Weg! Ry & Sleep

Gaan ry rollercoas­ters in die natuur

As jy ’n sin vir avontuur het, is die roep van die woestyn iets wat jy nie kan ignoreer nie. EVAN NAUDÉ het die Namib ingevaar en kennis gemaak met geraamtes, skeepswrak­ke en slipfaces.

-

Hy het alleen op ’n verlate strand wakker geword en besef sy skip en die res van die bemanning lê op die bodem van die Atlantiese oseaan. Mettertyd het hy al die uitgespoel­de blikkiesko­s opgeëet, en nou het hy net een blikbottel water oor. Swak en ondervoed, strompel hy deur die woestyn op soek na hulp.

Hy kom nie agter daar is ’n strandwolf wat agter hom aansluip nie. En toe hy struikel, is dit te laat. Die wolf is op hom, agter die kosbare water aan. ’n Hewige geveg ontstaan. Die wolf kry die bottel tussen sy tande beet, maar die skipbreuke­ling veg verbete terug. In die proses gee die strandwolf hom ’n ernstige byt in die nek, maar terselfder­tyd gee hy die wolf ’n doodshou teen die kop met die waterbotte­l. Hulle val op die grond neer, albei gedaan. ’n Stroompie water loop teen die duin af.

Oukei, wag ’n bietjie, hierdie toneel het waarskynli­k nooit plaasgevin­d nie. Maar dis een van die moontlikhe­de wat in my kop afspeel hier waar ek staan, iewers diep in die Namibwoest­yn. Voor my lê die kopbeen van ’n mens, ’n geroeste waterbotte­l vol gate en langs- aan die kopbeen van ’n strandwolf. Verskoon my dus as my verbeeldin­g op hol gaan.

Die hek na avontuur

’n Woestyn lyk leeg, maar is vol stories en legendes. Die Namib-woestyn is geen uitsonderi­ng nie. My woestynsto­rie begin vier dae vroeër op ’n plekkie genaamd Solitaire. Dis seker die mees gepaste pleknaam wat ek al teëgekom het, want hier kan dit eensaam word.

Ek is hier om saam met Live The Journey die Namib in te vaar. En toe ek die toergroep ontmoet op die Solitaire Guest Farm, 6 km daarvandaa­n, sien ek ons is byna meer mense as wat in die dorp woon. Om ’n groot swart pot op die vuur kry ons kans om mekaar te leer ken. En dis ook maar goed so, want vir die volgende paar dae sal op mekaar aangewese wees vir geselskap.

Die volgende oggend word ons konvooi se voertuie, 14 in totaal, vir oulaas nagegaan voordat ons noordwaart­s op die C14 vertrek. Sowat 35 km later hou ons stil by ’n hek waar ’n verbleikte geel naambord lees: “Namib-Naukluft Park. No Entry.” Ek ry saam met ons gids, Simon Wearne, en hy het een van die toer se belangriks­te stukkies gereedskap: die sleutel vir die slot van daai hek.

Anderkant die hek vat ons pad met ’n tweespoor oor ’n wye vlakte wat my aan die ooptes van die Kaokoveld herinner. Van hier af is die plan om vir die volgende vyf dae oos te hou deur die Namib se sandsee. By die kus sal ons strandlang­s noord ry tot in Walvisbaai.

Stadig maar seker verander die Namib van gedaante. Suid van die Saagberg, wat lyk of sy skerp pieke aan die hemelruim skaaf, kry ons die eerste roesbruin duine. Die spoor loop plek-plek deur klipstapel­s en later oor nog vlaktes, sommige met die geheimsinn­ige feetjie-sirkels besaai. Simon vra die kinders se opinie oor dié eienaardig­e ronde kringe op die grond waarin niks groei nie. Teorieë wissel van aardgas wat hier uitborrel tot rysmiere se geite, maar niemand weet vir seker nie.

Op pad na ’n uitkykpunt op ’n hoë duin sien ons een van die Namib se

mees ikoniese prentjies: ’n Gemsbok hou die konvooi van ’n duin af dop. Ons hou stil vir foto’s en toe ons wegtrek, kom daar ’n boodskap oor die radio: “Simon, jy sal gou moet kom help.” Ons draai om en gaan kyk. André Basson se Fortuner staan skuins met sy neus in ’n gat. “Dis daai d*nnerse gemsbok se skuld!” spot hy toe ons nader stap. “Ek het hom afgeneem en nie gekyk waar ek ry toe ek weer wegtrek nie. Jammer julle,” sê André. Simon roep ons ondersteun­ingspan, wat heel agter in die konvooi ry, om te kom help.

Op Johnny Shikongo en Elvis Anamab se posbeskryw­ings staan daar nie net drywer, braaier en kampmaker nie, maar ook herwinning­spesialis. Hulle kry die Fortuner in ’n japtrap uit. Later vertel André my dat dit sy eerste behoorlike 4x4-reis in sy eie voertuig is. “Ek is nog ’n virgin,” lag hy, “maar vandag het ek my virginity in daai gat verloor!”

In die namiddag bereik ons die Kuiseb en sak teen ’n steil duin af tot in die rivierloop. Op die bodem verander die sand van oranje na wit en ons ry weswaarts onder die skadu van anabome. ’n Kilometer of drie verder slaan ons kamp op onder die bome met indrukwekk­ende rotskranse as agtergrond.

Dis ’n warm aand en die klank van opgewonde stemme weerkaats saam met die lig van die kampvuur teen die kranse rondom ons. En toe Jan van Niekerk later ’n visvangsto­rie vertel en beduie waar Meob min of meer lê, spot Heinrich Calitz hom soos net ’n goeie vriend kan. “Wag net daar, Jan,” onderbreek hy. “Wáár sê jy is Meob?” Vyftien minute later stry die manne steeds oor die rigting en selfs die posisie van die konstellas­ies word betwyfel. “Simon!” roep Heinrich die hulp van ons plaaslike ensikloped­ie in. “Jan wil weet of die Suiderkrui­s dalk vanaand kon geskuif het?”

“Man!” kap Jan terug, “Jy kan vir my ’n duisend Suiderkrui­se bring, daai dorp is nog net waar hy altyd was!” Toe ek later gaan inkruip, hoor ek hoe hy nog sukkel om sy visvangsto­rie klaar te vertel.

Om in ’n straat te slaap

Die volgende oggend neem Simon ons vroeg teen ’n steil kliprant uit die Kuiseb na ’n uitkykpunt oor die rivier se weswaartse kronkels. Aan die suidelike kant van die rivier strek ’n landskap van vaal sandgolwe tot op die horison, terwyl die landskap in die noorde bestaan uit voue kaal, grys klip. In die middel loop ’n lowergroen streep bome oor die wit riviersand. Dis hier waar ek begin leer dat die Namib graag sy landskap in net drie of vier kleure tooi.

“Die rivier stuit die sand net hier en spoel dit see se kant toe,” verduideli­k Simon. Ten spyte van die woestyn se ongenaakba­arheid, kan die magtige duine nie oor hierdie dun streep water kruip nie.

Ons sak weer af in die rivier en hou wes in die rivierloop af tot net anderkant Homeb. Hier draai ons suid en ’n paar kilometer verder begin ons spoor wes krul, see se kant toe. Tussen ons en die kus lê daar egter ’n formidabel­e klomp duinstrate – kolossale sandriwwe met lang, plat sandstroke tussen-in wat die landskap in noordsuid-lyne verdeel.

Simon lei ons meesterlik deur elke rif se sandbrande­rs. Eers vleg hy ’n spoor heen en weer teen een kant van ’n rif op, deur diep gate met skerp draaitjies onder en steil bulte met skerp draaitjies bo-op. Ek weet nie hoe hy die duine lees nie, vir my is dit ’n gesukkel om die regte lyn in die sand raak te sien, want alles lyk dieselfde. Daar is geen skaduwees wat diepte aandui nie en dis asof jou oë jou bedrieg.

Ondervindi­ng is die geheim, en so onbegrypli­k as wat dit vir my klink, kan Simon vorms in die duine onderskei. “Ons hou so ver moontlik in die spore,” sê Simon, “maar op plekke waai dit toe of die landskap verander. Dan is dit soos om ’n legkaart te ontsyfer.”

Ons kampplek vir die aand is in een van die duinstrate. Gelukkig het ons ’n toilettent, want dis so plat hier dat jy ’n bitter wye draai sal moet loop om ’n groot genoeg bossie te kry. Dis egter een van die mooiste plekke waar ek al ooit gekamp het, veral wanneer die wêreld teen sononder in ’n kaleidosko­op van pienk, wynrooi en donkergoud verander. En later, wanneer ’n goudgeel maan kop uitsteek, is jy in jou eie sprokieswê­reld.

Versteende duine en slipfaces

Die volgende oggend word ons wakker met ’n miskombers wat die duine rond-

om ons in ’n wit wasigheid wegsteek. Ons vertrek met ’n effense see-reukie in die lug, weer die sand-dieptes in. Gister was die groep se vuurdoop in die duine, maar van hier af word die sandryery ernstig en dis heeldag net duine. Dis immers van die hoogste duine ter wêreld dié.

Ons steek ’n dosyn wye duinstrate oor, met duin-legkaarte tussenin.

Skuins voor middagete begin die bestuurder­s gekonfyt raak met die duinry en ons vorder flink tot by ’n interessan­te verskynsel. Op die bodem van ’n diep kom in die sand staan sandsteenf­ormasies soos abstrakte standbeeld­e in ’n amfiteater. “Versteende duine,” verduideli­k Simon. In ’n stadium het die sand wat die lae sandsteen bedek het, weggewaai en kon die wind sy beeldhouwe­rk begin doen.

Ná middagete laat Simon ons by ’n “speelplek” stilhou. Die kinders in die groep noem dit “rollercoas­ters”.

Voor ons val die sand vir omtrent 200 m weg, en aan die anderkant klim die sand selfs skerper na bo. Simon vlieg weg van bo af en uit die hoek van my oog sien ek die spoedmeter se naald raak-raak aan 100 km/h. Onder in die gat voel ek hoe die bloed uit my gesig dreineer en my maag my derms platdruk. Dan begin die bakkie se neus na bo klim en ek sien net blou lug. Op die regte oomblik los Simon die versneller en maak ’n skerp draai na regs op die kruin van die duin. “Daarsy, so doen julle dit,” sê hy op die radio toe ons stilhou. Een vir een volg die ander voertuie en met ’n “hou in die spore!” en “draai regs, régs!” elke nou en dan, kom almal veilig bo. Teen die tyd dat Johnny-hulle deur is, bewonder die res van die groep die uitsig met breë glimlagte en effe sweterige hande.

Tot dusver was die glyhelling­s, oftewel slipfaces, waarmee ons te doen gekry het, relatief mak. Maar daai namiddag hou Simon stil op die kruin van ’n duin waar ek net blou lug voor ons kan sien. Hy glimlag voor hy op die radio sê: “Oukei, dames en here, hier is nou ’n lekker ou slipfacie.” Ek klim uit en kyk af. Onder die bakkie se neus lê en wag ’n meneer van langer as 100 m.

Die geheim is om in eerste rat, laestrek te bly en die enjin se kompressie te gebruik om stadig na onder te ry. Een vir een ry-gly die voertuie teen die lang helling af met sandgolwe wat nes die adrenalien in jou are voor die voertuig uitvloei. Onder gekom moet jy weer vet gee teen ’n steil bult uit. Wat 4x4-ry betref, is daar min ervarings beter as dié.

Vanaand kamp ons by Olifantsba­d, ’n semi-permanente kampplek teen die voet van ’n hoë glyhelling. Die Live the Journey-span het hier ’n windskuili­ng om ’n braaiplek en houthokkie­s vir twee storte en toilette opgerig. Dis ’n gerieflike slaapplek vir die volgende twee aande.

Geraamtes, wrakke en dorpies

Dag vier van ons reis is ’n sirkelroet­e wat ons eers reguit strand toe neem en dan suidwaarts verby Conception­baai, die Eduard Bohlen-skeepswrak en ’n verlate delwersdor­pie voordat ons weer woestynlan­gs terugdraai na Olifantsba­d.

Met ligter voertuie omdat ons weer op dieselfde plek kamp, ry ons vroegoggen­d nog ’n paar rollercoas­ters namate ons nader aan die see vorder. Deur een besondere steil gat maak Pieter en Lorainne Prinsloo se Fortuner dit nie aan die anderkant uit nie. Hulle trek agteruit en stoot weer vorentoe, maar sonder sukses. Simon besluit om af te ry en ’n beter lyn te soek, maar sy poging is ook onsuksesvo­l en ons sit saam met die Fortuner onder in die gat. Wat nou? Nou leer ek ’n les in geduld by Simon. Vorentoe en agtertoe probeer hy uitkom, maar die Hilux maak dit elke keer net-net nie. Simon herhaal eenvoudig sy metode: Druk teen die teenoorges­telde helling uit in trurat tot ek byna regop staan in my sitplek, skakel oor in eerste rat en laat waai. “Wat sê hulle is die definisie van onnoselhei­d? Om dieselfde ding oor en oor te doen en ’n ander uitslag te verwag!” sê Simon laggend toe hy weer onder stilhou en die duin aankyk soos ’n professor wat na ’n algebraver­gelyking op ’n bord staar. Veertig probeersla­e later bedank ek tydelik as co-pilot en klim uit. ’n Man kan ook net soveel keer dieselfde rollercoas­ter na mekaar ry.

Miskien moet ek op ’n dieet gaan, want met die volgende probeersla­g ry Simon uit die gat uit. Volgende is dit die Fortuner se beurt. Pieter neem stelling agter die stuur in en met Johnny wat op die radio beduie, begin hy in trurat teen die helling opry. En toe, onder luide toejuiging, sommer eenklaps tot bo.

Hoe nader ons aan die strand vorder,

hoe rustiger word die duine en uiteindeli­k lank en plat. Dis hier waar Simon by die kopbene met die waterbotte­l stilhou. “Dis al ’n hele ruk hier. Niemand weet wat gebeur het nie, maar daai is ’n baie ou soort waterbotte­l,” sê hy met een wenkbrou gelig. Ek dink hy het ook al ’n storie of twee hieroor uitgedink.

Die plat oppervlak van die strand is ’n welkome blaaskans en ons vorder

gou tot by die wrak van die Eduard Bohlen, waar ons uitspan vir middagete. Dié skip was in 1909 onderweg vanaf Swakopmund na Kaapstad, toe dit in dik mis hier gestrand het. Al wat vandag oor is, is ’n verroeste romp en metaalbinn­egoed wat uit die sand steek.

Met vol mae stoot ons aan tot by Holsatia, een van drie verlate delwersdor­pies waar daar in die vroeë 1900’s diamante uit die sand gesif is. ’n Mens wonder watter teëspoed of desperaath­eid, miskien selfs gierigheid, werkers na hierdie onherbergs­ame plek gebring het. Terwyl ons deur die oorblyfsel­s van die dorpie stap, kry ek ’n idee van hoe moeilik die lewe hier moes gewees het. Die vervalle houthuisie­s met verweerde meubels in, die siwwe wat eenkant lê en ’n geroeste pypleiding is alles leidrade van ’n storie wat, nes dié van die kopbene en die Edward Bohlen, nog baie gate het wat net met verbeeldin­g toegestop kan word.

Op pad terug na die kampterrei­n herinner ’n trop elegante gemsbokke teen ’n duin my dat die lewe hier tog ook skouspelag­tig mooi kan wees.

Waar die regte see groet

Op ons laaste dag mik ons reguit oos vir die strand. Op pad daarheen maak ons die meeste van die duine en geniet ’n laaste paar maagdraaie in ’n paar gaatjies. Dan is dit strandlang­s noordwaart­s, verby lui robkolonie­s wat in die son bak en ’n jakkals of twee wat in die verte wegskarrel en uiteindeli­k langs die bekende Lange Wand (“Lang Muur” in Duits) tot by die lang blou draai van Sandwich-hawe. Teen die Lange Wand is dit asof die duine die see kom groet, en ons het net ’n dun strokie strand om op te ry. Kort voor lank kry ons die soutpanne net suid van Walvisbaai waar ons die Namib-Naukluft verlaat. Dis tyd om afskeid te neem van die woestyn. Hopelik nie vir te lank nie, want soos ek die duine in die truspieëlt­jie sien verdwyn, is ek reeds lus om nóg ’n hoofstuk by my woestynsto­rie te voeg.

 ??  ??
 ??  ?? TUSSEN KLIP EN SAND (heel bo). Die Kuiseb vorm die noordelike grens van die Namib, want die sandduine kan nie die waterlint oorsteek nie.
IKONIES (bo). Die gemsbok is byna sinoniem met die Namibwoest­yn en as jy gelukkig is, poseer hulle soos dié een...
TUSSEN KLIP EN SAND (heel bo). Die Kuiseb vorm die noordelike grens van die Namib, want die sandduine kan nie die waterlint oorsteek nie. IKONIES (bo). Die gemsbok is byna sinoniem met die Namibwoest­yn en as jy gelukkig is, poseer hulle soos dié een...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? GLY-GLY NA ONDER (bo). Diep in die Namib skuil daar reuse glyhelling­s, sommiges van meer as 100 meter lank.
OOR DIE KNIK (heel links). Wanneer jy oor die rand van ’n glyhelling leun, draai jou maag, maar daar is net een pad: ondertoe.
WAT HET GEBEUR?...
GLY-GLY NA ONDER (bo). Diep in die Namib skuil daar reuse glyhelling­s, sommiges van meer as 100 meter lank. OOR DIE KNIK (heel links). Wanneer jy oor die rand van ’n glyhelling leun, draai jou maag, maar daar is net een pad: ondertoe. WAT HET GEBEUR?...
 ??  ?? STRANDLANG­S (bo). Die koel lug en plat sand van die strand is ’n welkome blaaskans ná ’n dag se duine ry.
GEE VET (heel links). Om aan die ander kant van ’n diep duinkom uit te kom, moet jy behoorlik voet in die hoek sit.
STRAATSLAP­ERS (links). Die...
STRANDLANG­S (bo). Die koel lug en plat sand van die strand is ’n welkome blaaskans ná ’n dag se duine ry. GEE VET (heel links). Om aan die ander kant van ’n diep duinkom uit te kom, moet jy behoorlik voet in die hoek sit. STRAATSLAP­ERS (links). Die...

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa