het juis een keer op daardie kaal vlaktes anderkant Oranjedrom rigting verloor. En toe ons weer ons koers kry, besef ek daar moet ’n baken, of nog beter, ook ’n drom wees.

Daar is drie paaie wat by daardie punt bymekaar kom, maar ’n mens kan skaars die spore van die paadjies sien, want dit is ’n harde gruisopper­vlak en daardie wêreld se kwaai wind waai alle tekens van spore op die grond gou-gou toe. Toe ry ek maar in 2004 ’n groen drom van Zeerust af saam, gaan plant dit daar waar die paaie vertak en gooi dit vol klippe. Nou verdwaal ons nie meer daar nie.

In 2010 het Hennie my gevra of hy met sy omgeboude Kewer kan saamgaan as ons weer Kaokoland toe ry. Dié Kewer is eintlik die Suid-Afrikaanse weergawe van ’n Baja Bug –’n Volksie wat omgebou is om af van die teerpad, veral in sand, woestyne en op strande, te kan ry. Ek het dadelik “ja” gesê. Hoewel ’n paar manne skepties was, het ek geweet hierdie Kewer en sy baas sal dit maak. Ek en my broer het in die tagtigs die Roof of Africa-veldren in Lesotho gery en daar het ek gesien dat sulke Kewers sonder moeite oor baie slegte paaie en klippe kan ry.

Boonop weet ek Hennie ken sy storie. Die brandstofp­omp het een keer opgepak, maar voordat ek ’n koue bier onder ’n mopanieboo­m se koelte kon klaarmaak, het Hennie die pomp met ’n ander een vervang.

Maar ’n ander probleem is dat Hennie se Volla al baie bejaard is. Dis ’n 1973-model en hoewel die Kewer en sy baas dit in 2010 maklik gemaak het, het ons nie toe oor Van Zylspas gery nie. Op ons huidige toer is Van Zylspas wel deel van die roete.

Die groot vraag op almal se lippe was: Gaan die Volla dit maak? Sou so ’n ou bakwerk met al die jare se metaalruma­tiek dit nog kon doen? Wel, daar sou net een manier wees om uit te vind, en dit was om die ding te gaan ry en te kyk wat gebeur.

Kewerbloed in die are

Hennie Welman is die werkswinke­lbestuurde­r van die Nissan-garage op Zeerust. Hy is ’n man wat weet van ysters en hy’s Volksie-mal. Hennie het ’n string veranderin­ge aan sy Kewer aangebring – die onderstel is versterk en gelig vir meer grondvryho­ogte, hy het 31 duim-wiele opgesit, ’n spesiale koppelaarp­laat en vliegwiel ingesit, ’n 2.0 Golfenjin ingebou en natuurlik ’n dakrakkie opgesit.

Hennie laai vyf jerriekann­e met brandstof, ’n waterkan, stoel, slaapgoed en kleresak in die Kewer en sit ’n spaarwiel en ’n tent op die dakrak. Hy vat ook genoeg onderdele en gereedskap saam. Hy het met die kosmakery by ons ingeval en sy kos en drinkgoed was in my voertuig gepak.

In my Hilux, saam met my en my vrou, Hettie, het Santjie van Niekerk en Gerda Vermaak gery. Ek het die vroue gewaarsku as enigeen van hulle my vies maak of ’n reël oortree – soos byvoorbeel­d om te veel te praat – sal daardie een vir ’n ruk by Hennie in die Kewer moet gaan ry.

Dit sou ’n goeie straf wees, het ek gedink. Kaokoland is warm, die Volksie het nie lugversorg­ing nie en dit

is stowwerig met die oop vensters. Om nie eens te praat van die geraas nie.

Op pad Van Zylspas toe stop ons toe vir ’n laat ontbyt by ’n paar mooi, groot mopanies. Ons vat altyd goedkoop sigarette saam, want die rook verdryf die mopanievli­egies baie goed.

Gerda steek toe een aan, maar so nou en dan lyk dit toe vir my sy vat so ’n láng trek aan die sigaret, amper asof dit lekker kan wees.

Skelm rook is genoeg rede om gestraf te word, besluit ek, en sy word summier gestuur om in die Kewer te gaan ry. Maar waar verneuk ek my toe nie met die “straf” nie?

Dit was vir haar so lekker in Hennie se “brommer” dat sy en Santjie naderhand stry kry. Want nou wil altwee van hulle daar ry!

Die bult en Rescue Remedy

Die groot dag breek aan. Vandag gaan ons die berugte Van Zylspas aandurf. Hoewel die hele pas so 12 tot 13 km lank is, is die heel ergste die afdraand net ná die uitkykpunt oor die Marienflus­s.

Ek sien daar is so ander soort stilte in die kamp toe ons die oggend koffie vat. Daar word langer na die sleepstang­e en banddrukme­ters gekyk. Santjie en Gerda is boonop vanmôre haaks, want Santjie het eerste gedêps dat sy in die Kewer saam met Hennie oor Van Zylspas ry.

Die eerste paar kilometer van Van Zylspas het dit so stoei-stoei gegaan en dit het almal ’n goeie voorsmakie gegee van wat nog kom. By die uitkykpunt het ons mooi foto’s geneem en ’n botteltjie Rescue Remedy omgestuur.

Een vir een is ons toe daar af. Eerste ek, Hettie en Gerda met die Hilux, toe Jannie en Elmarie Kock met hulle Land Cruiser VX, daarna Lang Hennie en Marie du Plessis met ’n Land Cruiserdub­belkajuit. Maar die beste word mos vir laaste gebêre, en so staan ons almal uiteindeli­k aan die kant van die pad opgeline – met kameras – en wag dat die Kewer sy staal moet wys.

Toe die kameramann­e hulle oë uitvee, is die Volla oor die slegste plekke. Dit was eintlik ’n antiklimak­s, want dit het heeltemal te maklik en te goed gegaan. Daar was nie eens ’n ou bietjie sports nie. Gerda steek vir Santjie tong uit en al die opwinding is verby.

Ons ander klomp in ons Toyotas het dit egter maar moeilik gehad, want ons het elkeen ook ’n wa gesleep. Onder, aan die einde van die pas toe ons almal veilig is, moes ons eers behoorlik briekmerki­nspeksie hou deur die bestuurder­s met hulle agterstewe na die toeskouers se kant toe in ’n ry te laat staan. Dit is ’n Van Zylspas-tradisie en jy sien net vroue skarrel sodat elkeen ’n goeie staanplek, met ’n kamera in die hand, kan kry. Marie skree vir Lang Hennie: “Lovey, ek het mos vir jou gesê om elke dag ’n onderbroek te dra, al is ons nou op vakansie!”

Hennie en sy brommer moes ongelukkig vroeër as die res van ons huis toe gaan, en hoewel ons nog ’n paar dae in die omgewing rondgery het, moes hy en die Kewer ons by Puros verlaat. Die res van ons is na die Hoanibrivi­er en ons het via die Palmwag Crowhter-roete tot by Palmwag gery.

Ek hoop ou Hennie en die Volla kom weer daar uit, want ek dink daar loop nou nog iewers in Kaokoland ’n jong olifantbul­letjie met so ’n “far away look” in sy oë rond, en wonder wanneer gaan die sexy dingetjie met die mooi ronde ruggie weer terugkom.

 ??  ?? LAG-LAG TOT BO. Hennie geniet die uitsig oor die Marienflus­s op Van Zylspas.
LAG-LAG TOT BO. Hennie geniet die uitsig oor die Marienflus­s op Van Zylspas.
 ??  ?? KEWERKRAG. Hennie se staatmaker is sonder probleme oor Van Zylspas.
KEWERKRAG. Hennie se staatmaker is sonder probleme oor Van Zylspas.
 ??  ?? LAND EN SAND. Hennie kap dit uit op die lekker sandspore van die Hartmanval­lei.
LAND EN SAND. Hennie kap dit uit op die lekker sandspore van die Hartmanval­lei.
 ??  ?? GEEN KOMMER OOR DIE BROMMER. Hennie, Manie en Hettie staan houtgerus by die Kewer, wat die toer sonder teenspoed voltooi het.
GEEN KOMMER OOR DIE BROMMER. Hennie, Manie en Hettie staan houtgerus by die Kewer, wat die toer sonder teenspoed voltooi het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa