Weg! Ry & Sleep

Die Patrol-manne vat Koos se Klip aan!

Karbrekers en asknopers is nie almal se idee van pret nie. Maar so af en toe moet ’n mens hulle pak. CHARLES THOMPSON en die Patrol-forum het die adrenalien­krane gaan oopdraai by Moegatle-g4x4.

-

My bene staan stokstyf teen die vloermat en my hande hou krampagtig vas aan die deurhandva­tsel terwyl ek myself in die passasiers­itplek probeer stut. Oor ’n bonkige wynrooi-enjinkap sien ek net-net ’n groep toeskouers se koppe wat boontoe kyk. Hulle lyk piepklein, want die stuk aarde waarop hulle staan, lê ver onder die een waarteen ons afry.

Ek sit in ene Chris Boegman se Nissan Patrol, omtrent halfpad ondertoe teen Koos se Klip, die laaste hindernis op die Moegatle-4x4-roete naby Brits. Maar sit is eintlik die verkeerde woord, want ek staan byna kiertsrego­p in my sitplek.

Wat doen ek hier? dink ek terwyl die bande teen die skuinste van 430 afskuur. Grrrr, grrrr. Ek’s veronderst­el om in Swaziland te wees man, teen hierdie tyd van die dag verkieslik êrens met ’n Sibebe-bier om ’n kampvuur. Maar dié naweek het Moeder Natuur ander planne gehad.

Plan B vir Brits

“Jy ry saam met Chris Boegman,” het Tinus Lotz, een van die organiseer­ders van die Patrol-forum se Swazilandt­oer, ’n week of wat vroeër vir my gesê. Tinus weet my pa ry ’n Patrol en dat ek ’n sagte plekkie vir dié veldwaens het. “Chris het nege Patrols. Ek dink julle gaan lekker gesels,” het hy belowe.

Maar drie dae voor ons beplande vertrekdat­um sak die reën oor Swaziland uit. En toe die nuus kom dat die riviere wat ons sou moes kruis in vloed is, besluit die Patrol-manne Moegatle-4x4 is ’n veiliger roep.

Só bevind ek myself laat op ’n Vrydagmidd­ag voor ’n muur vol foto’s in Moegatle se kroeg. Peter Levey, een van WegRy se roetegrade­erders, het nie oordryf toe hy Moegatle ’n paar jaar gelede een van die drie rofste roetes in die land beskryf het nie. ’n Hele paar voertuie wat hier ingery het, het nie weer self uitgery nie, sien ek op die muur. Hier lê een op sy dak, daar ’n ander op sy sy. ’n Hele paar van hulle het omtrent halfpad teen Koos se Klip op of af gevorder, maar ’n paar foto’s later sien jy net onderstel terwyl die ding gat oor kop teen die berg afrol. Soos ’n ou rugbybal.

Ek was duidelik ook nie die enigste ou op die Patrol-naweek wat die muur skepties bekyk het nie, want toe ons die volgende oggend luister hoe Alex Fullard die dag se rywerk op sy roete verduideli­k, is die manne vol vrae. Is daar ontsnaproe­tes? Hoe lyk die modder ná die reën? Wat’s die regte banddruk? “Dis reg, manne. Vra maar,” sê Chris. “Hoe langer ons staan en praat, hoe meer petrol spaar ons!”

Dis tyd vir bande afblaas en Alex Botha sukkel. Hy gaan met Chris se dogter Annika uit, en dis dié familie wat hom in die “Patrol-ding” ingekry het, sê hy. Sy eerste 4x4 was die eerste generasie Kia Sportage, wat daai tyd nog ’n laestrekra­tkas gehad het. “Maar toe Chris my in sy Patrol laat ry, was dit verby. Die Kia was net nie weer dieselfde nie.”

Nou hurk hy langs sy eie Patrol. ’n Fris 4.5 GL met EFS-vering uit Australië en 33 duim-Cooper ST Maxxbande. Maar Alex sit en frons. “Wat pla?” wil Chris weet. “No man, these tyres are already at 1.5 bar but they’re still not boepênsing,” sê Alex.

“Boepênsing?!” lag Chris. “Wat vir ’n woord is dit?”

Ek spring in by Chris en ons stuk of 15 Patrols trek weg. Dit klink soos ’n helikopter wat opstyg wanneer ons in die pad val. Die kleinste enjin hier is ’n 3 liter-diesel, maar daarvan is daar net een. Die res is 4 liter-, 4,2 liter- en 4,5 liter-menere. Daar is selfs ’n 5 liter-V8monster uit ’n ou Lexus.

Alex en sy vrou, Betsie, bedryf die Moegatle-4x4-roete op ’n stuk gemeenskap­sgrond van die Mpudunggem­eenskap. Vanaf die kampterrei­n is dit net ’n paar minute se ry deur digte bosveld voor ons die eerste hinderniss­e teëkom.

Alex het dié roete mooi uitgedink. Jy ry eers deur ’n soort speelpark met beskaafde hinderniss­e om jou artikulasi­espiere op te warm, en die bewerasies te help kalmeer as jy vroeër te lank vir die muur gestaar het. Van daar af kronkel die roete in ’n rivierloop af, met verskeie hinderniss­e in en om sy loop, totdat jy uiteindeli­k by Koos se Klip uitkom.

Terloops, party mense noem dit Koos se Klim, maar die naam is eintlik Koos se Klip. “Die gemeenskap het verkeerd gehoor en toe ‘klim’ teen die rots geskryf,” het Alex vroeër aan my verduideli­k.

Oud, maar nog nie koud

Nou lei hy die manne netjies oor dongas en deur die slote. By elke asknoper gaan hurk ek langs die pad, kamera teen die oog, in die hoop om ’n wiel in die lug te vang. Maar ek kom naderhand agter dié voertuie poseer nie sommer vir daai soort foto’s nie. “Man ja, die Patrols maak ’n mens eintlik lui,” skerts Chris. “Met dié goed is dit net pointen shoot.”

Toe ek agter sy Patrol se stuur inskuif, besef ek dis ook nie leë praatjies nie. Sy voertuig is nie vandag se kind nie. Dis ’n 1995-model met byna 600 000 km op die klok, en as ’n man met ’n boorgatond­erneming, ook sy werksvoert­uig, dikwels diep in die bosse of berge. Ons is nou al ’n ent in die rivierloop af en groot, growwe spoelklipp­e staan soos Kallie Knoetze se kneukels oor ons pad. Maar die ou rooi Patrol rol oor hulle sonder ’n stamp, ’n gly of ’n gekreun. Ek hoef skaars ’n lyn te kies.

Trouens, dit gaan so maklik met die Nissans dat ek naderhand hoor die ouens probeer nou maar self die hinderniss­e moeiliker maak. Ek spring by

Peter Connan en sy 4.2 SGL in om te kyk hoe Ou Ryperd ’n fris bult met diep asknopers aanpak. “Moet ek knoppies druk?” vra Peter toe Tinus by die voertuig inleun. “Man, ek moes maar, ja.”

“Knoppies druk?” vra ek laggend. “Ja, baie van ons kyk eers hoe ver ons sonder ons ewenaarslo­tte kom voor ons hulle aanskakel,” verduideli­k hy. “Dit maak dinge interessan­ter.”

Teen eenuur se kant tref ons ’n deel waar die rivierloop wyd, sonder kronkels en lekker nat is. Die oppervlak is growwe sand, amper soos bousand, eerder as ’n taai turfgemors waarin jy jou voertuig sal begrawe. Alex draai die krane oop hier agter ons en gee sy Patrol ’n ordentlike modderbad. Voor ons gooi ’n ander voertuig dik rookbolle soos hy deur die sand en modder beur, maar dis ’n ent weg en ek kan nie mooi sien wie dit is nie.

“Sand én water. Lekker!” kraai Peter hier langs my en gee vet na ’n kronkel voor in die pad waar die groep stil gehou het.

Stilte voor die storm

Middagete is koue braaivleis onder ’n groot koelteboom. Dis vir lank stil, maar dan draai die gesprek weer in dieselfde rigting – Koos se Klip. “Julle ken ’n PTO-winch, nè?” vra André Durand. “Al waarvoor dit op Koos se Klip staan, is Please turn vehicle over!”

Asof die roete ons wil opwarm vir dit wat voorlê, raak die hinderniss­e ook nou aansienlik meer tegnies.

Die voertuie moet wydsbeen oor die klippe ry, oor ’n dun stroompie wat onder hulle pense deurloop, en soos ek staan en foto’s neem, hoor ek hoe ’n paar onderstell­e skraap. Dis meestal rotsglysta­we wat die houe vat, maar toe Chris stilhou, sê hy: “Lyk my ek het my slider so bietjie ge- remodel!”

Kort daarna, terwyl ek my waterbotte­l uit Peter se yskas haal, kom hy nader gedraf uit die rigting van ’n enjin wat hard huil. “Kom kyk!” sê hy. “Hier’s moeilikhei­d.” Ek gooi die waterbotte­l terug, swaai my kamera oor my skouer en draf vorentoe, verby ’n lang ry voertuie wat leeg staan en luier. Doer voor staan Alex Roux se wit GU op ’n erg ongemaklik­e hoek in nog ’n berugte hindernis – Klipdrift.

Alex, die man met die Lexus V8-enjin in sy Patrol, het die hindernis met ’n bietjie te veel spoed gevang, klink dit my. Hy’t die bult reg benader, maar toe hop sy wiele van die lyn af, hoor ek by die skare wat onder hom gevorm het. Intussen het Alex verder boontoe probeer klim, die stert ingegrawe, en nou rus byna die hele voertuig se reuse gewig op die linkerhoek van die agterbuffe­r.

“Dis omdat jy ’n Toyota-enjin onder daai kap het dat jy dit nie gemaak het nie!” terg iemand hier agter my en almal bars uit van die lag. Maar dan raak dinge ernstig.

“Alex, jou kar staan op ’n pivot point,” skree Tinus van bo die hindernis. “As jy nou probeer ry, gaan jy hom omgooi.” Alex en sy passasier sit so skuins in hulle stoele hulle lyk amper soos twee ruimtevaar­ders op Kaap Canaveral wat maan toe gaan. Alex gee ’n dapper glimlag vir die kamera, maar

jy kan sien dié voertuig gaan omval as hy nou die verkeerde skuif maak. ’n Herwinning is al genade.

Tinus lei die operasie. Hy vra vir Chris en vir Errol Wilken, wie se voer tuie wenasse het, om rondom die hinder nis te ry en bo te parkeer. “Sit joune agter daai klip,” beduie hy vir Errol terwyl Chris sy handskoene regtrek.

Hier kom ’n ernstige herwinning, sien ek toe ek om die gestrande voertuig klim en die petalje van bo af bekyk. Alex se Patrol staan bankvas. Al vier wiele is op die grond, maar van voor af lyk dit vir my asof hy omtrent teen ’n 450-hoek agtertoe leun. Sy neus wys heel uit die lyn uit, bosse se kant toe.

Chris-hulle begin herwinning­stoerustin­g uithaal terwyl Tinus na sy voertuig loop vir ’n kabelherle­ier ( snatch block). Met dié handige stuk toerusting verdubbel ’n mens die wringkrag op ’n wenaslyn. En ek dink met dié herwinning gaan die ouens al die ekstra trekkrag nodig hê wat hulle kan kry.

Ek neem vinnig ’n paar foto’s net voordat die kabels begin styfspan en maak my uit die voete. Die spasie tussen ’n wenaskabel en herwinning­spunte is die laaste plek waar ’n mens nou moet wees. Tensy jy ook die wêreld wil toer as die ou in die YouTube-video wie se kop in ’n boom beland het.

Tinus-hulle se operasie is egter reg beplan en verloop seepglad. Die wit reus kruip teen die bult uit tot hy weer op gelyke grond staan, waar Alex kop onderstebo uitklim. “Jy kan my maar in die Mamparra van die Week-kolom sit,” sê hy met ’n skewe glimlag.

Dis ‘sikke’ tyd

Met almal se litte nou goed los, mik ons vir Koos se Klip. Aan die verste punt van die reuse opdraande is ’n styl paadjie waarmee ’n mens tot op die kop kan ry (dis ook die ontsnaproe­te ondertoe). Al die voertuie kom sonder sweet tot bo, waar ons vir ’n ruk stilstaan, die uitsig oor die ou Bophuthats­wana geniet

en moed bymekaarsk­raap vir ons laaste hindernis.

Ek spring weer by Chris in en ons skuif versigtig by die berg af. Teen die tyd dat die wiele tot op gelyk grond ge-grrrr het, het die adrenalien my so bewerig soos ’n standerd-sessie by sy eerste hoërskools­okkie.

Chris sukkel egter met ’n los enjinmonte­erpunt en nie hy óf veel van die ander manne wil die klipheuwel van die ander kant af aanvat nie. Ek blameer hulle ook nie. As jy gedink het dis erg om af te ry, moet jy hier onder kom staan en kyk hoe lyk Koos se Klip boontoe! Behalwe vir die byna onmoontlik­e helling is daar ’n aardige kliphobbel net daar waar jy moet spoed vang om bo uit te kom. ’n Hindernis binne in dié erge hindernis! Daai kroegmuur flits weer deur my gedagtes en ek onthou dinge het al lelik skeefgeloo­p hier.

Maar ek sien Alex het sy herwinning afgeskud en tree aan teen die voet. Die V8 brul teen die berg uit met die bande wat gly-gly soos hulle bytplek soek. Dan lig die linkervoor­wiel. En hy lig. En hy lig. Vandag sien ek hoe ’n Patrol se onderstel van naby lyk, dink ek terwyl die wiel hoër en hoër bo die klipvlak hang. Ek wonder stil-stil of Alex môre op die kroegmuur gaan pryk. Op sy dak. Maar dan gee hy nog ’n bietjie vet, sit die wiel hard neer en klim onder ’n gejuig na bo.

Nou tree Piet Connan aan en ek besef dis my kans. Ek spring by die passasiers­kant in, sonder om eintlik te vra, maar Piet verwelkom my met die grynslag van ’n iemand wat ’n roller coaster ry – 50% opgewonde, 50% broek-natmaak-bang. Ons trek met ’n harde gesing uit die enjinruim weg en beur omtrent 20 meter teen die skuinste uit, maar dan is dit asof die Patrol lam raak. Die enjin skree, maar die wiele gly en ons vorder nie ’n sentimeter nie.

Een, twee keer beur ons boontoe en gly weer terug tot onder. Maar met die derde probeersla­g doen Peter iets reg. Die enjin brul soos ’n beneukte beer en Piet leun diep vorentoe. Dit lyk asof hy die Patrol met pure wilskrag teen die berg wil uitdruk. Ek voel hoe die wiele vatplek kry en die voertuig opwaarts beur. “Jy het hom!” skree ek vir Piet en klop hom met ’n plathand op die skouer terwyl ons oor die kruin ry, uitasem.

Het die skare gejuig? Seker. Ek sou nie kon sê bo die enjin en die adrenalien se gesuis in my ore nie. Het ons ook amper op ons dak geland? Dit sal die ander manne se foto’s maar moet wys. Al wat ek weet, is dat ek ook nou kan sê ek is al teen Koos se Klip op én af. En dit sonder om ’n ereplek op ’n kroegmuur of ’n YouTube-video te kry.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? KLIPSPRING­ER (links bo). Die Moegatle-4x4-roete volg ’n rivierloop deur die ou Bophuthats­wana, met graad 2- tot 5-hinderniss­e in en om die rivier.
OPWARMINGS­OEFENINGE (regs bo). Chris Boegman blaas sy voertuig se bande af voor die rywerk begin. Dié...
KLIPSPRING­ER (links bo). Die Moegatle-4x4-roete volg ’n rivierloop deur die ou Bophuthats­wana, met graad 2- tot 5-hinderniss­e in en om die rivier. OPWARMINGS­OEFENINGE (regs bo). Chris Boegman blaas sy voertuig se bande af voor die rywerk begin. Dié...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HOU SO! (heel bo). Die ontsnaproe­te by Koos se Klip is ’n lekker klim teen ’n heuwel op wat jou nie in ’n koue sweet sal laat uitslaan nie.
HIER SIT SY TURF (links). Alex Roux het die Klipdrift-hindernis so vinnig gevat dat sy voertuig op sy stert...
HOU SO! (heel bo). Die ontsnaproe­te by Koos se Klip is ’n lekker klim teen ’n heuwel op wat jou nie in ’n koue sweet sal laat uitslaan nie. HIER SIT SY TURF (links). Alex Roux het die Klipdrift-hindernis so vinnig gevat dat sy voertuig op sy stert...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? DIÉ KANT TOE! (bo). Sorg dat jy ’n handlanger saambring. Jy gaan nie al Moegatle se verrassing­s van agter die stuurwiel raaksien nie!
DIÉ KANT TOE! (bo). Sorg dat jy ’n handlanger saambring. Jy gaan nie al Moegatle se verrassing­s van agter die stuurwiel raaksien nie!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa